Hellevaart én herrysenis: Winterbach se Die benederyk 'n verbysterende boek

  • 0

Die benederyk
Ingrid Winterbach
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN:9780798151474
Prys: R165.75

 

Klik hier en koop Die benederyk nou by Kalahari.net!

 

I

In die openingsparagraaf van Lettie Viljoen (Ingrid Winterbach) se debuutnovelle Klaaglied vir Koos skop die beleërde ek-verteller haar tuinhek “eers van binne af oop, dat hy vér verby sy normale swáái swaai” en dan skop sy hom “van die ander kant af terug, dat sy skarniere ingee” (Viljoen 1984:1) Terwyl die bure nuuskierig toekyk, boender sy haar kind in die motor in, slaan die deur hard toe en rév die kar – vol bewende voornemens en oorgehaal tot kragdadige handeling.

Vir my jeugdige gemoed was dié paragraaf – net soos die res van die novelle – ’n bomslag en ’n beroering! Ek sou nooit weer op presies dieselfde wyse na die Afrikaanse letterkunde kyk nie. Met opwinding het ek besef dat ’n mens ’n Winterbach-boek nie net vir die storie, die plot, hoef te lees nie, maar dat jy jou ook grondig kon verstom aan die gelaagdheid van die werk, die aandag aan tekstuur, die baldadige naamgewing en die haarfyn beskrywings van karakters se liggaamstipes, veltinte, hande en voete. Aan elke Winterbach-roman daarna het ek my om ’n ander rede verwonder. (Bitter graag sou ek Buller se plan – met daardie swewende, anamorfiese skedel voorop – in so ’n lesersvriendelike uitgawe soos die jongste twee romans wou lees. En wanneer, wannéér, word Belemmering – daardie geringgeskatte kolos – tog as deel van die Klassiek-reeks heruitgegee?)  

As ek dit dan onomwonde stel dat Die benederyk een van Ingrid Winterbach se héél beste romans is – en een van die werklik gróót romans in Afrikaans – is dit geen geringe kompliment nie. Allesbehalwe. Maar dalk wél ’n stelling wat motivering behoef …

II

Wat omslag en bladuitleg betref, is daar opvallende raakpunte tussen Die boek van toeval en toeverlaat en Die benederyk. Teenoor die koel, sagte, verhullende blou van eersgenoemde (wat assosiasies met water en die see oproep), staan die warm, gloeiende detail op laasgenoemde (wat aan brandende vlamme herinner). Op verhaalvlak is daar óók skakels. In albei romans staan familieverhoudings en die groot temas van die liefde, dood, verraad en verlies sentraal. In Die benederyk is dit veral die verhouding met die broer wat tot ’n hoogtepunt gevoer word. Hoewel Helena Verbloem se verhouding met haar dogter, suster en ouers die spil van Die boek van toeval en toeverlaat vorm, kontak haar broer haar aan die einde van die roman uit die bloute: “Ek is terug. Jou verlore broer. Terug in die land van die lewendes. Terug van my omswerwinge,” sê hy (Winterbach 2006:328). Helena se slotwoorde in die roman – “Binnekort sien ek my broer, dan vertel hy my hoe hy saam met die varke skille gevreet het, van sy avonture, van alles wat hy meegemaak het”(Winterbach 2006:333) – word byna woordeliks deur Stefaans herhaal wanneer hy sy broer Aaron na “jare van skille saam met die varke eet” (43)¹ weer opsoek en bely: “Ek het soveel meegemaak, daar is soveel wat ek jou wil vertel; ek sal dit alles miskien moet begin neerskryf” (160).

Die benederyk is dus nie voortsetting van Die boek van toeval en toeverlaat nie, maar eerder ’n raafswart vlerk wat langs laasgenoemde roman kom lê om ’n soort diptiek te vorm.

As broerkarakter roep Stefaans duidelike assosiasies op met Hannah se broer in Belemmering, wat met geswolle nekare in die garage met gewigte geoefen het en vyf, ses jaar na hulle pa se dood “ophou praat het” (Viljoen 1990:22). Ofskoon Stefaans vier jaar na sý vader se afsterwe “’n stilte binnegegaan wat so diep was dat dit die menslike verstand te bowe gegaan het” (114), kan hy ná sy dwelmrehabilitasie nie ophou praat nie. Sy “kop is aan die brand” (43) en hy laat sy gedagtes “ononderbroke” (214) vloei. In Aaron en Stefaans se (verbeelde/virtuele?) dialoog oor die oorsake van Stefaans se verslawing eggo die onderaardse “gesprek” wat Hannah se broer oor die lewe van hulle oupas met haar voer. Albei vind in ’n groot, koue, weerklinkende ruimte (wat aan die Kango-grotte herinner) plaas. En al raak die gespreksgenote in beide gevalle toenemend onhoorbaar én onsigbaar, bly hulle almaardeur ingestel op mekaar se kleinste stembuigings en handgebare.  

III

Na die skielike dood van sy tweede vrou en ’n uitmergelende siekbed (’n kankeragtige gewas is van een van sy drie niere verwyder en hy moes chemoterapie en bestraling kry) neem die Durbanse skilder Aaron Adendorff weer die kwas op. Terwyl die dood soos ’n maniese pasiënt in gestreepte geel pajamas in die kamer langsaan doenig was, het Aaron gedink hy gaan nooit weer kan werk nie. Tog het hy weer aan skilderye begin werk wat sy verwagtings oortref het: “Minder detail, minder tonale modellering, die konfigurasie rouer, krasser as vantevore, meer eenvoud en durf in sy aanslag. Steeds nie-naturalistiese kleur. Ryk pigment, byna vóélbaar. Die vereenvoudigde vorms op die doek geanker deur die tasbaarheid van die verf. Duiwelswerk soms, so vars en nuut is dit” (8). Ten spyte hiervan is Eddie Knuvelder, Aaron se galeris en jare lange tentoonsteller van sy werk, tydens ’n ateljeebesoek alles behalwe geesdriftig oor dié werk. Hy blyk ongretig te wees om Aaron in te sluit by die vyf kunstenaars wat hy na ’n belangrike tentoonstelling in Berlyn wil saamneem, en stel sy visier oënskynlik eerder op jonger kunstenaars. Die toenemende wrewel wat Aaron jeens Eddie ervaar, vermoei en belas hom. Hy roep soveel vloeke oor Eddie se Hunnehoof en Eskimo-bakkies af dat die Indiese Oseaan hom nie sal kan skoonwas nie. Hy noem hom onder meer ’n vark, ’n infame skurk, ’n hoer, ’n sell-out, ’n onvoorspelbare bastard, ’n verraaier, ’n lae plannemaker en strateeg. Wat Aaron veral verwarrend vind, is Eddie se versoek dat hy twee jong kunstenaars, Jimmy Harris en Moeketsi Mosekedi, na die KwaZulu-Natalse Middelland neem vir ’n kunstenaarsverblyf in Balgowan. Jimmy se luide selfvertroue en jeugdige voortvarendheid laat Aaron se nekhare regop staan. Hy is ook intens afgunstig op die aandag wat Jimmy in die kunswêreld geniet. Hierdie intrige word enduit gevoer en met ’n paar verrassende wendings afgesluit.  

Ten spyte van die dokter se voorskrif dat Aaron meer tyd saam met vriende moet spandeer of ’n kalmerende stokperdjie (soos voëlskyk) moet beoefen, bly Aaron pieker in sy ateljee. Sy skilderwerk word telkens onderbreek deur die huishulp, mevrou Sekete, wat haar nie aan enige van sy voorskrifte steur nie, en sy nuwe buurvrou, Bubbles Bothma, wat op die ongeleënste van tye toeslaan. Bubbles dra spandex-broeke, silwer hardloopskoene en skrikwekkende sweatshirts. Sy laat haar deur die gees lei van offshore investments en community work tot by perdespeel en ’n bietjie crime detection. Terwyl sy vir Aaron teen wil en dank na die een of ander hool in Onder-Umbilo sleep, haal sy vir hom uit Milton se Paradise Lost en Shakespeare aan. Met haar self-help tapes en “mafia-konneksies” maak sy korte mette van teenstanders en mankemente en stel haar beskikbaar om Eddie Knuvelder uit te vat (“soos in remove from the scene”), of hom ten minste te ontvoer en sy knieë met ’n ysterpyp pap te slaan.

Mevrou Sekete is dikwels kop in een mus met Bubbles. Op die benedeverdieping van Aaron se huis loop sy op haar ferm kuite en slank Florentynse voete. Sy woeker en vee. Sy hoes en sy spoeg (hoofsaaklik appelpitte). Sy neem lang teepouses. Hoewel stof en kieme haar meestal ontgaan, hou sy haar oog stip op alles wat in die kombuis rondlê – kennisgewings, strooibiljette, uitnodigings na kunsuitstallings, koerante, advertensies. Oor alles het sy ’n opinie. Sy kritiseer die regering en put krag uit haar geloof. Soms sing sy met soveel oorgawe dat hy homself nie kan hoor nie. Sy is Aaron se regterhand én tormenteerder.

Ingebed in Aaron se verhaal is ook sy kommunikasie met sy broer, Stefaans, ’n eksverslaafde. Na ’n slingertog (hellevaart) van vyf-en-twintig, dertig jaar waartydens hy sy huis, sy vrou en sy werk verloor het, begeef Stefaans hom met behulp van twaalf stappe op die smal weg. Hy bely sy swakhede en begrawe sy demone. In soms tot sewe, agt sms’e per dag lei hy ’n groot verskeidenheid onderwerpe in wat hy later aan die hand van omvattender e-posse verder voer. In dié boodskappe karteer Stefaans die “verbete morele inventaris” van sy lewe en probeer hy ook vasstel of hy die “[a]lleenouteur van sy destiny” (274) is. (Hiervoor is hy méér as toegerus, want hy is “belas met die vloek van ’n onfeilbare geheue – met total recall” (111).) Gevolglik agtervolg hy die ontslape Josua en Samuel Reinecke, sy drie oupas (Stefanus, Harry en Jesse), sy moeder en vader, én vir Tabhita en Naomi hardnekkig tot in die doderyk. Stefaans ontwikkel as ‘t ware tot tweede hoofkarakter in die roman. (’n Derde broer, Benjamin, beklee ’n teruggestemde posisie. ’n Onnegeerbare aanhangsel soos Aaron se derde verskrompelde niertjie?)

IV

’n Speurende leser sou hom/haar gewis lank kon vermoei met ’n opgaaf van die intertekste waarvan daar in Die benederyk sprake is. Benewens verwysings na kunstenaars soos Goya, Bosch, Signorelli en Boticelli wat in hul skilderwerk en sketse iets van die onderwêreld, “die benederyk”, uitgebeeld het, is daar ook ’n ophaling van literêre werke waarin ’n tog na die doderyk onderneem word: Dante, Milton, Blake, en selfs Joseph Conrad. Die ooglopendste intertekste is egter (i) Thomas Mann se monumentale tetralogie Joseph und seine Brüder (Joseph and his brothers), waarin die Genesis-verhaal vanaf Jakob tot by Josef (hoofstukke 27 tot 50) verwerk word, en (ii) die (onderwêreld)mites waarop Joseph gebaseer is, naamlik dié van Orfeus en Euridike, Osiris en Set; Demeter, Hades en Persefone; Inanna (Isjhtar), Enki en Dumuzi. Dié mitiese verhale word besonder vernuftig in Die benederyk betrek.

V

Soos in Ulysses, The Plumed Serpent, The Odyssey: A Modern Sequel en The Death of Virgil is die afdaling na die onderwêreld en ’n daaropvolgende hernuwing (regenerasie) ’n sentrale metafoor in Joseph and his brothers. In die voorwoord tot Mann se tetralogie, “Vorspiel: Höllenfahrt”, word daar gefokus op die storieverteller se afdaling in die benederyk van die verlede op soek na daardie prototipes (“Urbilder”) waarop alle verhale gebaseer is. Hierdie tog na die doderyk word ook opgeroep wanneer Jakob na Mesopotamië reis, Josef deur sy broers in die put gegooi word, hy in die Farao se tronk opgesluit word én wanneer hy met Asenath trou. As simbool van die verlede, die on(der)bewuste, die dood en die baarmoeder vorm die onderwêreld dus een van die belangrikste leitmotiewe in dié vierdelige roman. Die woord bor wat Josef se broers gebruik vir die “put” waarin hulle vir Josef gooi, verwys terselfdertyd na ’n “tronk/ gevangenis” en na “die doderyk” (’n helleput).

Die uiteenlopende betekenisse van die Engelse Underworld word mooi saamgetrek in die Afrikaanse woord benederyk (onderwêreld, inferno/hel, maar ook ruimte van regenerasie en kreatiwiteit) en word pertinent met die beeld van ’n mynskag in verband gebring. Volgens Hillman (1979) gee die afdaling na die onderwêreld dikwels aanleiding tot die onthulling van daardie fundamente vorms, beelde en idees wat betekenis en vorm aan die lewe en kuns verleen. ’n Alchemistiese analogie word geïmpliseer: die reduksie van molekules (reductio) tot daardie elemente wat op kreatiewe wyse weer herkombineer kan word (ricorso) om nuwe vorms tot stand te bring. In die donkerste en mees verlate dieptes van sy verslawing kom Stefaans byvoorbeeld op die twaalf stappe af aan die hand waarvan hy sy hele lewe kan omkeer. Net so ondergaan Aaron se skilderwerk ’n radikale transformasie: na sy eerste polities-korrekte werk lê Aaron hom hoofsaaklik toe op abstrakte werk waarin die herkenbare beeld mettertyd heeltemal verdwyn. Hy ervaar dié aflegging (afswering) van die beeld as ’n verlies: “Selfs in sy mees abstrakte (…) werk, was ’n wond sigbaar soos bloeding onder die vel, ’n sypeling in die weefsel van die verf (13). Uit hierdie ontwrigte en onstabiele niefiguratiewe ruimte neem die beeld gaandeweg weer gestalte in sy werk aan. Hy begin doelbewus in ’n lomp, byna banale, representatiewe styl werk. Sy tematiek is intiemer, meer persoonlik:

Vroeër het hy gevoel hy beweeg horisontaal oor ’n groot plein, nou het hy die gevoel hy gaan af in ’n smal maar diep skag. ’n Kleiner oppervlak wat hy dieper myn. Dit was ’n moeisame proses. Hy het deur die lae van die self moes beweeg om hier uit te kom (…) Die werk moet kompleks wees. Dit moet vol teenstellings wees, vol verborgenhede, ondeurgrondbaar. (57)

Aaron maak dus in sy skilderye ’n radikale terugkeer na elementêre vorms, beelde en kleure, terwyl Stefaans in sy skryfwerk veral genetiese en historiese patrone probeer identifiseer.    

VI

In Mann se Joseph verteenwoordig die afdaal na die benederyk ’n konfrontasie met die voorgeslagte en die mites uit die verlede; kortom, die hele kultuurtradisie. In Die benederyk delf Stefaans op idiosinkratiese wyse in die Aadendorffs se familiegeskiedenis en tree Aaron in sy skilderwerk op kritiese wyse met bepaalde kunstradisies in gesprek:

In my werk streef ek na die diepte en eenvoud van Giotto se visie en Piero (della Francesca) se stralende klaarheid, sonder om die dissonansie van my tyd prys te gee; ek streef na Masaccio se humanisme, na die Katzenjammer Kids se streetwise streke. (100)

Hierdie kritiese onderdompeling in die tradisie staan in skrille kontras met die jong kunstenaar, Jimmy Harris, se woedende verwerping van die tradisie. Soos Burger (2010:12) tereg opmerk, kan geen ouer kuns vir Jimmy Harris waarde hê nie: “Alle waardes verval om plek te maak vir ’n blinde geloof in vernuwing, in vooruitgang wat juis deur nuwe tegnologie (video) moontlik gemaak word.” Die roman spreek dus, volgens Burger, ’n duidelike oordeel uit oor kuns wat net ingestel is op vernuwing en skok en wat gekenmerk word deur ’n gebruikersgemeenskap se geheueverlies. Wanneer Aaron vra waarom Jimmy video as kunsgenre kies, kry ons byvoorbeeld die volgende stukkie dialoog, wat met Jimmy se selfvoldane antwoord op Aaron se vraag begin:

“Video het ’n lang pad gekom, my vriend. Dit het ver gekom sedert die sestigerjare. Dis serious stuff nou. Dis head-on. Dis angst-free. Dis ’n cool take on contemporary life. Dit het nie die estetiese baggage van painting nie. Dit het sonder estetiese verwagtings gekom omdat dit aan die begin geassosieer is met televisie en news-reels. Dis free to explore, man – dis vryer as enige ander kunsvorm. (…) Dit ondermyn die preciousness van die object, dit fuck die boetiekmark in die arse. Presies waar dit gefuck moet word. Video kan kuns dinge laat doen wat objects soos paintings nie kan nie. Nuwe audiences. Nuwe routes. Die variasie lê in die graad van digital engagement. Dis alles oor speeded-up production en marketing. Dis ’n mind-blowing mix van pop-fantasy, neo-tribalism; dis cool, dis unfazed, dis zany, dis virtual-utopian. Dit praat met ’n attention-deficit internet culture (…)”
“Attention-deficit culture. Hoe inspirerend,” sê Aaron.

“Take it or leave it,” sê Jimmy.

“I’ll leave it,” sê Aaron. Denkende aan Masaccio se koel oranje skaduwee in die heling van die blinde. Die eerste uitbeelding van ’n skaduwee. (64–5)

Teen dié verbruikersgerigtheid en kulturele amnesie gooi Aaron se kuns wal:

“Solank ek nog kan, is ek besig om met vorms op die doek te werk, eintlik te worstel, want elke vorm is iets wat uit niks, of uit chaos, tot stand moet kom, en elke vorm moet wáár wees. (…) ’n Vorm kan skokkend wees, of primitief, of hoopvol, dit kan profound wees, of innoverend, of nuutgevonde lyk, en soms self aangenaam en verleidelik op die oog wees, maar dit is alles nie goed genoeg as die vorm nie wáár is nie.” (256)

Dit is veelseggend dat dit ten slotte sý kunswerke is wat oorleef en na Berlyn geneem word en nié die “deathworks” van Jimmy Harris nie!

VII

Wanneer Aaron aan die einde van die roman dink “[h]oe vreemd, hoe onvoorsien en onvoorspelbaar die omweë wat daartoe gelei het dat hý op die ou end Berlyn toe gaan, en nie Eddie Knuvelder of Jimmy Harris, soos beplan nie” (334), wil dit voorkom asof dit – soos in Die boek van toeval en toeverlaat – weer eens die toeval, die onvoorspelbare werking van die noodlot, is wat ’n bepalende rol speel. Hierdie veronderstelling word egter deur die Stefaans-verhaallynbevraagteken en gerelativeer.

In Mann se roman word dit volgens Burger (2010:12) duidelik dat die individu nie alleen handel en dink nie, maar dat dit eintlik al die voorgangers is wat in ons handel en dink. Tydlose gewoontes en argetipes wat as mites oor geslagte heen oorgelewer is, beheer ons eintlik vanuit “die put” van die benedewêreld. In Die benederyk kom Stefaans tot die gevolgtrekking dat hy inderdaad nié “die alleenouteur van sy destiny” (274) is nie. Hy raak toenemend bewus van ’n tipe voortbestemming, ’n lotsverbondenheid, waaraan hy nie kan ontsnap nie. Die verlede “praat” (letterlik en figuurlik) in en deur hom:

Stefaans trek ook op hulle oupa Jesse. Anders as by sy broers was daar van die begin af ’n identifikasie, ’n band, tussen Stefaans en hierdie oupa. Die vloek van middelmisbruik is na hom deurgegee deur oupa Jesse, via hulle moeder, so sien Stefaans dit. Hy moes die pad van sy verdorwenheid enduit stap sodat hy oplaas van sy val en verdoemenis kon getuig. Dit was sy destiny, glo Stefaans, en soos by Josef in die verhaal van Thomas Mann, gaan dit by hom ook oor die herkenning en aanvaarding van hierdie lotsbestemming. (243)

VIII

Die besoek aan en terugkeer uit die benederyk word nie net in verband gebring met Aaron se skilderwerk en Stefaans se obsessiewe vertellings nie, maar ook met die wyse waarop Die benederyk gelees en geïnterpreteer behoort te word. Die leser word in ’n sekere sin self “argeoloog” wat diep onder die oppervlak van die teks moet indelf. (En watter wonde bloei daar nie onder die vertelvel van die verhaal nie?) ’n Sekere vlugvoetigheid word ook vereis om die subtiele toon- en stylveranderings in die teks te navigeer.

John Updike het by geleentheid gesê dat ’n roman van ware ambisie sy eie taal, sy eie gevoelswêreld, skep. Dit is presies wat in Die benederyk gebeur. Elke woord is geweeg; byna iedere sin ’n openbaring. In Joseph gebruik Mann dikwels naam-epipheta om Josef se broers te karakteriseer: Ruben is byvoorbeeld “die toonbeeld van Jakob se krag”; Simeon en Levi “die een soos die ander”; Juda die een “vir wie sy broers sal eer”; Issaskar “’n sterp pakdier”; Benjamin ”n wolf wat prooi verskeur”. In Die benederyk word sommige karakters ook op dié wyse gekarakteriseer: Eddie se kuratore-in-opleiding is byvoorbeeld deurgaans die “varkhoewige assistente” en Wanda en Zelda “die ontvangsdames met geaffekteerde stemme, sexy decolleté en netjies verpakte stemme”. In bykans elke karakternaam in Die benederyk kan jy jou verkneukel: soms is hulle veelseggend gepas (dink maar aan die terapeut Joy Benedict en speursersant Dicky Dolfuss); soms doelbewus tong-in-die-kies om die leser op ’n dwaalspoor te lei. Aaron is, anders as sy naamgenoot in die Bybel, nié glad van tong en spraaksaam nie; hy is eerder, soos Moses, “swygsaam, op sy bek geval, aan bande gelê” (167) (alhoewel hy darem toegelaat word om die “beloofde land” van die Berlynse kunsuitstalling binne te gaan!). Dis eerder sy broer, Stefaans, wat soos Aäron in die Bybel die een is wat vergete gegewens oproep en verwoord. En al is Bubbles Bothma se “verdwyning” in net soveel geheimsinnigheid as haar naamgenoot Bubbles Schroeder gehul, is daar weinig fisieke ooreenkomste tussen dié twee vroue. Anders as die begeerlike Schroeder is Bothma op sig alles behalwe ’n mooi vrou.

IX

Die benederyk kan gelees word as ’n onverskrokke disseksie van die liggaamlike en geestelike pyn wat karakters beleef, die wyses waarop (en die middele waarmee) hulle dié pyn probeer verdoof, maar belangriker nog, ook die soms onvoorstelbare wyses waarop hulle na lewensveranderende insinkings oorleef en bly vóórtleef. Soos Aaron se nuwe skilderwerk is dit ’n roman vol “burleske figure (ligloop vir veral Bubbles en mevrou Sekete!) en apokaliptiese visioene”. Hier is alles van “die ou battle, die wederstrewigheid, die weerstand, die konflik en crazy humor, (…) terug, maar in ’n nuwer, nog feller gedaante. Met groter krag en trefsekerheid as vantevore. Nog meer kompromisloos” (31). Dus: ’n verbysterende boek!!

 

  • Thys Human is ’n letterkundedosent en hoof van die Departement Afrikaans aan die Universiteit van Johannesburg.

 

Ander menings oor Die benederyk

Die benederyk is die hoogtepunt van Ingrid Winterbach se oeuvre en ’n roman wat ’n mens intuïtief eien as ’n klassieke werk soos Sewe dae by die Silbersteins of Agaat. – Willie Burger (Die Burger)

Kortom: humoristies, ryklik beskilder (letterlik en figuurlik), verstommend heg gestruktureer. – Jeanette Ferreira (Beeld)

In ’n letterkunde waar werklik goeie romans skaars is, moet hierdie teks as ’n hoogtepunt uitgesonder word. Vir hierdie leser is dit tot nou Winterbach se grootste prestasie as romanskrywer. – Joan Hambidge (Volksblad)

Die benederyk dra duidelik die Winterbach-watermerk. [Dit] bied veel om oor te besin en veel om te geniet. – Louise Viljoen (Rapport Boeke)

 

Aantekening
1. ’n Bladsynommer tussen hakies (sonder outeursnaam en publikasiedatum) verwys telkens na: Winterbach, Ingrid. 2010. Die benederyk. Kaapstad: Human & Rousseau.

Bronne geraadpleeg

Burger, Willie. 2010. “Benederyk” klassieke werk soos “Silbersteins”. Die Burger, Maandag 31 Mei, p 11.
Ferreira, Jeanette. 2010. Dié hellevaart ryklik beskilder. Beeld, Maandag 17 Mei, p 15.
Hambidge, Joan. 2010. “Die benederyk”. Volksblad, Donderdag 29 April, p 13.
Hatfield, Henry. 1951. Thomas Mann. New York: New Directions.
Hillman, James. 1979. The Dream and the Underworld. New York: Harper and Row.
Lansing Smith, Evans. 2001. The Descent to the Underworld in Literature, Painting, and Film, 1895–1950. New York: The Edwin Mellen Press.
La Vita, Murray. 2010. Nie diép genoeg nie. (Onderhoud met Ingrid Winterbach.) By, Saterdag 27 Maart, pp 6–8.
Levitt, Morton. 2001. Preface. In: Lansing Smith 2001.
Mann, Thomas. 1956. Joseph and His Brothers. (Vertaal deur HT Lowe-Porter.) Londen: Secker & Warburg.
Viljoen, Lettie. 1984. Klaaglied vir Koos. Emmarentia: Taurus.
—. 1990. Belemmering. Emmarentia: Taurus.
Viljoen, Louise. 2010. Winterbach se watermerk. Rapport Boeke, Sondag 2 Mei, p 10.
Winterbach, Ingrid. 2006. Die boek van toeval en toeverlaat. Kaapstad: Human & Rousseau.
—. 2010. Die benederyk. Kaapstad: Human & Rousseau.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top