Vir die wat glo …

  • 16

… glo dat die taal sal bly voortbestaan solank hy net gepraat word, julle misgis julle.

As slegs Engels by die werk, op vakansie (Sanparke se brosjures, inligtingstukke, alles, is net Engels), in die openbare lewe soos by munisipaliteite, staatsdepartemente en by restourante, kafees, wynfeeste, kaasfeeste, liefdadigheidsorganisasies ens gepraat word, gaan Engels naderhand ook by die huis gepraat word. En dit help nie jy sê jy droom in Afrikaans nie want mens dink of droom nie in 'n taal nie.

Luister maar na die werksoekprogram, mense gebruik die Engelse benamings soos welder, boiler maker, rigger ens. Hoe anders? Hulle praat dan glad nie meer Afrikaans by die werk nie behalwe miskien tee- en etenstye met mekaar.

Ek hoor dat die volgende gereeld oor die radio en televisie, beide deur omroepers en gaste, in onderhoude en advertensies gebruik word (ek praat nie eers van die stories soos Villa Rosa nie):

Konklusie in plaas van gevolgtrekking, kwaliteit in plaas van gehalte, promosie in plaas van bevordering, kwantiteit in plaas van hoeveelheid, intensie in plaas van bedoeling, gerandeer in plaas van waarborg, waksien in plaas van entstof, vir dit in plaas van daarvoor, op dit in plaas van daarop, oor dit in plaas van daaroor, van dit in plaas van daarvan, interpretasie in plaas van vertolking ens ens, daar is nog talle. Nou die dag praat 'n omroeper van potas in plaas van kalium en ook, as ek dit nie mis het nie, van sodium in plaas van Natrium.

Dan is daar nog die verkeerde grammatika ook, behalwe die 'vir dit' en 'van dit' hierbo hoor ek goed soos ' ... enigiets wat daar sou is ...' en ' ... hulle moet pienk truie aan het ...', die soort van ding.

Advertensies is erg, ouens praat van tou-jou-ta in plaas van Toyota, nissin in plaas van Nissan, mirsydies in plaas van Mercedes en wil jy glo, in een Afrikaanse advertensie praat 'n vrou van oulof bûgh in plaas van Olof Bergh! Ook hoor ek inbellers praat van tjoubie in plaas van Chobe, 'n rugbykommentator sê nou die dag daar was 'verkeerde nommers' in die lynstaan en 'die voorspelers kom in nommers daar aan', 'n omroeper (in 'n advertensie) praat van 'inlê' in plaas van 'laat slaap'.

Een van die omroepers sê nou die dag hy hoop nie ' ... jy sit in die verkeer vas nie maar as jy doen ...' kan jy dit nou oorvertel. 'n Nuusverslaggewer op TV het nou die dag na 'n skip verwys asof dié vroulik sou wees en so wrintiewaar 'n week of wat daarna doen hy dit weer. Daar is 'n advertensie oor iemand wat nie reg belê het om 'n sekere motor te koop nie en, toe hy weer sien, raap iemand anders 'haar' voor sy neus weg. Is daar nie taalversorgers vir e.tv-nuus nie?

Nou die dag was daar 'n onderhoud met 'n kletsrymer en Anton Goosen. Eers praat die kletsrymer en die Afrikaans is maar beroerd, deurspek met Engelse woorde. Ek dag toe netnou met Anton (soort van 'n held van my in die Afrikaanse musiekwêreld, volgens my een van die beginners van die luisterliedjie-era) se onderhoud sal die kletsrymer hoor hoe Afrikaans suiwer gepraat word maar o wee, daar is Anton toe nog erger wat die Engelse woorde betref; baie kakkerige Afrikaans gepraat. Hy's nie meer so 'n groot held van my nie.

Afrikaanse liedjies oor die algemeen is aan die agteruitgaan; elke tweede liedjie het 'bybie' of 'bybe' in, nou-nou net sing 'n vrou van ekkou in plaas van eggo, Adam Tas praat van 'n vrou wat die ou se vriend en 'lawwer' (in plaas van 'beminde') was en so gaan dit aan. Vanaand oor die nuus vra hulle 'n meisie wat sy van die lyke-uitstalling dink en sy sê 'ôsim, bietjie hoeheerd maar dis kehoel.' Wat de donner beteken dit?

So, vir die wat glo die taal moet net gepraat word is daar slegte nuus: Hy word nie meer gepraat nie.

Jan Rap

  • 16

Kommentaar

  • Johannes Comestor

    Jan, ek noem net enkele woorde wat ek verpes, na aanleiding van jou bostaande teks: konsep (begrip), issue (kwessie), kompleks (ingewikkeld), venue (lokaal), huidiglik (tans). Grammatika: was ipv is. RSG-advertensie: "Koe" ipv Koo. Volbladsy-advertensie in meer as een uitgawe van Finweek deur Santam: die teks is uitsluitlik in Engels. Red nou 'n taal met sulke mense.

     

    Johannes Comestor

     

  • Jan

    Ongelukkig is jy so reg. Op skool is ons gedreun in korrekte taalgebruik, maar ek is bevrees daardie era is verby. Deesdae is dit 'n geval van soveel mense soveel geradbraakte tale. Ek verstaan dat die swart tale net so deurspek is met Engels en invloede van ander tale.In die hutspot waarin ons ons tans bevind,is dit myns insiens 'n saak van onmoontlikheid,om die spulletjie weer om te keer.

    Tog moet ons nie moedeloos raak nie en aanhou om goeie taal te gebruik, al is dit elkeen op sy eie mishopie.

    Groete
    Perdebytjie

  • CorneliusHenn

    Nee Johannes, as jy die werf se dweper Kobus de Klerk oor die betekenis van die woord "kompleks" sou vra, dan  sal hy jou summier daarop wys dat dit "problematies" beteken. Dit blyk dat daar reeds 'n hele boek "Ware Afrikaanse Woordverklarings", vir hierdie farisese groep ware Christengelowiges bestaan.

    Voorts Jan, om die een die een of ander duistere rede verwar jy steeds Kaaps, met Afrikaans.  

    RSG is 'n Kaapse radiostasie. Hulle het selfs die Kaapse leuse naamlik "jou ma se...", vir baie lank in hul reklame daarvoor gebruik.

    Jan, hoekom skakel jy nie ook oor na Radio Pretoria [http://radiopretoria.co.za/luister/luister-aanlyn/] nie, en laat weet my wat jy van hul toegewydheid tot ons taal dink?  

    Boeregroete,  

    Cornelius

  • Cornelius, hier waar ek bly is daar geen ontvangs nie.  Om een of ander rede, so paar honderd treë van die huis kry ek die stasie op die karradio en dan luister ek wel Radio Pretoria (egter lanklaas gedoen).  Net een ding wat my irriteer van Radio Pretoria is dat van die omroepers en omroepsters ook hulle r'e anders uitspreek as hulle 'n Engelse woord sê.  Waarvoor op aarde weet geen mens nie.  Terloops, ek hoor Radio Pretoria is ook nie meer wat hy was nie; is dit so?

  • Wat ek graag by jou lys voeg is twee items waarvan mense wat die neiging het om tendense te volg die eerste is. Dit is een woord wat my irriteer want waarom word die pragtige woord 'neiging' byna glad nie meer gebruik, nie? Ek kan werklik nie onthou wanneer ek laas die woord 'neiging' gelees het nie! Nou het almal tendense.  As mens 'n neiging het, neig jy. En as jy 'n tendens het? Tend jy dan?

     

    Tweedens slegs 'n terloopse stelling, met betrekking tot wat jy van skepe sê. Vaartuie anker heeldag en aldag in my agterplaas. Ek woon op 'n skiereiland wat sowat 'n half-kilometer wyd is met 'n hawe agter my woonstel en die oseaan voor ons. Gereelde besoekende skepe is so bekend dat ons dikwels 'n skip herken nog lank voor die naam gelees kan word. Ek is in die gewoonte om van vragskepe te praat in die manlike vorm en na passasiersskepe verwys ek na 'haar' of 'sy' maw in die vroulike vorm. Die rede waarom ek dit doen is omdat vragskepe bonkige werkers is terwyl passasiersskepe pragtige lyne het en vaartbelyn gebou word. Die skepe wat ons aldag en heeldag raaksien is al so bekend dat dit ietwat te onpersoonlik is om van 'dit' te praat.

     

    Ons kan gerus onthou dat Latyn die enigste taal is wat glad nie groei nie omdat deur geen nasionaliteit gepraat word nie. Dìt skep egter geen rede vir Afrikaans om anglisismes as woordeboektaal op te neem nie.

  • Beste Jan, 

     
    Jy wil weet wat de donner dit met Afrikaans is. Ek sal jou vertel wat de donner dit is. Afrikaans is ? lewende taal, en soos enige lewende organisme, verander hy daagliks om by sy omgewing aan te pas. Dis pure Darwinistiese evolusie wat hom hier voor jou oë (en ore) afspeel. As Afrikaans nie deur aanpassing verander nie, sal hy in onbruik raak en nie meer kan kommunikeer nie. Latyn word nie meer as kommunikasiemiddel gebruik nie (behalwe stukkies fossiele daarvan), daarom verander dit nie meer nie. (Of is die omgekeerde nou waar?)   
     
    Ek weet die veranderende taal klink nie goed nie, maar dink net hoe die sewentiende eeuse Nederlanders in hulle grafte omdraai as hulle Afrikaans hoor. Kyk hoe word basiese grammatika verbreek deur Afrikaans: genitiewe (of is dit akkusatiewe vorme?) word sommer in die onderwerpsposisisie gebruik. (Om maar een klein voorbeeldjie te noem: dit sou nou verkeerde Afrikaans wees om te sê: “Wy praat  Afrikaans”.) 
     
     Vir my klink die Engelsrige Afrikaans ook maar kru, maar wat maak ? mens nou as Afrikaans naas Engels in Suid-Afrika bestaan? Evolusie vra nie wat is vir jou mooi of lelik nie; solank daar net aangepas word, knoei hy maar voort.  Kyk maar hoe Engels hom aanpas by waar hy ookal land. Suid-Afrikaanse Engels met sy paar duisend (ek het nog nie getel nie) Afrikaanse woorde klink anders as Amerikaanse of Australiese Engels. Selfs die Engels wat hier in Natal gepraat word verskil van die Engels oorkant die Vaal. My Engelse vriende daar in Londen wat spog met hulle Queen’s English, se tone krul behoorlik as hulle met Skotte of Iere praat.
     
    Kaaps is seker al 'n dialek van Afrikaans (en my tone krul ook behoorlik as ek dit hoor.) 
     
     Groete 
     Angus
  • Beste Jan,

    So 'n naskriffie. Onkunde is darem nie deel van evolusie nie. Een van die krieketkommentators het so 'n ruk gelede beweer dat 'n man maar moet aanhou werk solank  hy nog al sy simptome het. (Pleks dat hy hom liewer by die spel bepaal.)
     
    Groete
    Angus
  • CorneliusHenn

    Dagsê Jan,  

    Radio Pretoria spog gewis met van die mees bevoegde radiomense in hul diens.    

    Die omroepers praat pragtige AFRIKAANS!  

    Hul programme is van die hoogste opvoedkundige gehalte - veral bepaald tot ons Voortrekkererfenis.  

    Ongelukkig klink hul luisteraars gedurende inbelprogramme, of hulle vrede daarmee het om die Kaap se grense tot by die Limpopo te skuif.  

    Jan, ek het 'n spesiale data reispakket wat my instaat stel om, nie net gereeld te loer wat op ons werf aangaan nie, maar ek kan ook heeldag - elke dag op my gunsteling Internet radiostasies inskakel.   

    Radio Pretoria, is een van my gunstelinge.   Radio Tygerberg op die vlakte langs die Berg, is 'n ander.  

    Behalwe dat dit nogals 'n ligte luim met haar vermoë met humor kan skep, is Kaaps heel diensbaar om een uit jou pad te praat dat hulle dit nooit weer kruis nie. Partykeer as my geduld so 'n bietjie gly, weet ek darem ook minstens hoe om my Kaaps te gooi. Kapenaars maak net hul monde oop, dan wil 'n mens al lag. Ek kon egter nog nooit self by hulle grootste wapen "jou ma se...", kom nie.  

    Ek luister baie selektief na RSG. Saterdagoggende met Derrick Gardner, is altyd besonders. Ek het ook groot waardering vir al hul klassieke-musiek-programme. Die res van hul programme het eenvoudig geen gewig teen al die ander keuses op die lug nie.  

    Voorts luister ek ure lank op die pad, tot laat saans, na die Ingelse se 102.7 Classic FM.

    Jan, die dag is te kort, want dan is daar nog Radio Dei... doer ver uit Helsinki...  

    Die keuse is joune.  

    Boeregroete,  

    Cornelius

  • Jan, jy maak dit baie duidelik dat jy nie daarvan hou dat dat daar in geslagsvorm na skepe of motors verwys word nie, maar intussen het jy in jou heel laaste sin besluit dat ons moedertaal eintlik manlik is. Verduidelik asseblief wat jou sò laat besluit het.

  • CorneliusHenn

    ... Jan, en wyl ons vir mekaar oor ons taal op die senders sit en tik, het Oom Morkel van Tonder vanoggend in die rype ouderdom van 89 op 26 Maart 2013, gesterf. Morkel van Tonder was een van die reuse in die uitdra van Afrikaans oor Suid Afrika se radiostasies. Ek het groot geword met Oom Morkel se aansteeklike liefde vir ons taal. Oom Morkel het ook vele kosbare publikasies die lig laat sien. Dankie LitNet vir hierdie bydrae oor Oom Morkel in lewe ... http://www.argief.litnet.co.za/cgi-bin/giga.cgi?cmd=cause_dir_news_item&cause_id=1270&news_id=73167... Mag Jesus Christus onse HERE, sy siel genadig wees en self die Troos in die harte van sy geliefdes wees. Cornelius

  • Geduldig wees Jan, baie binnekort in die hemel sal jy al die Afrikaans kan praat wat jy kan hanteer...onthou got selwers is 'n Afrikaner omie...

  • Ek wil graag Angus se argument beaam, die idee van 'n taal sonder beweging en omvorming is net nie moontlik nie en is leenwoorde algemeen en wie het besluit wat die uitspraak van woorde moet wees, net so streeksgebonde verskille die norm is, sal dit verskil van die Kaap tot in die ou Transvaal. 

  • Nota: 

    Dit is juis geografiese verskille wat die oorsprong van verskillende tale soos dit ervaar word moontlik gemaak het. 

    Pidgen is hierdie land se voorland, watch en kyk, dit is around die corner ... 

  • Beste Jan,

     Iets het my gehinder i.v.m. jou brief, daarom maak ek dit weer oop, en toe sien ek wat dit is. Dit wil voorkom of jy nog nie mooi oor taal gedink het nie. (Let op, ek sê taal, nie Afrikaans nie.) 

     Jy sê: “Die wat  glo dat die taal sal bly voortbestaan solank hy net gepraat word, julle misgis julle.” Hoe so? Weet jy van enige taal wat nog gepraat word, en nie meer bestaan nie? laat my asseblief weet.

     Net daarna sê jy self dat as net Engels orals gepraat word, sal Afrikaans verdwyn. 

     Jou droomstorie verstaan ek ook nie. Wie het beweer dat Afrikaans sal bly voortbestaan as daarin gedroom word? 

     Feit bly staan: solank Afrikaans gepraat word, sal Afrikaans bestaan; nou wel nie die Afrikaans wat in 1857 gepraat is nie, maar nog steeds Afrikaans. Kyk net hoe Engels verander het. “Sothlicke sum maena haefda twei sona” is nou “A certain man had two sons.” Ek kan my net indink hoe die Anglo-Saksers met veragting sou neersien op hierdie kombuis Engels. 

     Groete

     Angus

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top