Waar was ek tien jaar gelede – gister – toe ek hoor van Johannes Kerkorrel. Die man wat in sý stem gesê het wat ék wou sê. Oor PW en Afrika en rykgatte en Hilbrow en die blouste blou berge.
Wat skryf en sing van die somer se dae wat soos heuning is, warm en lou. Wat die seën oor Nelson Mandela toesing met sy inhuldiging as die nuwe Suid-Afrika se eerste president in die woorde van Halala.
Johannes wat tien jaar gelede besluit het vir die aardse seer sien hy nie meer kans nie.
Ek onthou die volgende dag, die een ná ek die nuus gekry het van sy selfmoord, is ek musiekwinkel toe. Ek wou nóg van sy woorde en wysies hê. Alles vir oulaas. Alles net vir my.
Ek onthou die seunman agter die toonbank. ? Lang sening met hare wat wit oor sy skouers getou het. Ek onthou die tatoeërmerke op sy arms. Die een arm was heeltemal vol ink. Snaaks wat ek onthou, Johannes, gister tien jaar later.
Ek onthou ek het die tatoeërman gevra of hy weet van Johannes Kerkorrel. Dat hy dood is en dat hy dit self gedoen het.
Geen lig het in die tatoeërman se oë aangegaan wat sou wys dat hy enigsins weet wie en wat hierdie man was oor wie ek gevra het nie.
Ek onthou ek was op die plek briesend kwaad. So kwaad dat ek sonder enige weifel hom bo-oor daardie toonbank sou kon gryp. Maar ek het nie.
Ek het begin vertel van die Gereformeerde Blues Band se Eerste Alternatiewe Afrikaanse Rockkonsert, van Eet Kreef en van die Voëlvry-toer wat op byna al die toe Broederbondbeheerde en Afrikaanse kampusse verbied was.
Ek onthou ek het vir hom vertel dat Johannes Kerkorrel die mooiste liefdeslied ooit in Afrikaans geskryf het.
Ek onthou ek het vir hom aangehaal uit “Hoe ek voel”:
“As ek jou net kon laat sien
as ek jou net kon laat lees
sou ek n faksmasjien gaan huur
en gedigte vir jou stuur
en as jy anderkant dit kry
as jy dit uithaal en jy kyk
sou jy weet, jy sou weet
as jy teen die tyd nog vergeet
hoe ek voel, hoe ek voel
oor jou.”
Ek onthou die seunman met die touhare en die tatoeërmerke het, ná my passievolle vertel en voordra, geglimlag en gesê:
“Kerkorrel ... dis die coolste naam ooit!”
Nou volstaan ek Johannes, met jou vriendin Amanda se droom en se lied oor jou, toe jy weg is.
“Dan sit jy jou bord neer, lê jou kop op my skoot
Jy sê: "Moenie hartseer wees nie, ek is nie regtig dood
Solank jy my onthou, sal ek lewe in jou kop
en net jy kan besluit om die herinneringe te stop
En ek weet dat jy moes terugkeer na die ander kant
waar jy altyd jonk en vry sal wees en die lewe jou nie brand.”
Henriette Lamprecht

