
“Hier’s jy al weer,” sê Henriëtte, en druk Hannes se hand wat haar linkerhand vashou. Hy glimlag en vee haar gesig met ’n koel lappie af. Selfs al is sy al 45, bly hy nog haar ouboet, haar staatmaker, die een van wie sy geredelik hulp aanvaar.
Hulle is in die hospitaal se hoësorgeenheid, nes tien jaar gelede in 2008 se herfs. Destyds is sy raakgery toe sy onnadenkend terugtree in die pad na sy haar motor se band omgeruil het op die N2-snelweg. Dit was net voor die ou Athlone-kragstasie, die reuse-koeltorings nog in silhoeët teen die oggendson.
“Ja, al weer geroep deur die nommer op jou skenkers-disc.” Hannes swaai die hangertjie wat haar identifiseer as orgaanskenker en sê hy sal dit hou totdat sy dit weer nodig kry.
Henriëtte het nie krag om op sy tergery te antwoord nie, al is asemhaling nou effens gemakliker. Haar linkerhand lê op haar bobeen, die been wat destyds op verskeie plekke gebreek is. Sy was baie gelukkig die sjirurg het toe net begin om bene met titanium te vervang, die nuutste ledemaat-reddende tegniek.
Algaande kon sy aansterk, met die swembad-oefeninge haar spiere herbou, geleidelik van die krukke ontslae raak, en weer volspoed loop. Net soms nog gedroom van die ongeluk.
“Wat is dit met jou en die N2?” vra Hannes. Nou onthou sy hoe sy vanoggend probeer uitswaai het voordat haar motor deur ’n goederetrok getref is net waar sy wou afdraai. Sy sou ’n onderhoud doen oor die luukse hotel en winkelsentrum wat opgerig is op die ou kragstasie-perseel. Die afbreek van die koeltorings was vinnig, maar die stryd om die Athlone-rioolwerke oorkant die pad reukvry te kry, het lank geneem. Die was alles egter die moeite werd sodat so ’n moderne groen gebou en prag inheemse tuine uiteindelik in 2018 daar tot stand kon kom.
Hannes staan op toe die verpleegsuster kom sê die sjirurg is op pad. Sy knik tevrede na die monitor agter Henriëtte se bed. “Bly om te sien jou bloeddruk kom af.”
“Die pyn’s al minder, maar my arm is lood,” sê Henriëtte. Haar regterarm is gespalk en lê met wit mummieverbande om bo-op die deken.
Sy sien haar broer en die suster kyk vlugtig na mekaar, en die sak van sy skouers laat haar vra: “Wat steek julle vir my weg?” Sy probeer regop kom, maar sak weer terug van die pyn. Die dokter kom dan in, nog in sy teaterklere, met ’n groen jas bo-oor. Hy en Hannes skud hande en dan kom hy langs Hannes staan, sit sy hand vlugtig op haar skouer.
“Henriëtte, dit help nie om doekies om te draai nie. Jou arm is vergruis. Ek kan nie eens ’n titaniumvervanging oorweeg nie.”
Dit voel of ’n vuishou haar wind uitslaan. Sy wil die laken oor haar kop trek, maar kan net haar gesig wegdraai. Sy wil nie verder hoor nie. Sy’t geweet dis ernstig, maar het geglo die titaniumtruuk sal weer werk, haar weer heelmaak.
“Gewoonlik sal so ’n besering summiere amputasie beteken, maar daar is iets anders wat ons kan probeer,” sê die dokter, sy stem nou sagter, maar ferm.
Henriëtte draai haar gesig terug na die dokter, kyk na haar broer, wat dan haar linkerhand neem, weer langs haar gaan sit. Vaagweg hoor sy hoe die monitors aanhou tik, die sagte voetval van skoene, stemme en ’n telefoon wat lui.
Die dokter trek ’n stoel nader en gaan langs Hannes sit. Die suster bly aan die oorkant staan, voel vir ’n pols aan haar regterarm, hou dan net die gevoellose hand vas.
“Daar’s nog net ’n paar sulke operasies gedoen, so dis nog maar eksperimenteel. As dit nie werk nie, sal jy wel ’n amputasie moet kry. Ek weet jy’s ’n skenker en vandag is daar ’n kans dat jy die een is wat gehelp kan word.” Hy versit op die stoel, kyk af na sy hande en dan weer op om Henriëtte in die oë te kyk.
“Ek het die operasie self nog nie gedoen nie, en soos jy weet is daar ’n risiko van verwerping, maar ek sal die kans waag, as jy wil. Daar is ... ’n skenker, en die skenker se weefsel is ’n pas vir joune.”
Henriëtte kyk na haar broer. Hy sit vooroor gebuk, sy gesig bleek en sy hand nou sweterig in hare. Sy besef hy het al tevore die erns van haar besering ingesien, maar dat hy ook maar bly hoop het. “Is daar geen ander oplossing nie?” vra sy.
Die sjirurg skud sy kop. “Jammer, nee. En ons móét teen môre laatmiddag opereer, wat jy ook al besluit, want anders raak die risiko vir infeksie ook te groot. En as jy die oorplanting kies, moet ek die hele span vaskulêre en plastiese sjirurge en teaterpersoneel vandag bevestig. Die meeste van hulle sal eers na afloop van hul bespreekte operasielyste beskikbaar wees. So ek’s jammer daar’s nie baie tyd nie, maar laat Suster weet wat jy besluit of as jy meer vrae wil vra.”
Skenkers. ’n Band met ander wat mens gewoonlik nie voorsien nie. Sy dink terug aan haar ontmoeting met ’n skenkersgesin, vyf jaar gelede. Sy was weer langs die N2, dié keer om te kyk na die inploffing van die koeltorings in die winter van 2010. Sy het wye skote geneem van die omstanders, die opgewonde gesels in afwagting van die groot oomblik, die video ingezoem en gefokus op die stadige insinking van die torings in die stygende stofwolke.
Te midde van die “Wow!”-, “Awesome!”- en “Sjoe!”-krete en fluite het sy ’n pa en seun mekaar sien high five. Die ma het na haar kamera gekyk en nader gestap.
“Sal jy omgee om ’n foto van ons te neem?” het sy gevra en haar kamera aan Henriëtte gegee. Die gesin het mekaar omarm en gelag, die foto op die skermpie agterna bekyk. Die ma vertel toe dat vandag ekstra spesiaal is, omdat hulle hierna op pad is na die hospitaal. Die pa gaan sy nier aan die seun skenk. Henriëtte het vertel sy is ook ’n skenker, en het hulle voorspoed toegewens.
Nou lê sy met haar oë toe, probeer haar regterarm roer, maar dit voel of ’n rots daarop lê. Elke asemteug bly ’n bewuste handeling, ten spyte van die pynmedikasie. Sy maak haar oë oop, kyk na Hannes. “Wat dink jy?”
“Dis ’n kans, sê hy. Ek skat dis beter om die oorplanting te waag, al is dit die eerste keer dat hy dit doen. Jy weet mos hy hou by met die nuutste tegnieke. En as dit nie werk nie, dan moet dit maar ’n amputasie wees, wat hy gewoonlik in elk geval sou moes doen. Hoe voel jy daaroor?”
Henriëtte knik. “Ek’s gewillig, en ek weet ek’s in veilige hande. Sal jy die suster vra om hom te laat weet?”
Die volgende middag word Henriëtte in die helderverligte teater ingestoot en deur die teatersuster en narkotiseur begroet. Vir ’n oomblik sien sy die feetjiepienk bloeisels aan ’n amandelboom deur die goed-ge?soleerde venster in die teater. ’n Tiental mense is op verskeie maniere besig met voorbereidings. Sy word oorgetel op die teatertafel en kyk weg toe die narkotiseur die drup opsit in haar linkerhand. Haar sjirurg is nou besig om sy steriele klere aan te trek. Dan word ’n donkerkopvrou op ’n teatertrollie vinnig in die kamer ingestoot en langs die teatertafel parkeer.
Die narkotiseur spring op, maar voor hy iets kan sê, draai die vrou na Henriëtte: “Ek wou jou net ontmoet,” sê sy en glimlag die mooiste, sagste glimlag, so eteries dat Henriëtte haar hand met drup en al na haar uitsteek om seker te maak van wat sy sien. Die vrou het vaal kringe onder haar bruin oë, maar ’n sterkte straal uit haar gesig.
“Hoekom wil jy my sien?” vra sy dromerig, sien die sjirurg met die man langs die trollie praat, met sy steriele handskoenhande beduie.
“Ek wou jou sien, jy wat my arm gaan kry, sien aan wie ek ’n verskil gaan maak.”
“Maar jy lewe dan nog! Jy kan mos nie ’n arm lewendig skenk nie! Ek sal dit nie aanvaar nie, glad nie. Moenie, ek smeek jou. Ek’s links, ek kan sonder my regterarm klaarkom.” Henriëtte wil regop sit, maar sak met ’n kreun terug.
“Ek is ook ’n skenker. Ek gaan netnou bygestaan word met selfdood in die teater langsaan. En daarna gaan dit wat gebruik kan word, versprei word. Dan het ek nie verniet gelewe nie.”
“Nee! Moenie ... Hoekom, hoekom wil jy nou doodgaan?” vra sy dan, sagter, haar oë vas op die vrou, die res van die teater nou tjoepstil soos hulle na die gesprek luister.
“Moenie my uitvra nie, asseblief, ek kan net nie meer lewe met my depressie nie. Glo my, ek is 55 en het oor die jare al alles probeer. Berading, hospitalisasie, medikasie en ek kan net nie meer veg nie, my balans terugkry nie. Maar só kan ek ’n verskil maak, vir jare na my dood. Dis my enigste troos. Laat my toe om jou te help, asseblief?”
Henriëtte het haarself nog altyd in die rol van skenker gesien, en hier word sy so ’n onverwags direkte skenking aangebied. Self respekteer sy ook genadedood. As joernalis het sy deur die jare die debatte oor aborsie, die geen-resussitasie-beleid, die lewende testament, en eindelik die wettiging van streng beheerde genadedood gevolg.
Maar die vrou is, wel, nie liggaamlik terminaal siek nie. Maar duidelik psigies uitgeteer, lewensmoeg. Durf sy oordeel waarom mense verkies om met waardigheid die einde te kies, eerder as genoop te wees om in eensaamheid soms ’n grusame uitweg te volg?
Dan sit die man langs die trollie sy hand op die vrou se skouer. “Kom Engela, dis tyd om te gaan,” sê hy. “Dis my psigiater,” sê Engela. “Wees gerus, ’n groot paneel het my versoek gewettig, en my ma wag hier langsaan vir my. Ek wou jou net kom voorspoed toewens.”
Dan glimlag Henriëtte: “Dankie, Engela ... jy hét nie verniet gelewe nie.”
Met dié word die trollie uit die teater gestoot en Henriëtte voel hoe die narkoseverpleegster haar hand neem, die masker oor haar neus en mond sluit, en haar oë toegaan, al die pyn skielik weg.


Kommentaar
Pragtige verhaal! Dit mag dalk soos die toekoms voel, maar miskien is sulke oorplantings nader as wat mens sou dink.
Dankie Wicus. Arm-oorplantings word al gedoen, en ek hoop ander Engelas kry voortaan die opsie om 'n waardige selfdood te kies. Dalk in 2020 wanneer ons beter visie het?