Draak-sprokie-kompetisie: Gunsteling-draaksprokie

  • 0

“Hallo Oupa!”

“Hallo my kind, hoe gaan dit met my dier?”

“Goed dankie Oupa, en met Oupa?”

“Goed, goed, jong. Wag, laat ek raai, jy het seker gekom vir ’n storie, of hoe?”

“Ja! Asseblief Oupa!”

“Nou ja toe, kom sit hier op my knie dan vertel ek vir jou die mooiste storie wat daar al ooit geskryf is.

“In die dae toe babatjies nog blou boudjies gehad het en mammas en pappas nog van suigstokkies gehou het, was daar ’n drakie. Hy het in ’n swart skuiling, of ’n gevaarlike grot as jy dit so wil noem, gewoon. Al kon hy vuur blaas en alles, was hy ’n baie hartseer klein outjie.”

“Hoekom was hy dan hartseer, Oupa?”

“Wel, dit was omdat hy so lelik was. Niemand wou eers met hom speel nie. Hy het elke aand gehuil en gehuil totdat hy nie meer kon huil nie en sy trane net warrelwindjies was. Hy sou in die oggende vroeg langs die bospaadjies gaan wegkruip en stilletjies sit en wag vir die ander diertjies om verby te kom. Dan sou hy hulle agtervolg tot by hulle speelplek en skaam-skaam uitkom en vra of hy nie maar kan saam speel nie. Hulle sou net lag en sê: ’nee, jou ou lelike draak, hoekom sal ons ooit met jou vriende wil maak? Jy spoeg en jy blaas, en maak ’n aaklige geraas, en immers is jy nie een van ons maats! Miskien as jy kon vlieg, maar hierdie draak, moet bieg, word nog deur my mammie aan die slap gewieg.’ Dan sou hulle lelike gesigte vir hom trek en vinnig weghardloop.”

“Haai, Oupa, hulle was darem rêrig lelik!”

“Eendag gaan speel die drakie weer alleen saam met die skoenlappers in die veld. Van daar af kon hy sien hoe die ander diertjies op die berg speel. Hulle het gegil en gegiggel en baljaar terwyl vlooitjies hulle op hulle boudjies byt en die drakie het gewens hy kon saam speel. Skielik gewaar die drakie toe iemand wat agter ’n groot rots skuil. Wie kon dit wees?

“Dit was die gek geel heks wat die diertjies se giggels wou gryp! Drakie het geweet hy sal hulle moet waarsku, en gou ook. Hy het probeer skree, maar alles verniet – op die horison het die donderweer gebulder en sy stemmetjie is in die wind weggewaai. Daar was net een oplossing. Hy moes vlieg! Hy wat drakie was, moes leer vlieg, en gou, anders sou die diertjies op die berg nooit weer giggel nie.

“‘Maar hulle was so lelik met my,’ het die drakie vir homself gesê. Drakie het egter geweet dat hy net so sleg soos hulle sou wees as hy sou omdraai en wegloop.

“Hy knyp toe sy ogies styf toe en sprei die klein, viooltjie-blou vlerkies agter op sy rug. Hulle was pap en sag en wou net nie styf word soos sy pa s’n nie. Drakie het sy ogies net stywer en stywer toegeknyp en hom verbeel hy sweef klaar hoog bo die bome. ’n Klein fantastiese feetjie het die gedoente staan en beloer en vir haarself gesê: ‘Die drakie met die smart het darem maar ’n goue hart. Ek sal hom met blinkertjie-poeier laat sweef en so die gek geel heks laat beef!’

“Toe vlieg sy oor die drakie se kop (wie se ogies so styf toe was dat hy haar nie eers raakgesien het nie!) en strooi die wonderlikste silwer sandjies oor hom.

“Drakie het skielik gevoel hoedat sy vlerkies stywer en stywer begin word. Toe begin hy hulle klap. Eers stadig en toe al hoe vinniger, totdat hy gedink het hulle sou sekerlik afskeur. Net toe begin hy opstyg, hoër en hoër en selfs nog hoër, totdat die bome net spikkeltjies op die grond was.

“Hy kon nou duidelik die gek geel heks sien soos wat sy vir beertjie bekruip. Met ’n ’niemand steel my vriende se giggels nie!’ pyl hy reguit op die geel gevaarte af. Drakie kon sonder moeite die heks agter haar ore gryp en het haar hoog die lug in gelig. Hy het haar gedra tot by die eindelose skeur tussen werklikheid en sprokies en haar daarin laat val.

“Van daardie dag af het die eensame drakie baie vriende gehad en was hy Wildeabeloonland se held vir altyd en altyd.”

“Wat het van die heks geword, Oupa?”

“Jong, waar dink jy kom jou ouma vandaan?” sê Oupa, en die twee het tot laat daaroor gegiggel.

>>> Skryf in vir die kompetisie. Klik hier vir nog inligting.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top