My liefste Lief
Hoe het ek nie na jou verlang nie … Ek kon nie meer jou blink oë sien nie. Ook nie jou lag hoor nie. Jou vinnige voetstappe was stil. Ek het uitgereik na jou, maar jy was nêrens. Ek moes toelaat dat jy worstel met die onbekende vreemdeling binne-in.
My siel het gesmag daarna om jou hartsgeheime opnuut te leer ken en van nuuts af uit te vind wat dit is wat jou oë laat waserig raak. Lank, te lank, was ons geskei, maar diep binne-in my kon ek roeringe voel dat die tyd aangebreek het om te herenig en saam ons liefdeslied te sing. Ek kon nie wag tot ons harte weer kan saamlag nie, met ons oë gerig op die nuwe dae van nou leef.
Was dit ’n leeftyd? Jy het op jou eie getreur oor jou woedende kind ver oor die water. Ek mog nie nader kom nie. Jy het jou wonde oopgekrap om te probeer verstaan, en ek moes jou magteloos toelaat. Jou trane het helende salf geword wat aanhou bly vloei het, en jou moedelose uiting, “wanneer hou dit uiteindelik op” het my stom gemaak. Jy was nog te ver, en ek was verskrik deur jou wroegtende hartverskeuring. Soms was daar vlamme en vagevuur, wat beter was as die swart skaduwee.
Ek weet jy wou bitter graag verstaan waarom alles gebeur het. Toe op ’n dag staan jy saggies op en besluit om jouself te red, al verstaan jy steeds nie. Jy het my saggies en nederig nader geroep en ’n innige gebed opgestuur. Jy het jou hande uitgehou na my.
“My soetste beminde,” het ek gesê, “kom na my sodat ek al my liefde om jou hals kan hang. Toemaar, toemaar,” het ek saggies geneurie, “alles is nou verby” en jou sagkens gewieg soos ’n moeder ’n siek kind koester. Bedags en snags het ek my arms teer om jou lyf gevou en jou net vasgehou.
Toontjie vir toontjie het ons geloop, sekonde vir sekonde, uur vir uur, dag vir dag, nag vir nag. Soms was daar nog trane, soms selfs vlammewoede, soms stilte, maar hand aan hand het ons voortgebeur.
En toe op ’n dag sien ek jou en herken jou, my liefste Lief. Jy het teruggekom na my en jou doodskaduwee agtergelaat. Lig soos dié van ’n engel is jou tred nou, en die trane op jou wange is weg. Daar is ’n dieper kyk in jou oë, ’n sekerheid van voet en ’n dieper vrede wat uit jou wese straal.
Jy sê jou seun het jou intussen gevra om te gaan kuier, en jou oë blink helder. Maar as mens mooi kyk in die spieël, is daar ’n sekonde van vreugdevolle mistigheid. ’n Glimlag en ’n klokhelder lag breek deur, en ’n spontane speelse ligvoet-dansie tower beelde op van hemelse vreugde.
Ek het jou teruggevind, Geliefde. Ons is weer eens saam op pad met klingelende oorbelle en tollende draaie van kleur. Nooit weer sal ons paaie skei nie.
Meisie in die spieël
Klik hier vir nog inligting oor die liefdesbrief-kompetisie.

