Lesersresensie: Brink het al beter as Philida geskryf

  • 1

Titel: Philida
Skrywer:
André P Brink
Uitgewer:
Human & Rousseau
ISBN:
9780798155212

Klik hier om Philida te koop by Kalahari.com.

 

As mens André P Brink se oeuvre ken, is Philida teleurstellend. Die hoofelemente in die slaweroman is reeds voorheen beter gedoen. Die slawe in Brink se Houd-den-bek is baie interessanter en daar is in Die eerste lewe van Adamastor en ook Sandkastele veel meer vitaliteit in die verwerking van ou Khoi-verhale.

Philida is die hoofverteller in die roman, maar dele word ook vertel deur Frans, sy vader Cornelis en ouma Nella. Daar is ook soms ’n derdepersoonsverteller aan die woord en in hoofstuk XXVII neem Philida dramaties die vertelling oor: “Dit is hier wat ek die woord wil oorvat. Want my storie staan nou end se kant toe en dis net ek wat Philida is, wat dit kan vertel, nie ander mense nie” (283).

Philida se stem is bekend: ’n opstandige vrou wat in gewone spreektaal vryheid eis, problematiseer en besing. Philida is die brei-slaaf op die Brinks se plaas, Zandvliet. Cornelis is die tipiese huigelagtige Afrikaner-patriarg wat sy vrou en slawe neuk. Al wat nuut omtrent hom is, is die probleme wat sy oumensklier hom bring en sy erkenning van ’n vrygemaakte slaaf as sy ma. Frans kon interessanter gewees het, maar hy word nie soveel spreekbeurte as Philida gegun nie. Sy kunsneigings word tipies deur sy vader onderdruk. Sy liefde vir Philida maak dat hy wil-wil rebelleer teen sy vader en sy gemeenskap, maar hy is meer skurk as held. Ek sou meer wou gehoor het hoe hy sy gedrag uiteindelik homself sou regverdig. Sy verloofde, die passievolle Maria Magdalena Berrangé, bring ook ’n oomblik van humor in die roman wanneer sy haar rokke tot die knieë oplig as belofte van die nagte wat moontlik vir hom wag indien hy getrouheid aan haar kan bewys.

Die roman speel af in 1832 net voor die slawe deur die Engelse owerhede aan die Kaap (of Caab, soos dit in die roman gespel word) vrygelaat word. Die slawe kan die vryheid sien naderkom, maar moet nog die wette van die slawe-eienaars gehoorsaam en onthou ook boonop wat met Galant gebeur het toe hy te gou op vryheid reageer het. Galant was die hoofkarakter van Brink se vroeëre roman Houd-den-bek, en Philida vertel wat met sommige van die deelnemers van die opstand gebeur het. Die slawe-eienaars vrees die ekonomiese ontwrigting en haal hulle woede op die slawe uit. Uiteindelik moet Philida vir haarself uitmaak wat vryheid is. Telkens kom sy tot ’n ander gevolgtrekking oor wanneer sy haar vryheid eintlik begin het. Is vryheid die emansipasie van die slawe soos deur die owerheid uitgeroep, ’n vryheid binne of buite ’n geografiese gebied, die vryheid om nee te sê of die vryheid om nie weer ’n byna onnoembare misdaad te pleeg nie?

Ten spyte van my gevoel dat Philida as geheel net ’n floue afskaduwing van Brink se vorige, vuriger werke is, was die roman ten dele tog ’n lekker leeservaring. Met Kleinkat gee Brink ’n mooi en akkurate verwoording van die speelsheid en sjarme van ’n grys strepieskat. Ek het die hele tyd verwag dat die kat wreed doodgemaak sou word en toe Frans die kat in sy mooi hokkie ver weg in die bosse smyt, het ek gedink ek was reg en was ek bly om die besonderhede van haar dood gespaar te bly. Tog het die kat weer gekom om aan Philida se voete met haar verbeeldingmaatjies te speel. Jammer Brink het nie in die outeursnota agterin meer vertel omtrent die kat Glimka nie. Die Khoi-stories van die trapsuutjies en Pieleman is in sigself prettige stories om te vertel. Philida se kamma-naïewe filosofiese vrae en Frans se beeld van die wind en die bome alleen maak die boek die moeite werd om te lees.

Die brei-motief as metafoor vir skryf en stories vertel is interessant. Philida weier om gebrei te word. Vir my was al die Afrikaanse brei-terme iets nuut. My familie het altyd in Engels gebrei. Hier kan ek ook byvoeg dat die broodpoedings wat ek ken, altyd rys en dan platval, en daarom maak die vergelyking van die gesin se tuisgemaaktheid (83) met broodpoedings wat nie uitrys nie, eintlik nie vir my veel sin nie.

Philida se ontdekking en aanvaarding van Islam is waarskynlik Brink se manier om implisiet kritiek te lewer op die anti-Islam-sentimente wat nou in die Weste hoogty vier. Positief is ook ’n grotere besef van die skade wat slawerny aan die psige van die Suid-Afrikaanse volk aangerig het en in dié opsig doen die roman veel om die geskiedkundige gebeurtenisse weer lewe te gee.

Tog was die roman ten dele ook irriterend. Die vark en die kekkelende trassiehen wat nooit haar eie eiers kan lê nie, is vermaaklik. Skrywers wat karikature van hul kritici in hulle romans inwerk, is sekerlik ook niks nuut nie, maar mens sou dink dat Brink die wysheid sou hê om die verleiding van sulke kleinlike wraak te vermy. Hopelik sal die kekkelende hen nie ’n roman oor ’n fabelagtige romantiese haan skryf nie.

Die groot verkragtingstoneel met al die besonderhede van organe het aanvanklik vir my onnodig gelyk. Daar was genoeg wreedheid met al die sambokhoue wat gedurig aan slawe en kinders uitgedeel word sonder om sulke uitspattige seksuele geweld nog by te bring. Daar is later in die roman geen ander verwysing terug na hierdie spesifieke insident nie. Miskien wou Philida dit vergeet en is die vergeet ook funksioneel.

Dit is nie heeltemal duidelik waarom Philida ’n klag teen Frans by die slawebeskermer gaan indien het nie. Is dit omdat Frans haar verkrag het? Maar later is dit duidelik dat hy haar nie onwillig gevind het nie en dat sy ook in ’n mate verlief was op hom. Is dit omdat hy belowe het dat hy haar sou bevry? Sy moes geweet het sy behoort aan sy vader en nie aan hom nie. Is dit omdat hy met ’n wit vrou sal gaan trou? Sy weet genoeg van die familiesake om te kon weet dat dit vader Cornelis se wens was.

Dit lyk asof Frans se gebrek aan handeling tydens die verkragting miskien die beste verklaring bied vir haar aanklag, en daarom is die insident wel belangrik, al voel die besonderheidsbeskrywing tog vir my smaakloos.

Dit is ook nie duidelik of Cornelis se poging om Philida te verkrag die enigste insident van so ’n aard was nie. Cornelis se fokalisasie impliseer dit was wel, maar as Philida sê: “Daardie stront van ’n Ouman het my nie genaai nie en hy gaan my nooit weer naai nie” (103), impliseer die “weer” ’n vorige keer.

Is Philida dus die moeite werd om te lees? Ja, veral as jy nog nooit Brink gelees het nie. Ek het nietemin al veel beter van hom gelees.

 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top