Moet die nulde dag nog bygetel word?

  • 4

Jy is heeltemal reg, ek het vir die oppervlak van 'n sfeer die formule vir die volume gegee. Ek voel nou een ma se onnosele, soos die Engelsman sal sê, Poo Paul.

Seker dié dat ek nie jou Juliaanse kalender kan verstaan nie. Ek meen, 1 Januarie 4713 vC en die volgende dag 2 Januarie 4713 vC sê jy is onderskeidelik JD 0 en JD 1 en dat daar sedert JD 0 al 2 455 952 dae verloop het. Moet die nulde dag nog bygetel word, met ander woorde die dag wat jy hierdie getal neergeskryf het was eintlik die 2 455 953ste dag? En hoekom dan nie 0 Januarie nie?

As jy na Angus se nota onderaan Ran se brief as 'n sinvolle verklaring verwys verskil ek met jou. Hy maak stellings wat disjunk is; hy sê "... want daar was EEN God en die drie-enigheid was Drie in EEN. Volgens kerkdogma was nul onmoontlik want God was ewig ..." Wat het die Roomse Kerk (ek neem aan dis wat hy met 'RK' bedoel) se dogma met die getallesisteem te doen? Hy kan presies dieselfde redenasie gebruik om 'n ewe absurde stelling te maak, naamlik dat die Roomse Kerk 'n afkeer van alle getalle groter as een het 'want daar is net EEN God'.

Hy sê ook dat Romeinse syfers nie 'n nul het nie. Ek hoop nie hy gebruik hierdie feit om sy teorie dat die RK 'n renons in 0 gehad het te staaf nie want het Romeinse syfers nie vir eeue voor die RK bestaan nie? Buitendien, Romeinse syfers lyk vir my meer na net 'n formele manier om getalle te skryf, 'n soort van 'n snelskrif om getalle aan te dui eerder as om hulle uit te skryf. Kan jy jou byvoorbeeld indink dat projekleiers, ingenieurs, bestekopnemers, kokke ens, almal wat betrokke moes wees met die bou van waterleidings, geboue en paaie, berekeninge kon doen met Romeinse syfers? Klink vir my baie onwaarskynlik.

Wat die jaar 0 betref kan mens erg verdwaal tussen geskiedenis en rekenkunde. Die feit bly staan dat daar nie 'n jaar 0 kan wees nie – Gestel ons begin môre-oggend, met ander woorde middernag vannag, met 'n nuwe jaartelling dan is môre, opstaantyd, die jaar 1 wat al ses ure oud is (dit is nou as jy sesuur opstaan). Middernag was die nulpunt, die begin, van die eerste dag, die eerste week, die eerste maand, jaar, dekade, eeu, millennium ens. Daar is 'n tyd gedurende die nuwe jaartal wat daar nul weke, of eeue of wat ook al gaan wees (wel breukdele daarvan) maar nooit 'n nulde week of 'n nulde jaar ens nie.

Ek weet ook nie hoe mens kan sê die begrip 0 (zero) het, wanneer ook al, nie in die Weste bestaan nie. Daar is tog vanaf die vroegste tye handel gedryf wat noodwendig kennis van die begrip 'skuld' impliseer wat op sy beurt natuurlik negatiewe getalle impliseer. En van 10 sikkels (of beeste, of vaatjies wyn) skuld na 30 sikkels (of beeste, of vaatjies wyn) besit is nul. Daar was dus wel op 'n stadium nul beeste maar nooit 'n nulde bees nie.

Groetnis

Jan Rap

  • 4

Kommentaar

  • Dit lyk my hier is so ’n effense misverstand. Die Romeinse stelsel is wel sowat 4 eeue vC al gebruik, maar die Romeinse syfers soos ons dit ken, eers 2 eeue nC. Christelike Europa het met die bekendstelling van die Arabiese stelsel, groot probleme daarmee gehad , juis agv die 0. Sero het vir hulle ongelukkig  'niks' beteken en dit was vir hulle te duiwels om aanvaar te word. Vir eeue het dit vir die religieuses vrees ingeboesem en het dit verband gehou met godsdiens, geloof en politiek. Ek is jammer as ek die indruk geskep het dat die RK die skepper was van die Romeinse syfer-stelsel. Die Arabiese stelsel met sy sero is eers in die 16de eeu aanvaar. Ook maar goed want sonder die nul sou daar geen wetenskap soos ons dit ken, gewees het nie.

    Die RK se dogma het dus baie te doen gehad met die, vir hulle, aanvaarbaarheid van die Romeinse syfer-stelsel. Hulle het die nul beveg selfs toe Galileo dit gebruik het en die gevolglike hofsaak teen hom.

    Miskien moet ek herhaal: die Rooms Katolieke Kerk het nie die Romeinse syfer-stel gemaak nie. Hulle het dit om religieuse redes verkies bo die Arabiese stelsel.

  • Jy tik: " Hy kan presies dieselfde redenasie gebruik om 'n ewe absurde stelling te maak, naamlik dat die Roomse Kerk 'n afkeer van alle getalle groter as een het 'want daar is net EEN God'.

    Dis nie my redenasie nie; ek sê maar net hoe die RK dit gesien het. Vir my is dit 'n absurde stelling om die nul te verwerp omdat God drie-enig is, maar waarom verwag jy van my om daarby aan te las?

  • Nee —  daar word nie nog 'n dag bygetel nie. As die verwerker gebruik word, waarvan ek die skakel gegee het, dan is 27 Januarie 2012, 12:00 = JD 2455954.0000. Geen aansuiwerings is nodig nie.

    Panda

     

     

  • Nou goed Angus, dis nie jou redenasie nie.  Laat ek dit dan anders stel:  DAARDIE redenasie kan ook aangewend word om 'n afkeer in getalle groter as 1 (een) te regverdig - dus reductio ad absurdum.  Ek is self nou nie Rooms nie, ek verdedig hulle dus nie, speel maar net bietjie duiwelsadvokaat:  Sou die RK werklik sonder 'n rekenkundige begrip kon klaarkom, 'n begrip so eenvoudig soos die afwesigheid van iets, en dit om kwansuise godsdienstige beginsels?  Die RK, beskermheer van die kunste en gaarder van tiendes sou boekhouers vir Afrika gehad het en hoe sou 'n balansstaat ooit opgetrek kon gewees het as die boekhouers nie besef het daar is partykeer niks in 'n rekening nie, of dat 'n rekening oortrek is?  Ek dink daar is 'n moerse bohaai oor niks (pun intended).

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top