Die nagruim bo die Mopaniestrook bosveld, is van die oopste en helderste in die Limpopo streek. Hierdie stukkie paradys met sy groot 5, l? koesterend tussen kloof en voet van die Drakensberge oppad Hoedspruit toe.
Vroeg-vroeg, nog voor die son sy eerste straal teen die bergkrans flits, klouter ons op die oop 4x4 wildbesigtigingsvoertuig. Die Jeep kloof diepspore in die sand van die breë Kunyenami-rivier waarvan die stroom nog sterk loop. ‘n Belangrike teken dat daar regdeur die jaar genoegsame weivelde vir die wilde diere sal wees. Terwyl ons die oorkantste oewer uitkreun, blaas ek asem uit. Ai, die bosveld bly maar ‘n avontuur en heerlikheid wat vir enige siel genesing inhou.
Ons vier is oppad na die Indlovu-watergat. Want daar is baie voëls. Die veld is asemrowend groen en hang daar afwisselende reuke van diermis, grasspriete en katpiepie. Die savanna’s is oortrek met rooi en wit veldblommetjies. ‘n Knypie in die oggendbriesie dra die belofte van ‘n seisoen wat besig is om te draai en groot lafenis inhou na die bedompig en bloedigwarm somermaande. Op die oop voertuig vou ek die kniekombersie styf om heup en knie, en is daar genoeg grootwild langs die pad om enigiemand te laat glimlag. Waar is die olifante, wonder ek, gewoonlik is ek en hulle nie baie lief vir mekaar en weet ek hoe dit voel om deur ‘n grootvoet gejaag te word.

Gewapen met kamera, verkyker en voëlboek, wil ons vandag die oog van die visarend deur die lens vasprent. ‘n Wenkiekie kom egter nie maklik. Tog soms, onverwags. Want vir die perfekte portret moet jy probeer om die dier se oog in die foto vas te vang. Nog beter as daar ‘n vonkel ook in die oog bykom. Want dit spreek van sprankel en lewe. Verder speel beligting, posisie, fokus en agtergrond-plasing in die toneel ook ‘n groot rol. Jy kan tot 100 foto’s van een diersoort afneem voordat ‘n wenfoto skielik uitspring! Tyd is egter min, en beplan ons net twee dae en een nag op die plaas. Die helder sonskyn wat deurbreek voorspel egter ‘n gelukkie-dag vir foto’s neem.
Kyk na die oog van die tarentaal en haar kroos hieronder. Alhoewel hulle direk na die kamera kyk, is die kop weggedraai wat enige vonkel toesluit. Alhoewel die tarentaal alombekend is in die bosveld word hul baie gejag vir hul vleis. ‘n Tipiese bosveld-hoender. Daarom is hul vandag ‘n bedreigde spesie in die Vrystaat en Kwazulu-Natal omgewing. Die tweede foto is beter met die kop perfek gedraai asook blink-vonkel vasgevang in die oog, maar ai, nou is die fokus weer nie 100%.

Vir my bly die tarentaal besonders met hul blou nek en gesig, rooi helm en horingagtige uitgroeisel op die kop. Dit lyk kompleet of hul voortrekker-kappies dra en vertoon hul verebos nes ‘n hoepelrok. Kyk net die presiesheid van die wit gespikkelde kolletjies op die pikswart vlerke. Aanskoulik!
Wow, hieronder is ‘n vleiloerie. Met sy stewige snawel en robynrooi oë. As slakvreter is hy ‘n groot aanwins in tuine maar plunder neste van ander voëls en vreet die eiers en neskuikens. Baie dankie vir die vonkel vasgevang in altwee oë op die 1ste kiekie, maar dink ek dat die tweede een met sy enkel oog beter vertoon.

Kan jy die visvanger sien in die droë boom hieronder? Dit gee jou ‘n goeie idee van ‘n afstand tussen voël, kamera en menslike oog. Krag-lense trek egter enige besonderheid nader, sodat jy selfs die naaldekokers wat aan die oorkant onder waterplante sit, op heterdaad betrap. ‘n Digitale revolusie wat vir enige Jan-Rap en sy maat fotografie toegankliker maak. Soms hou die donkerkamer vele verrassings in. Kyk na die rooi naaldekoker hieronder asook die ankerplek van sy stert. Wat ‘n posisie!

Daar is verskeie watergate langs die riviere af, wat nou weer hul oorsprong vanuit die Olifantsrivier het. Elke drinkplek het sy eie unieke inwoners van klein- en grootwild. Na die somerreëns is alles omsoom met grasse, bosstruike tussen swart massiewe dolerietklip, mopanie en wildevyboom. Voorwaar ‘n fees vir enige oog. Die wateroppervlaktes krioel van lewe as gevolg van vis, waterskilpad, eende, krokodil en menig insekte.
Hieronder is ‘n Europese byvreter met sy besondere reënboogkleure van ‘n groen-rugkant, geel keel, kaneelkleurige onderkant en ‘n swart borslappie. En kyk net die blou ‘eyeshadow’! Die vonkel in die oog is goed vasgevang en toon selfs die kenmerkende blinkstreep op die snawel. Maar, die grasstingel voor die voël se stert bederf alles. Jammer - geen wenfoto.

Die bruin hamerkop hierbo regs, spieëlbeeld in die water, en toon dat skakerings van bruin net so uniek vertoon. Agter aan sy kop is ‘n wegstaankuif en maak hul gewoonlik reuse koepelvormige neste in die dooie bome naby of oor die water. Dit is die swart snawel wat sy kop soos ‘n hamer laat lyk.
Bo-op die damwal voel ons veilig. Onder ons l? en loer die Chompvreter en sy makkers na ons. Sommige baljaar in die vlak waters. ‘n Defnitiewe bewys dat jy liewer veilig in die voertuig moet bly sit. Die seekoei is een van jou gevaarlikste diere, vernaam snags as hul begin uitklim om buite te wei. Daar word baie inwoners elke jaar gedood om hierdie riviere. Ek wonder nog steeds waar is die olifante?

Aan die oorkant van die oewer langs ‘n dooie boom, l? ‘n kleinerige krokodil salig in die vlak warm water. Stil monitor hy die lewe om hom en wag ook vir sý kans om ‘n stukkie vleis in die tand te kry. Skielik is ons pragdag verby en vou die berg homself toe in ‘n miskombers. Dit is tyd vir die nagdiere om uit hul gate te kom, en die vonkel van húl oë in die maanskyn te wys. ‘n Teken dat ons huis se kant toe moet staan waar die tjoppies al gesout is, en in coke-sous marineer. Vanaand bou ons ‘n groot kampvuur teen die koue.

Die volgende oggend gaan soek ons na die leeus wat blykbaar naby die kwarantyn-boma opgemerk is. Binne hierdie kwarantyn word 3 nuwe jongwyfies aangehou wat vanuit die Kaap arriveer het. Daarom die rede vir die ouer trop leeus se teenwoordigheid in die omgewing. Diere wat aangekoop word moet tenminste 4 maande afgesonder word om eers aan die omgewing en ander diere gewoond te raak, voor vrylating. Dit rede is hoofsaaklik om ‘n nuwe bloedlyn in te teel.
Die foto’s onder dra dus ‘n hartseer storie. Zero, met sy donker rooibruin maanhare is vir jare al die vors-koning, die alpha-mannetjie van hierdie oerwoud. Grasieus en gespierd. Vandag is hy egter oud. Alhoewel sy voorkoms nog pragtig vertoon, spreek die mank in sy stap van ouderdom. Hier onder l? hy omring met sy wyfies. Wagtend, staar hul na die nuwe reuke vanuit die kraalheining.
Die dag wanneer die jong wyfies vrygelaat word, sal Zero nie daar wees om hulle te ontvang nie. Hierdie voorreg sal aan Alpha (nie regte naam), die jongeling, behoort. Ons skrik toe hy opstaan en reg voor ons kom l?. My hart spring in my keel, maar weet ek hier is nuwe wenfoto’s oppad! Daar is alreeds ‘n astrante: “bly weg hier” houding, wat ‘n teken van bloubloed is. Alpha die jong maanhaar, is Zero se opvolger as koning van hierdie oerwoud. ‘n Formidabele roofdier in wording. Uitverkies bo baie om ‘n nuwe geslag aan te kondig. En vir ons sal daar nog vele tye aanbreek om die vonkel in sý oë op geheuekiekie vas te l?. Al voel dit of die kamera vir nou, geen skuiling tussen jou en hom bied.

Die oue is verby, die nuwe het gekom. Net jammer dat niemand belangstel in ‘n ou leeu nie. Hier bly kan Zero ook nie, dit sal ‘n geveg tot die dood beteken tussen konings wat glad nie ‘n waardige manier is om te sterf.
Oom Piet (nie regte naam) het egter ‘n blink idee. Hy wil Zero laat opstop en hang langs die buffel, eland, luiperd, bosvark en seekoei in die voorportaal. Dit ontstel my verskriklik! Ek hou alreeds nie van die ander opgestopte diere nie. Want daar is geen sprankel of vonkel in die oog. Net dowwe dooie oë wat snags na jou staar oppad badkamer toe.
Die ander dink dit is ‘n uitstekende idee. Vir my voel dit of jy net sowel jou beste vriend na afsterwe kan opstop en aan die muur hang. Agnee!
Maar Zero sal altyd onthou word as die leeu met die mees verdraagsame en omgee-geaardheid. Hy het sy nakomelinge goed grootgemaak. Sy wyfies teen vele gevaar beskerm. Hy sal onthou word vir sy oorverdowende gebrul in die nag wat menig mens en dier in hul bed laat omdraai het. Dit voel behoorlik of so ‘n gebrul die hele bosveld onder jou bed laat bewe, net om opgevolg te word met ‘n spookagtige, doodse nagstilte.
Terwyl ons wegry daarvandaan, wonder almal of dit hul laaste foto’s van Zero was. En dit terwyl die vonkel in sy oog besig is om te verdof?
Oppad terug kom ons op hierdie twee jong renosters af. Stropers het hulle darm nog nie geteiken en ontwikkel hul horings mooi. Alhoewel die renoster bysiende is, vergoed hul sterk ontwikkelde reuk- en hoorsintuig daarvoor. Die geluide wat die renoster maak is soms ‘n hoë skreeugeluid wat glad nie by hul bonkigheid of stilswyende gegrom en geknor pas.

By Croc-dam tref ons die olifante aan wat speel en stoei in die koel waters met hul kolos-lywe en veelsydige slurpe. Wat mooi is van die olifant is sy omgee geaardheid teenoor ander beseerde olifante. Hulle sal self die kalfies wat wees agtergelaat word aanneem. Voorwaar kan die mens by die olifant leer.
Geniet jou lewe hier op aarde. Moenie vergeet om die prag en die praal van natuur en dier raak te sien. Bewaar ons erfenis vir die nageslag en heers oor die diere van die veld soos deur God voorgeskryf. Laat toe dat die Skepper se skepping ‘n vonkel in jou oog opwek.
Die aandfoto hieronder wat goud in die boom dra, is tydens dieselfde naweek geneem. Die foto regs met die rooi son, het ek gisteraand in die stad afgeneem oppad huis toe. Kyk dus om jou rond. Oral is sprankel en sonskyn in jou w?reld. Gee lewe aan ander, dit is verniet, moenie doodmaak met woorde.

Al my liefde.
Trienie
(Ns: Sommige plekname weerhou a.g.v. renosterstropery)


Kommentaar
Dankie Trienie
Jou storie en foto's is pragtig! Ek stem saam met jou dat dit aaklig is om enige dier opgestop teen 'n muur te laat pryk. Ek is sommer dadelik vies as ek in so 'n plek kom. Dis sommer disrespekvol teenoor die eens pragtige dier, om op so 'n onwaardige manier deur die mens onteer te word!
Groetnis
Perdebytjie