My hart soek net een. Vinnig word ek gekeer deur ’n groot lelike bloedrooi draak. Skrikkerig kyk ek na die draak; ek weet dit is die einde!
Soos wind sweef ek van een groot spookasemwolk na die ander. Watte wat afgetrek word in klosse; stukkie vir stukkie proe ek die soet in my mond. Taai rooi suikerringe rondom my mond en gevlekte vingers.
Ek sien nie mense nie, net lang suigstokkies, sjokolade, toffies, koekies – alles in verskillende kleure en geure. In die middel van die stad is daar ’n groot boom met die lekkerste lekkers. Die mooiste rooi en oranje suiglekkers aan die boom.
“Wat soek ’n kind in my droom?” vra hy.
“Altyd lekkers?”
“Ma en Pa gee mos niks vir jou nie?”
So ’n draak praat mos nou die waarheid. Hoe kon ek dit nie gesien het nie?
“Di ... t, dit is so, ja.” Onseker van myself.
“Wel, die goeie nuus is, ek kan jou help, Xander.”
“Kom nader, dan fluister ek in jou oor.”
Verskrik kyk ek na die draak en wonder hoe ken hy my. Die gedagte steek vas in my verstand, maar dit is seker nie so belangrik nie. Wat nou belangrik is, is om een van daardie lekkers te kry.
“Ek kan sien, Xander, ek kan sien hoe jy besig is om te beplan om een van my lekkers te steel.”
“Al wat jy moet doen, is om my net te vra, Xander.”
Ek neem een lekker en sit dit vinnig in my mond. Die smaak is fantasties; my mond smelt saam met die soet. Hoe soeter die lekker is, hoe stywer word my bene. Soos ek wil begin stap, steek ek vas.
“Kan jy nou sien hoe baie vriende ek gevang het, Xander?”
Ek kan nie beweeg of praat nie – net die soet smaak in my mond word meer. Ek kyk na die wolke en onthou hoe ek hier gekom het. Vinnig poog ek om ’n oplossing te vind, om uit die slegte plek te kom.
’n Groen wurmpie kom sit op ’n groot suiglekker voor my.
“Xander, ek kan sien jy is op soek na ’n oplossing vir jou probleem.”
“Jy weet natuurlik jy is nou in sy wêreld vasgevang omdat jy nie geluister het nie.”
“Die wêreld waarin jy nou is, Xander, is die draak se wêreld.”
“Die enigste manier waarop jy hier gaan uitkom, voor jy lyk soos al die ander lekkergoed, is om te weet watse fout jy gemaak het.”
Ek begin onthou dat Ma my gevra het om die kamer skoon te maak. Ek het besluit ek gaan slaap. Met die gedagte ...
“Xander! Is jou kamer al opgeruim?”
>>> Skryf in vir die kompetisie. Klik hier vir nog inligting.

