Hoe Moses horings gekry het

  • 7

Nee, Moses het nie sy horings gekry omdat hy stout was nie, ook nie geërf van Bacchus nie. Sy horings het hy gekry omdat mense die Bybel krities begin lees het. Die saak staan eintlik so:

Na die verskillende Konsilies by Nicea, Konstantinopel, Ephesus en Chalcedon, was daar só  ’n hewige stryery tussen kerkvaders oor wat die Bybel nou eintlik sê, dat keiser Theodosius met die  Konsilie van Konstantinopel al stappe begin neem het om die ware inhoud van die Bybel te verdoesel. Die probleem, of Jesus Christus ’n god is of nie, was nog nie opgeklaar nie. Pous Damasus, ook bekend as die man wat graag die dames se ore gekielie het, het erken dat die evangelies wat in die Bybel opgeneem is, vol foute is, en uit betwyfelbare tekste bestaan het. Kopieë wat van die verskillende skryfkamers gekom het, het ook van mekaar verskil. Om te verhoed dat hierdie geskrifte deur verkeerde oë gesien word, het hy met ’n briljante plan vorendag gekom. Hy het die Bybel eenvoudig verban!

Toe die nuwe Bybel dus in 381 sy verskyning maak, is die gewone man verbied om dit te lees. Almal is selfs verbied om enige uitsprake daaroor te maak, of om die Woord van God enigsins te probeer verklaar.

Om die gepeupel verder die skrik op die lyf te jaag, is ’n hele reeks anatemas uitgevaardig en vir die volgende 1500 jaar is dit streng toegepas deur die “bose” te straf met verbranding  van twyfelaars. Die hoofdoel van die priesterskap was om die Bybel weg te hou van die mense en om die kerk se outoriteit op hulle af te dwing. Selfs die besit van ’n Bybel kon ’n man op die brandstapel laat beland.

Na die verbanning van die Bybel, het pous Damasus beveel dat die Ou en Nuwe Testament  heeltemal oorgeskryf moet word. Hierdie taak is aan die heilige Hieronymus (St Jerome) opgedra. ’n Snaakse vent was dié Hieronymus. Hy het lank in ’n grot gewoon waar ’n monnik hom Hebreeus leer lees en skryf het. Of hy ’n Christen was, weet ek nie, want hy was bekend as ’n ketter wat heidense geskrifte verkies het bo die Bybel. Die pous het hom ’n groot som geld aangebied en hy sit toe af Rome toe om met sy nuwe Bybel, die Versio Vulgar, of “verse van die vulgêre”, te begin.  Waarom dit so genoem is, weet ek ook nie. Dalk kan iemand my dit verduidelik. Ek dink hy het sy Bybel aanvanklik  bedoel vir die gepeupel, en daarom dat dit vulgêr moet wees, maar ek weet nie.

Hieronymus  is ook daarvoor bekend dat hy in die kerk verskyn het in vroueklere.  Die gewade van die RK kardinale getuig nog van sy invloed.

Die Versio Vulgar is egter opsetlik toe in Latyn geskryf sodat die gepeupel g’n woord daarvan kon verstaan nie. Van tyd tot tyd het hy ook instruksies gekry van pous Damasus wat bygevoeg moet word, soos bv die storie van die maagdelike geboorte van Christus. Aanvanklik het hy hierdie byvoeging as belaglik beskou, maar later het hy die maagdelike geboorte van Christus  heftig verdedig in ’n geskrif as reaksie op Helvetus se skrywe.  Tydens die Konsilie van Trent is die Versio Vulgar hernoem en het dit as die Vulgaat bekend gestaan.

Dit is hierdie einste Hieronymus wat deur ’n verkeerde vertaling vir Moses die horings gegee het. In plek van Moses voor te stel  met sy glansende gesig en ligkrans om die hoof, het hy hom as gehoring beskryf. Dit het latere Bybelvertalers  soms hoofbrekens besorg, want as Moses self sê Moses het horings,  dan moet hy mos horings hê.

Groete

Angus

  • 7

Kommentaar

  • CorneliusHenn

    Angus, wat is nou die verskil tussen Kobus de Klerk se gedurige Google op kreasioniste webwerwe rond, dit opdis as sy eie spirituele intelligensie en/of jou oorneem met ’n bietjie geslepe kommosie daarby sonder erkenning eens aan jou fopspeen "vatileaks"? Waar is jou eie slimhede dan heen? Komaan, ek weet jy kan veel beter as hierdie poginkie vir ’n paar krummels sensasie en omstredenheid Angus! Katolieke groete, Cornelius.

  • Pieter Redelinghuys

    Beste Angus,

    Dankie vir jou nuutste skrywe in die kanon van kerkgeskiedenis. Die kommissie vir die marmor beeld van Moses was deur Pous Julius II aan Michelangelo opgedra in 1505, en die voorkoms van Moses met horings (cornuta)  is die resultaat van 'n foutiewe vertaling van die Hebreus in die Latynse Vulgaat van Moses se voorkoms in Exodus, toe Moses die berg afgestyg het na sy onderhandeling met God. Die beeld staan in Rome in die Basilica van San Pietro in Vincoli. Ek het dit gesien, en hy het beslis twee horings, nie een nie  (Freudiaanse simboliek op sy minste subtiel as jy my vra!).

    Daar is 'n breedvoerige beskrywing daarvan in Wikipedia vir diegene wat geïnteresseerd is.

    Groete,

    Pieter Redelinghuys

  • Julle moet net weet, vir die profetiese gelowige het die horings ’n heel ander betekenis. Die manier wat Jesus geleer het was in gelykenis-vorm. Hierdie verhaalvorm was ryk in simboliek. Tabernakelstudie toon ook die 4 horings op die hoeke aangetref van die offeraltaar. Dit spreek van die goddelike "krag" (horings) van die bloedoffer, wat na die kruisiging van Jesus in NT wys.

    Die Woord praat ook van dat die "natuurlike" eerste is, dan die "geestelike" dinge. 

    Persoonlik self is simbole vir my die taal van drome en visioene. Wanneer ek dus droom van horings, sal dit vir my spreek van die "krag" van iets. In die lig van dit sien ek dus Moses se horings as sy goddelike krag, glansende gesig as die salwing vanaf God en ligkrans as die Shekinah-glorie van God.

    KdK sou natuurlik hier heel beter kon verduidelik het as ek, met skrifte ingesluit.

    Trienie Mahne 

  • Kobus de Klerk

    Trienie skrywe ’n baie insiggewende kommentaar op haar stil, mooi en besadigde manier en sit daarmee die lawaaierige agnostici wat hulle in Angus se snert verlekker, baie netjies met haar openbarende insig op hul plek. 

    Hulle dink dit is ’n skande om vir ’n Bybelse figuur, soos Moses, horinkies te wil aansit, maar hoe vêr is dit nie van die waarheid verwyder, nie – nóg ’n agnostiese korrupsie en demonstrasie van gebrek aan insig en kennis. Verbasend hoe hulle gedurig met die neus in die Bybel sit, maar hoegenaamd niks kan wys word nie, in teenstelling met die talle gelowiges wie geen sodanige probleme het, nie – maar dit is te wagte, want dié verskynsel is al duisende jare gelde in die Woord geopenbaar (Markus 4:11-12; Romeine 8:5) en ook dat hulle, die ongelowiges, ons as gelowiges nie kan verstaan nie vanweë ons gawe van Spiritualiteit (Geestelikheid – 1 Korintiërs 2:15) 

    Angus se onsamehangende en irrelevante gebabbel beklemtoon net die porsie kragtige insig wat Trienie aanbied. 

    Die horing speel inderdaad, soos Trienie so duidelik uitwys, ’n besonder belangrike en baie positiewe simboliese funksie in die Woord en is die simbool van Krag – meer in besonder, verlossende Krag. 

    Trienie is ook heeltemal in die kol met haar opmerking dat die natuurlike die geestelike voorafgaan – eers die natuurlike (fisiologiese) liggaam, dan uiteindelik die transformasie na die geestelike (Spirituele) liggaam (1 Korintiërs 15:46-55) – treffende en insigvolle assosiasie wat sy hier maak met verwysing na die natuurlike horing as simbool van die opvolgende Geestelike Verlosser, die Verlossingskrag van Jesus Christus die HERE. Watter een van die agnostici het súlke insig, soos Trienie? Geeneen, want dit is slegs van God, ons HERE, te kry, in nederigheid en erkentlikheid teenoor die HERE. 

    Die HERE Jesus Christus is bekend as dié Horing van Verlossing (Lukas 1:69 g.m. 2 Samuel 22:3; Psalm 132:17; Esegiël 29:21), 

    Daarby sluit aan, soos Trienie reeds uitgewys het, die deur-God-voorgeskrewe altaar wat ’n horing op elk van die vier hoeke had (Eksodus 27:1-2), wat dan ’n kruis voorstel wanneer hulle oorlangs verbind word en wat dan ook die Krag van Verlossing simboliseer saam met die bloed van die offerdier, alles as voorlopers en profetiese simbole van die kruis waaraan Christus as finale Offerlam (Johannes 1:29; 1 Petrus 1:19) ter verlossing vir die mens ingestaan, het. 

    Daar was ook die gebruik dat mense wat asiel gesoek het, of per ongeluk ’n halsmisdaad gepleeg het, hulle na die altaar (of na een van die vrystede) kon haas en die horings vasgryp om begenadiging te ontvang (Eksodus 21:13; 1 Konings 1:50-51) terwyl dit nie vir skuldiges ’n heenkome was, nie (1 Konings 2:28-29). 

    Die simboliek word verder versterk deur God se waarskuwing aan die afvallige volk dat, wanneer hulle uiteindelik weens hulle afvalligheid oorgelewer en verstrooi sal word, die horings van die altaar afgekap sou word en daarmee het God direk aan hulle te kenne gegee dat die volk dan nie meer tot God toegang sou hê om hulle uit te red teen die oordeel wat HY uiteindelik oor hulle sou laat kom, weens hulle volgehoue afvalligheid, nie (Amos 3:14). 

    Terloops kan genoem word dat God se voorskrifte betreffende die altaar (Eksodus 20:24-25; 27:1–2?; ?30:1–3), baie sorgvuldig was om dit te onderskei van die voorkoms en gebruike van altare van naburige pagan volke, wat die oorspronklike, Goddelike gebruik van altare (Genesis 4:2; 8:20; 12:7; 26:25) heeltemal gekorrupteer het met hulle pagan rituele. 

    Om dus vir Moses met horings te vereenselwig, is inderdaad geen belediging vir hom nie. Dit is welbekend dat hy ’n uitsonderlike verhouding met God had en as eerste menslike verlosser van die volk uit Egipte en dus as menslike tipe van die toekomstige verlossingswerk van die Jesus Christus die HERE, die Horing van Verlossing, is die vereenselwiging eintlik heel gepas en selfs wenslik 

    Dit is vir my 'n heerlike voorreg om met toegewyde en ware gelowiges soos Trienie, Dolf en die ander, hier spasie te mag deel.

    Kobus de Klerk

  • Ek kan maar net raai waarom Kobus so tekere gaan. Onwetend het ek ’n yslike seer toon raakgetrap.

    Hy beweer dat ek onsamehangende gebabbel skryf, maar tog haal hy amper die hele Bybel se aanhalings aan om my gebabbel te besweer.  Al wat ek wou sê is dat Moses met horings uitgebeeld word, en dat dit die gevolg is van Hieronymus se verkeerde vertaling.  

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top