Joey loer grootoog om die ou eikeboom se stam na waar Mamma en tannie Susan op die stoep sit en tee drink. Die twee gesels al te lekker. Mamma sal haar nie mis as sy gou wegglip nie. Sy wil vir Riekie, haar draakmaatjie, gaan vertel van die groot geheim wat Mamma nou net vir die tannie vertel het.
"Riekie! Riekie! Waar's jy?" roep Joey soos sy met die voetpaadjie af huppel rivier toe, waar Riekie woon. Haar gedagtes is so besig by dit wat sy gehoor het dat sy nie die sagte geritsel in die gras voor haar hoor nie.
"Woep," swiep iets warms meteens voor haar bene verby. Sy skrik so groot dat sy karplaks op haar boude beland.
"Hiehiehie," hoor sy vanuit die lang gras. Haar hartjie gee ’n bokspring.
Riekie se groot ondeunde oë verskyn tussen die gras.
"Sies man, Riekie. Ek het my byna morsdood geskrik. Jy is sommer ’n nare draak," raas Joey verlig en staan op.
"Hiehiehie," giggel Riekie en hop op haar fris agterpootjies tot voor Joey.
"Ek kan tog ook nou vuur blaas soos Mamma," gloei sy trots. "Kyk net."
Sy trek ’n stroom lug by haar neus in, haar borsie swel, die webagtige vlerkies lig effens, en die stewige stert sak in gereedheid. Sy pers haar lippies stewig opmekaar en blaas dan verwoed.
Twee lang vlamme peul by haar neusgate uit.
Joey staar verwonderd. Sjoe! Die vlamme is warm. Sy tree terug.
Riekie blaas nog harder, baie trots.
Die hitte skroei Joey se vel. Sy gee benoud nog ’n tree terug.
"Stop dit, Riekie!" hyg sy nou bang.
Daar is egter geen keer aan die drakie nie – sy blaas net harder.
Joey se rompie slaan aan die brand.
"Help!" gil sy histeries.
Die vlamme lek hoër; die hitte brand haar bene. Sy ruik hare wat skroei.
"O hel," kreun Riekie. Haar blou draakgesiggie is wit geskrik. Sy probeer die vlamme met haar vlerke doodklap, maar skroei hulle net.
Skielik lig groot kloue vir Joey van haar voete af. Sy gil, voel hoe sy deur die lug trek en land dan in die yskoue rivierwater. Weer is die kloue daar – dit pluk haar uit die water en lê haar saggies op die kweek langs die rivier neer.
Joey kyk verskrik op, sien die massiewe draak oor haar troon. Maak haar mond oop om weer te gil, maar sien dan hoe sag die oë na haar kyk. Sy weet sommer dis Riekie se mamma.
"Eina, oe eina. My bene brand vreeslik," huil sy.
"Toemaar kindjie, toemaar, " troos Moeder Draak. "Ek gaan vir jou spoegies opsmeer, dan is jou bene sommer dadelik gesond." Sy steek ook sommer haar lang tong uit en gee Joey se bene ’n taai lek.
Haar tong voel vir Joey soos ’n rasper, maar dan, skielik, is al die pyn weg. Sy hou op snik en sit regop.
Haar oë trek pierings.
Haar bene is vol taai groen spoeg én is stewig aan mekaar gegom!
"Trieng-trieng-trieng," dring die koshuisklok deur Joey se droom.
>>> Skryf in vir die kompetisie. Klik hier vir nog inligting.

