Regstreeks en onintiem
vlieg my vingers oor die sleutels
van my skootrekenaar,
net om
te probeer sin maak
uit my gebeure
en gedagtes neer te pen,
of eerder,
neer
te
druk.
Op die wye web van leuens, bedrog en advertensies
skreeu my verlate gedig tussen massas,
alleen
saam met miljoene ander net soos ek.
Lesers is maar karig, maar laat ek vir jou seg –
as dit ‘n video was van my wat op ‘n ysterbal ry
was daar miljoene aanhangers, al was ek gesien as sleg.
Die internet verbind ons met miljarde onbekende gesigte,
dit laat ons tot toe om ander se werke te lees
op byna enige blad deesdae –
hoe onpersoonlik is dit dan nie?
Handskrif vertel ook stories, maar dit gaan verlore op die net.
Skandale, skindernuus en moord is nou die norm, die wet.
Liewe internet, met jou baie moontlikhede
en ook onnodige bog
is jy ‘n vriend,
‘n euwel,
‘n stukkie nuttige gereedskap
en gesog ...
Al hoe meer digters kan vry wees voor ‘n gekose kaliber skare,
Maar, o wee, as die verkeerde skare dit moet sien!
Onbeperkte titels, vreemde beginsels en tokkelende snare
Stel my in staat om op die internet ook erkenning te verdien.

