Geheuekies 17, 18 en 19

  • 3

17 * * *

Ons ry weer iewers heen, ek dink see toe, en almal slaap want dis in die middel van die nag (die twee oueres is al uit die huis, die twee jongeres is in die kar). Voor my is 'n moerse trein en ek stop dat die eers kan verbygaan. "Pa", sê my dogter, sy moes wakker geword het oor die gesuis van die wiele opgehou het, "hoekom stop Pa?"

"Ek wag vir die trein om verby te gaan," sê ek.

"Dis 'n oorhoofse brug Pa," sê sy, "ons is op 'n snelweg."

18 * * *

Ek is by 'n mansrolbaltoernooi in Kroonstad. Die storie word jaarliks gehou en ouens van dwarsoor die land trek dan 'n naweek daar saam om ongehinderd te drink en natuurlik bietjie rolbal te speel.

Die paartie begin sommer met die aankoms die Vrydagmiddag en ek sien, met die eerste spel die Saterdagoggend, dat die lei teen ons, van een of ander weermagklub, bietjie hewig fles moes gevat het die vorige aand want sy oë was bloed-bloedrooi en sy kop staan half styf, so al asof hy sukkel om dié te draai. Só rooi was sy oë ek kon sweer hulle skyn twee sulke rooi kolle op die gras soos hy vooroor staan om die eerste bal van die spel af te lewer. Hy trek sy arm stadig terug om nou die bal af te lewer maar in plaas daarvan om sy arm vorentoe te bring begin hy stadig na links kantel.

Om sy balans te behou moes hy sorg dat sy massamiddelpunt tussen sy voete bly en hy was dus verplig om sy regtervoet na 'n punt links voor hom te plaas. Hy het egter aanhou kantel en moes toe noodgedwonge weer sy linkervoet voor sy regtervoet plaas om so sy massamiddelpunt tussen sy voete te hou. Teen hierdie tyd is hy al byna uit ons baan uit en op hierdie massamiddelpuntsoekende manier, kan jy maar sê, strompel hy toe verder in 'n halfsirkel heeltemal uit ons baan, oor die twee bane links van ons, spring op die wal, hardloop terug (teen die tyd darem al regop), neem plaas op die mat en lewer sy bal af, 'n raakbal nogal.

19 * * *

Ek en my broer, toe ons nog klein was, sit by die stoeptafel op 'n baie warm dag – 42°C, te warm vir buite speel – elkeen met 'n glas koeldrank wat my ma vir ons gegee het. Ek probeer iets teken en my broer, 'n hele paar jaar jonger as ek, verf prentjies met sy waterverf. 'n Groot perdeby kom aangevlieg en hang al om my broer.

"Sit net doodstil", sê ek vir hom, "hy sal jou niks maak as jy hom nie pla nie."
Met groot oë sit hy en kyk hoe die ding al om hom draai en toe jou wrintiewaar op sy arm gaan sit. Teen die tyd is my oë net so groot want die perdeby loop ewe kordaat heen en weer op sy voorarm terwyl sy agterent ritmies stulp, sy manier van vuiswys reken ek, ooglopend iets wat nie met hom sal laat skoorsoek nie.

Evenwel, na 'n halwe ewigheid styg die perdeby styg toe op en vlieg weg met so 'n draai. "Sien jy," sê ek, "mens moet net stil sit dan sal niks gebeur nie." Ek het egter skaars gepraat toe die perdeby 'n draai maak en reguit op my afpyl. In 'n soort van 'n refleksbeweging klap ek na hom net om eintlik wind te maak laat hy kan verder vlieg maar dis of hy my armgeswaai doelbewus systap en pypkan en, toe ek weer sien, het hy deur my verdediging gebreek.

Ek staan toe maar op om uit die ding se pad uit te kom maar met die dat die stoel toe vashaak in plaas van agteruitskuif stamp ek in die proses die tafel vorentoe. Ek kon nie aan die tafel vashou met die opstaan nie want ek moes nog steeds my arms gebruik om die perdeby weg te waai. Die gevolglike af- en omval en spat van koeldrank en waterverf en die geluid van glas wat breek en potlode wat val lyk dit my het toe die perdeby afgeskrik want hy was nêrens te sien nie.

My broer het gelyk of hy inligting wou hê maar omdat hy niks gevra het nie het ek ook maar niks gesê nie.

Jan Rap

  • 3

Kommentaar

  • Jinne - nogal oulik geskryf ook!

    Ek wonder nou net, dit is nou nadat ek kiekie 17 'n paar keer oorgelees het:  Wie het nou eintlik geslaap en wie was nou eintlik wakker - was dit die dogter of was dit die Pa?

    (Hierdie antwoord ken net 'Oom' Jan - of sal Jannie ook weet?)

     

  • Toemaar Jan, ek het al by 'n stopteken stilgehou en gewag dat dit moet groen word.

    Groete,

    Varkspek

  • Trienie, hoe kon ek nou geslaap het as ek die 'trein' gesien het? (Jy weet hoe dof is dinge in die nag).
    Varkspek, ek ken daai gevoel.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top