Kort van postuur. Fris. Arms soos boomstompe. As Sakkie praat dan moet jy mooi luister as jy hom nie ken nie want hy praat altyd vinnig. Beginne die sin hard en dan hier teen die einde van die sin is dit asof die wind sy woorde wegwaai. As hy lag dan vat-vat hy altyd so oor sy oë asof hy skaam kry. Mense wat hom ken weet eintlik soortvan wat hy wou sê as hy praat so ons kan gesels sonder ’n tolk. Harde werker, harde drinker. My soort ou.
Sakkie werk as trokdrywer vir die manne wat sand en klip ry. Sakkie saag hout as hy nie trok ry nie. Hy hou nie ’n Stihl net vas nie. Hy vat ’n Stihl. Kloof nie blokke met ’n lang byl soos ander manne nie. Hy staan op sy knieë met ’n voetlange byltjie en slaat net een hou en groot blokke spat uiteen. Dis daai arms, sien. As Sakkie die dag byl vat dan sit ekke neer. Sy blêddie goed is aldag stukkend. So ek moes weet hier kom ’n ding toe hy kom vra of hy een van my Stihls kan leen.
"Jy loop saag nie innie klip nie en jy gooi nie ou olie in die ding nie, hoor jy my?"
"Dja, djy worrie verniet," en toe bring hy my Stihl in stukke in ’n boks terug. "Djy saag met hierdie nuwe plestiek goed. Die goed word mos nie meer gemaak soos vroeër nie. Ek sal vir jou hout bring vir die regmaak, moenie worry nie."
En so bring Sakkie maar houte en ons vergeet maar vannie saag en dinge roer en Sakkie druk die bondel gedeelde note altyd argeloos in sy sak. Ek het hom al bekyk hoe hy die note deel, vinnig soos selfs ou Martino destyds hom nie sou kon nadoen nie. Want die deel wat hy afdeel is sodat vroulief nie moet agterkom hy skep so bietjie van die room af nie.
Ek wag van vroegoggend af al vir Sakkie want die manne wat daai sport waar die manne oor die halfronde balletjie spook wil braai en suip en vuur maak. Hy sou gisteraand al hier wees en is noggie hier nie. Mens vermoed maar dis die bottel grootwater en dalk, net dalk het mammie hom uitgevang dat hy geld wegsteek en sy klapperdop inmekaar gemoker. Want sien, beduie Sakkie my annerdag toe ek hom uitvra oor die knop oppie kop: "Djy mag staan maar djy maggie terugslaan nie. Die Boere sluit vir djou toe. Die hele naweek en Maandag kry sy honger en trekie saak terug maar ek moes loop mang hele naweek lank."
Ek vra hom toe hy so sukkel-sukkel en in paaiemente uit die bakkie vanmiddag klim of mammie hom weer vol knoppe geklop het en hy sê "Nee, dis my p**l man. Jy weet mos ek het hierdie (wat noem ’n mens nou die ding?) in my p**l. Dis om my te help p**. Maar die ding maak my snaaks as ekke oppie nes is. ***** dink hoeka ek kuier rond maar jy weet mos dissie so nie."
"Ja, Sakkie, ek weet. Daai jong enetjie wat annerdag so knap op jou gesit het het seker maar so gesit omdat sy bly was lat jy haar huistoe gevat het." Roer ek maar die tragiese storie wat besig is om vertel te word. Omdat Sakkie altyd so hard met sy sinne begin is die belangstelling nou al groot. "Ek is nou in die gesig hierso ..." As hy wit was sou ek reken sy gesig sou bloedrooi wees. "Ek was heelnag innie hospitaal. Sesuur vanoggend eers uitgekom. Daai susters weetie hoe dit is as jy nie kan p** nie. Ek is reguit vannie hospitaal af bos toe om te loop saag. Wees bly jy kry hout want mammie is erg die moer in vir my oor ekkie kon klaarmaak nie."
"Gaan jy nog ’n vrag bring, Sakkie?"
"Hoor jy nie in jou moer innie? Ek seg dan vir jou ek moet huistoe en loop klaarmaak!"
oester

