My geliefde: Die skeur

  • 0

Liewe jy

Drie jaar van skelm wees. Drie jaar se liefde steel. Ons lewe binne ’n lewe ...

En nou, in ’n vlietende sms en sonder om my pynkrete te beantwoord, beëindig jy dit.

Stompaf ... soos ’n skakelaar.

Hoe kom ons van nou die aand se gekreukelde beddegoed en se salig saamwees tot hier? Van liefde uit ons greine uit tot harde elektroniese letters oor ’n klein, koue skermpie? Waar het ek jou regtig verloor? Met die ontmoontlike swangerskap dalk? “Ons” kind wat toe “jou” kind word en nou “julle” kind is?

Ek verstaan nie, en ek is seer. Op my ouderdom, met ’n magdom wysheid agter my, het ek al die strikke raakgetrap. Een ding is seker, die pyn bly dieselfde.

Jy’t altyd gesê ek is ’n ware man. Erken ware mans dat die trane die skerm voor my in vloeistof verander? Waaroor huil ek regtig? Oor dit wat ek verloor, of dit wat ek gaan mis as jy nie daar is nie? Ek beter klaar huil. My huismense is nog wakker.

Net vinnig, want ek skuld jou dit: Dankie. Vir alles. Die klein handjie wat jy na my uitgesteek het om my te red uit my eie gemaakte hel. Die inspirasie wat jy my in sulke oormatige dosisse gegee het. Die raad, die ergernis as ek kopsku was. En bowenal ... dankie vir jou liefde.

Ek dink ek verstaan jou keuse. Ek neem jou kwalik dat jy dit nie vroeër geneem het nie. Voordat ek verby die punt van geen omdraai was. Dit sou nóú makliker gemaak het.

So, hierdie is vaarwel, my skat. Jy het vlietend die troosprys soos ’n anker oor my foon se skerm gegooi. Die voorstel van vriendskap. Eeue oud. Die laaste strooihalmpie wat ek nie kan gryp nie.

Ons was nooit vriende nie. Sielsmaats, ja ... vriende, nooit. So vergewe my, ek kan nie na jou kyk sonder emosie nie. Dit is nie in my nie. Dan kyk ek eerder glad nie.

Ek is lief vir jou. Ek sal altyd wees. Dalk eendag ... iewers anders, is jy betyds.

Ek.

 

Klik hier vir nog inligting oor die liefdesbrief-kompetisie.  

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top