Ek gaan nie eens die voorletter van die man se naam noem nie. Want dit sal nie deug nie. Ek noem hom maar Piet.
Ek het vir Piet, of eintlik oom Piet leer ken so met sien hier en daar. Eers net dag gesê en later uitgevra want jy sien hom al meer, elke dag. Vir brood of melk of wat ookal. Fyn besnaarde man met mooi hanne. Nie hardwerk-hanne nie, hanne wat jy duidelik kan sien werk met mooi goete. So met die tyd saam het ek maar gehoor hy is die man wat doer naby die berg besig is om die kothuisie te bou. Hoog bo op die kop waar jy die Blou Dam kan sien en saans kyk jy uit oor die gewoel en die liggies van Oesterland. En tog weggesteek genoeg dat jy sy plekkie net van die pad af kan sien as jy baie mooi kyk en eitlik weet waarvoor jy kyk.
Praat altyd sag en bedaard en jy kan as hy sy mond oopmaak hoor hierdie man issie van hier rond nie. Hy kom van ver af. Maar met die tyd kom ek agter die man loop ’n baie alleenpad. Sy naaste buurman is, soos die manse beduie, nie altyd met ons nie. Kweek allerhande groentejies en raak sommer vir weke weg om dan sommer op ’n dag ’n kroeg in te strompel en kak te maak(daai is ’n storie vir ’n ander dag egter). Oom Piet het nie skottel nie en die TV-seine kom net nie behoorlik tot op sy koppie nie. Selfoon vang hy eers op as hy hier teen die hoogte begin afkom en Telkom se tegnikus was al hoevele kere daar om die foon te installeer. Oom Piet sit dus by sy kaggelvuur en sy droee rooi en sy boeke en mymer saans die tyd om.
Ek vra vir Oom Piet wat hy dan nou doen en hy beduie vir my: Blomme. Hy rangskik. Kweek nog nie want die glashuis is nog nie klaar nie. Ek vra rond en ek hoor hy kan toor met die goed. Blomme en struike en boombas en sommer grassade. Want hy stap in die veld en soos hy stap kom die ruikers so een vir een by hom op en die mense wat hom al gevra het beduie dat sy ruikers iets uit ’n ander wereld is en ek glo hulle. Oom Piet vra wanneer ek dan kom kuier en ek maak maar verskoning want die pad bergtoe is ’n riller en is nog erger as mens hom moet terug ry na wat Oom Piet belowe het te drinke gaan wees. Want jy weet mos so by jouself as jy iemand sien wat dors na geselskap. Iemand wat alleen is maar wat nie wil loop tussen mense wees nie.
Ek hoor so met die tyd saam dat Oom Piet homself maar afgekeer het van die mensdom af. Want hy en sy het al die planne in plek gehad en die tyd het hulle ingehaal en hy moes toekyk hoe sy wegkwyn en hy moes staan langs ’n oop graf en dis toe hy opgepak het en kom huisbou het op die grondjie wat hulle saam gekoop het en nooit by kon uitkom om klaar te maak nie. Nooit by tou uitgekom nie want daar was altyd iets wat voorgeval het.
Eendag klim hier ’n jonge man uit oom Piet se voertuig uit en ek sien die man en herken hom soort van en vra waar ek hom vandaan ken. Hy beduie niks en ek vra hom of hy nou vir Oom Piet werk. Hy knik en ek sien hy wil nie verder beduie nie en soos die gewoonte mos maar is stap ek na Oom Piet se voertuig toe en ons groet en ons praat oor die suikerbosse en die veld en die reen wat nou te veel opmekaar val en hy vra so, terwyl die jongman inklim of ek al vir Jan ontmoet het. Ek beduie dat ek hom ken van ver af en dat ek hom nou weer leer ken het.
"Jan is my vriend, en hy help my maar met die goedjies op die plaas. Hy is goed met die ruikers en hy sorg dat die mense my ten minste betaal."
"Dis cool, Oom Piet, ek dink in elk geval jy is te alleen daar op die plaas."
"Dis nie lekker nie, en jy kom nie kuier nie."
"Oom weet mos maar hoe die ure in hierdie tronk werk. Want dis mos maar ’n tronk sonder deure hierdie."
Ek kyk hom so wegry en ek het nie meer nodig om bekommerd te wees oor Oom Piet se alleenheid nie. Want ek sien so met die wegry hoe sy hand die jonge man se hare deurmekaarkrap. En ek is bly, want ten minste het die ou man nou uiteindelik weer iemand gevind.
oester

