Hy strompel hier net voor toemaaktyd in. Flenter-kruk aan die een hand. Hy sukkel en ek vra hom nie of hy 'n prostese dra nie. Maar dit lyk so. Kaalgeskeerde kop en geen stoppelbaard nie, maar die hale van die lewe lê oral in sy gesig en aan sy kop sigbaar. Nie verflenter nie, maar skoon in sy armoede. Ra Mavenster het my een baie belangrike lewensles geleer: Kyk na 'n man se skoene en hanne. As sy skoene en hanne skoon is het jy nie nodig om verder te kyk nie. Want daai eelte op die hanne en gate in die kouse is nie verniet daar nie. Buitendien: Seep is goedkoop. Hy vra my vir 'n los draw en ek weet wat dit is om vir lank die lus vir rook te hê en ek gee hom maar 'n Sahawi, want die goed is in elk geval goedkoop. Hy vra vir 'n light en ek sê vir hom dat hy nou nie die hele hand moet gryp nie.
My manne sluit die slotte want ons leef nie meer in 'n land waar ons sonder slotte kan leef nie en ek gewaar die man met die flenter-kruk nêrens. Uit die oog uit die hart, mos ...
Dit was netnou toe my boerboele raas soos besetenes. Wakkergemaak deur die Foksterriër en die Jack Russel. Die hele buurt is wakker en my foon gil, want hier’s 'n inbreker en tien teen een 'n moordenaar met slinkse planne wat slagoffers soek. Ons trap hom by Ou oompie se deur vas en hy beduie dat hy net 'n paar sente wou opklop vir kos en iets om te drink. Ou oompie het maar 'n R50 uitgehaal, want dis maar in sy aard as die afvlerk-voëls oor sy pad kom. Ek beduie vir Ou oompie dat hy nie sy deur moet oopmaak vir elke Jan Riep nie en hy lag en sê hy dog dis mense wat wou kom dop vat, hier’s genoeg glase en die bottel staan en warm word daar op die toonbank ...
"Jirre, Oompie, ons gaan jou nog bebloed en beroof langs einste bottel optel as jy so aanhou."
"Aaag, man, ek’t maar gegee, want die man is ver van sy huis af."
En so verwilder ons die man, want dis nie meer die ou dae nie en net gister is Johnna in sy slaap beroof van letterlik elke selfoon en "laptop" en "pad". En sy skoene. In hul slaap. Van die bedkassies af. John sê vir my dis nie wat vir hom so erg is nie, dis die feit dat hy en liefie uit beginsel uit as 'n reël in hul Adams- en Evasgewade slaap. Hy is nie so erg bekommerd oor die goete wat verseker is nie, maar oor wat die rowers gesien het.
"Fok, man, jy weet hoe ek is oor A se liggaam, ek wed jou die dônner het haar lank en aandadig gestaan en aanstaar." Johnna wil nou sommer alles verkoop en Oz toe verkas ...
Later hoor ek weer die viervoete rumoer en raas met iemand. Stap maar weereens uit en ek sien vir flenter-kruk besig by my asdromme. Ek beduie hom dat hy op my perseel is en dis die nuwe Suid-Afrika en ek wil nie snaaks wees nie maar ek laat nie toe dat mense lank hier sit en rondkrap as die son nie skyn nie en toe vertel hy my sy verhaal en dis tussen my en hom want hy het waardigheid, al het hy niks anders nie.
"Meneer, ek soek nie moeilikheid nie. Ek is honger want ek het moeg geword op pad huis toe. Meneer weet hoe ver dit is Groot Brak toe. Ek kry nie 'n lift nie, meneer. Ek werk by ... en ek bly in ... Meneer weet hoe ver dit is. Ek het Meneer se asdromme uitgepak vir die kartonne want ek kan nie verder loop nie. Ek het gedog ek gaan hier by Meneer se plek slaap want hier’s genoeg lig, so die skollies gaan my nie weer pak nie. Ek sal dit môreoggend vyfuur alles terugsit en die plek skoonmaak vir Meneer. Meneer sal nie eers weet ek was hier nie. Ek wil net hier in die lig wees, Meneer."
"Het jy al geëet?"
"Nee Meneer, maar ek's nie honger nie ... ek’s OK."
My klogoete karring oor die groot bak kos en of ons dan nou alleen gaan eet vanaand. Ek sê ja, ons gaan en hulle beduie dat hulle nie so grootgemaak is nie en hier sit 'n man buite wat dalk nog nie geëet het nie. Hulle haal 'n roomysbak uit en skep hom vol, "want hier’s 'n oom wat honger is hier buite".
Ek sit hier in my gerief en my gemak en dit maak nie sin nie. Dit maak bloot net nie sin dat daar mense is wat dit waaragtig durf waag om te staak en dit waarvoor ander letterlik hul bene voor sal gee afbrand en vernietig bloot omdat een of ander siek kwasi-filosoof verkondig dat dit jou reg is. Ek sit en lees die bedrae wat spandeer word aan allerande snert en ek sit en wonder waarom die presidente en premiers en ministers en dikgevrete sakemanne en blink filosowe en die "geharde opposisie" wat ieder en elk vir juis hierdie dude behoort te baklei in sulke luuksheid leef terwyl die gaapoog-massas steeds in vervoering agter hul hol woorde aan dans.
Ek het nie 'n antwoord nie en sal heel waarskynlik nooit hê nie. Ek is doodseker die politici en ander moordenaars sal met lang teorieë vorendag kom ...
oester

