Nuwe Stories 2013-kortverhaalwedstryd: Eerste weergawe van "’n Kis vir Boel"

  • 0

Die eerste weergawe van Human & Rousseau en LitNet se Nuwe Stories 2013-kortverhaalwedstryd word anoniem geplaas.

 


 

’n Kis vir Boel

Jare gelede, toe ek ’n jong man was, het die Here dit goedgesien om my pa van ons af weg te neem. Ek en ma was oor, en al die skuld wat pa ons nooit van vertel het nie en wat hom einde ten laaste die graf in gedryf het, het nou op my skouers kom rus. Ma kon nie werk nie en my karige sewentien lewensjare het my nie noodwendig vooruitgeloop nie, maar soos die lot dit wou hê, het pa se begrafnisondernemer juis op daardie moment ’n assistent nodig gehad.

Piet Skoorsteen sit teen die rant van die Krokodilrivier aan ’n appelstronk en suig wanneer die drie so ewe hemploos daar aangeloop kom.

“Kyk wie’s hier,” sê Jako.

“Wat eet jy, hè?” vra Ig.

“Dit was ’n appel,” sê Piet en gooi die ding weg.

“Het jy iets gesien?” vra Joe, want die ou het ’n manier om alles te sien en dit dan op die dorp te loop vertel.

“Nee,” sê Piet en vryf sy geswete vingers oor sy kakiebroek.

“Ek dink ons moet hom donner, net vir in case,” sê Ig en begin dan na Piet se kant toe staan. Joe knik en vat die man aan sy verslete hempsmou, maar Jako lyk nie baie entoesiasties nie.

“Dink julle nie dis ’n bietjie oordadig nie?” vra hy.

Joe gee hom ’n vuil kyk en vra of hy ’n papgat is.

“Nee,” sê Jako en laat val dan maar die eerste hou.

Piet hyg net, maak nie ’n geluid verder nie, maar bliksem word hy gebliksem.

Wanneer Ig hom eindelik laat gaan, skop hy hom van agter af. Piet struikel, sy kop tref ’n klip en hy staan nie weer op nie.

“Staan op, jou niksnuts!” Dis Joe wat hom dié keer skop. “Staan op!”

Dan raak Ig en Joe bewus van die ding agter hulle. Hy’t gelerige slagtande en die snot trek aan sy bek waar hy waarskuwend oor Jako staan. Teen die tyd dat hulle die totale prentjie inneem, kom die walms stank hulle al tegemoet.

“Voertsek!” skree Ig, maar die hare rys op sy arms.

Piet kreun agter hulle en dit gee impetus vir Joe om die ondier te probeer skop. Die gevolge is brutaal.

Die hond, wreedheid in sy oë, gryp Jako aan die keel en met enkele rukbewegings verwyder hy sy strot. Die naarheid wel op in Ig, wat verward bly staan. Joe het hom reeds uit die voete gemaak.

Oomblikke later, wanneer die dier eindelik tot bedaring kom, verskuif sy blik na Ig. Dié het homself natgepis. As hul oë ontmoet, verstaan Ig die verwronge boodskap in die ander. Hy retireer, hou die oë dop en wanneer hy eindelik ver genoeg is, nael hy dorp se kant toe.

Die dier kom lek aan Piet, wat in ’n beswyming is. As dit nie werk nie, blaf hy.

Piet keer terug uit ’n droom, maar die werklikheid slaan sy wind uit. Die pyn is ondraaglik. Hy is amper seker sy kakebeen is uitgehaak en sy neus is gebreek en enkele ribbes maak steekpyne as hy hygend asem skep. Deur suisende ore gewaar hy mettertyd ook die hond, die bloed steeds aan sy bek. Sy eerste gedagte is dat die hond dol is, maar dan, dink hy, sou hy lankal gebyt gewees het.

Dit is wanneer Piet steunend regop kom dat hy besef waar die bloed vandaan kom.

Die hond het hom beskerm.

Dit gons op die dorp oor die hond wat vir Jako doodgebyt het. Sy ma-hulle plaas ’n berig in die koerant waarin ’n beloning aangebied word vir enige informasie aangaande die dier.

Joe ly aan skok wat suikerwater of rosyne nie kan regdokter nie. Hy moet uit die skool bly, sê meneer Martyn, die dorpdokter, en daar moet ten alle koste weggebly word van diere af. Die Benadés moet kwansuis van hul eie honde ook ontslae raak.

Ig wil ook nie skool toe gaan nie, want toe hy by die Salon verbygehardloop kom, moes die meisies almal gesien het dat hy homself natgemaak het. Só sal hy nie weer sy naam ruk nie.

Piet Skoorsteen is skoonveld. Hy daag Maandag nie vir werk op nie, Dinsdag ook nie, en teen Woensdag wanneer die armgat-Besters die polisie ontbied, is dit al algemene kennis op die dorp dat hy wat Piet is seker iets met die Benadé-kind se dood te doen gehad het.

’n Soektog begin. Die manne van die dorp haal hul gewere uit, maak dit skoon en bewonder dit nadenkend, elk met die hoop dat hý die een is wat die skarminkel sal vastrek. Die vrouens gis en skinder oor dié Piet wat almal dan só kon vertrou sommer so spoorloos verdwyn het na Jako se dood. Niemand vra vir Ig of Joe wat gebeur het nie, want die arme kinders is dan alreeds deur so baie.

Vrydagaand vaar die mob die ruigtes langs die rivier in, want dis daar waar Piet se verdwyning plaasgevind het.

Elkeen se ore is gespits vir ’n onverklaarbare geluid of beweging wat vir Piet Skoorsteen kan verklap. Die riete ritsel in die wind. Iewers herkou ’n tarentaal aan sy aandgesang. Een van die ou mans sien iets aan die ander kant van die oewer blink en trek ’n skoot af. Die manne skrik; verdere skote word afgevuur. Jan Groenewald word in die knie geskiet en die soektog word voorlopig gestaak.

Wanneer die reëntyd kom en die rivier kom af, is daar nie ’n man wat nie op die oewer staan met ’n visstok nie. Daar word babers en geelvis, karper en modderbek uitgetrek, maar die helfte moet teruggegooi word omdat hul te klein is. Die ding met Jako is nou amper vergete. Twee jaar het verbygegaan. Twee seisoene van visvang en jag en twee winters se swartryp op die gerwe. Joe het oor die ding gekom; hy’s sy ou self, sê Liena wat vir sy ma kook en stryk. Selfs die honde is terug op die werf.

Ig is die populêrste ou in die skool en gaan uit met Magriet van der Walt, die mooiste meisie in die kontrei. Sy’t laas jaar Mejuffrou Lemoenbloeisel gewen en die ouens staan tou om haar uit te neem. Die nuwe Piet Skoorsteen se naam is eintlik Johannes, maar almal noem hom Piet oor dit gewoonte is. Hy het nie Piet se hande nie, doen nie Piet se werk nie, maar hy kry Piet se geld en verblyf. Dit maak nie regtig saak nie – iemand moet die werk doen.

Joe en Ig drink melkskommels en eet hamburgers in Adam se Kafee wanneer Gielie, die bakker se laaitie, by die plek ingehardloop kom.

“Kom kyk! Piet Skoorsteen is terug en hy’t die hond by hom.”

Ig se gelaat raak so blougrys, maar Joe kry moord vanself in sy oë.

“Vandag bliksem ek daai swarte dood,” sê hy en storm by die deur uit.

Ig voel aanvanklik te lam in die knieë om te volg, maar staan dan tog op.

Dit is sowaar Piet Skoorsteen wat by die meule instap, die hond aan sy sy.

“Middag, Meneer Benadé,” sê hy met die intrap by die deur. Die man se verdwaasdheid gee vinnig mee en maak plek vir woede.

“Wat maak jy hier, Piet?” vra hy.

“Ek het kom praat oor die kind,” sê Piet en trek die ou stuk hoed van sy sweterige voorkop af.

“Daar’s niks om oor te praat nie, Piet. Daai hond,” en hy mik vir die hond, “het my Jako van ons af weggeneem.”

“Ek moet kom sê, Baas. Ek moet die waarheid sê.”

“Watse waarheid? Ek het sy lyk met my eie hande by die rivier gaan optel.”

“Die kinders, hulle het my geskop. Boel het nie geweet nie.”

“Toe laat jy jou hond toe om my kind dood te byt?”

“Hy was nog nie my hond nie. Ek was unconscious toe hy hom gebyt het.”

“Dis ’n kakstorie,” sê meneer Benadé.

“Pa! Dís die hond,” val Joe met die deur in die huis in, maar verstrak dan as hy vir Piet sien. “Jy beter jou bek hou,” sis hy sylangs.

“Ek stel voor,” sê meneer Benadé, “dat jy en jou hond vandag nog julle ry kry, want as ek vanaand by die huis kom, haal ek my drie-nul-drie uit die kluis en dan sal daar geen genade wees nie. Nie vir daai hond nie, en ook nie vir jou nie, Piet Skoorsteen.”

Piet kry sy ry, maar mevrou Benadé is so woedend as sy uitvind hy was by die meule dat sy haar man en twee swaers aansit om hom te gaan soek en eens en vir altyd daai hond uit die weg te ruim.

Drie dae lank is hulle weg – die mans, Joe en twee van die Rottweilers – en in daai tyd word daar die dorp vol gebid dat Piet en die hond gevind sal word sodat daar skadevergoeding kan wees vir die lewe wat hy geneem het.

Wat van Piet, wonder die mense hardop. Moet hy nie tronk toe gaan nie? Dit is immers sý hond wat vir Jako se dood verantwoordelik is.

Wanneer die mans eindelik terugkom, het hulle die hond in ’n streepsak.

By die huis word die hond op die kombuisvloer uit die sak uit gedop sodat mevrou Benadé rus vir haar siel kan kry. Dan word hy na die dorpsplein gebring, sodat almal kan sien wat gebeur as jy met die Benadés mors. Al die pad kom Piet huilend agterna, sy hande en voete in kettings, sy ou gesig verkreukel van die baie son en harde werk en van die pyn van Boel se dood. Wanneer die wraak kompleet is, word Piet by die polisie aangegee. ’n Sel is sy voorland.

Die landdros vra die vrae, want die luitenant-generaal is met vakansie.

“Het jy die hond beveel om vir Jako te byt?”

Piet vou sy gesig in sy hande, kom dan op vir asem. “Nee,” antwoord hy rou.

“Waarom het die hond aangeval?”

“Hy wou my beskerm.”

“Waarteen?”

“Die kinders het my geskop en geslaan.”

“Was dit vóór of ná die aanval op Jako?”

Dit was voor die tyd. Hy was bewusteloos tydens die aanval.

Die landdros bekyk hom, vra dan of hy lieg.

“Nee,” kom die antwoord skor, hy het nie rede om te lieg nie.

Dis Ig wat die hond kom haal, toedraai in ’n ou kombers en op sy rug huis toe dra. As Piet Skoorsteen uitkom, sal hy hom om verskoning vra en hom help om die hond te begrawe. Maar Piet kom nie uit nie. ’n Dag of wat later is dit in die koerant dat Piet wag om gevonnis te word. Ig sal maar self die hond moet begrawe.

Dit is ’n halfgrootte wit kis wat ek vandag in die ontvangslokaal moet instoot. Daar staan ’n ouerige swarte, ’n wit kind en ’n kleurlingmeisie met grys oë en wag as ek inkom.

“Ons kan maar begin,” sê oubaas Hanekom en vat my aan die arm. “Moenie lag nie,” fluister hy ernstig en haal dan ’n Bybel onder sy arm uit.

“Dit is met groot hartseer dat ons vandag hier bymekaar is om afskeid te neem van Boel,” sê hy.

Die swart man begin snik en die meisie plaas haar fyn handjie op sy arm.

“Boel,” gaan oubaas Hanekom voort, “wat sy lewe gegee het om ’n ander s’n te red.”

Dan besef ek ons is besig om ’n hond te begrawe.

Terwyl die kissie grond toe sak, gooi die kinders hondekoekies en speelgoed af en ek wonder waarom die swart man bereid was om so baie geld op ’n kis vir ’n hond te spandeer. Dit is die meisie se oë wat myne ontmoet terwyl die man en seun die eerste paar grawe skep.

“Wie se hond was dit?” vra ek wanneer sy langs my onder die sambreel kom staan en ’n botteltjie begrafniswater drink.

“Syne,” sê sy en knik na die ou man.

“Hoekom wou hy hom só begrawe?”

Sy vryf effens beskermend oor haar boepmagie en begin dan die storie te vertel.

Wanneer die twee mans aangestap kom, kry ek die gevoel sy wil nie verder daaroor praat nie. Ek maak my reg om my werk te gaan doen; trek my baadjie uit en hang dit oor ’n verdwaalde plastiekstoel.

Die jong man kom haar tegemoet en soen haar op die wang.

Sy vou haar arms om sy nek en trek hom nader na haar toe.

“Dankie,” hoor ek haar fluister. “Dankie dat jy die waarheid vertel het.”

 


 

Lees Leti Kleyn se keurverslag

Terug na die lys Nuwe Stories-kortverhale

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top