“Het jy dié gesien?!” Mollie druk die koerant onder Donna se snoet. Donna skrik wakker en sug. Dis nie aldag maklik om ’n draak te wees nie. Veral nie as jou beste vriendin ’n opgewonde heks is nie.
Donna se oë moet amper oor mekaar kyk om die opskrif te kan lees: "Towerrooftogte neem toe”.
Mollie ruk die koerant weg. Haar punthoed wip op haar bos krulle soos sy op en af marsjeer. “Magtige toweritems van régoor die wêreld is gesteel! Een van Aspoestertjie se glasskoene; Sneeuwitjie se pratende spieël; gedroogde blare van Skoonlief se roos; Rooikappie se mantel. Áls is weg!”
Sy en Donna deel ’n bekommerde kyk. Almal weet mos drake beskerm hordes skatte. Almal weet ook dat toweritems ’n groot deel van sulke skatte uitmaak.
Donna draai haar glinsterende kop in die rigting van ’n rotsbedekte opening agter in haar grot. “Van dié goed kan gevaarlik wees in die verkeerde hande.”
“Ek weet!” Mollie tik ingedagte haar voet op die warm grond. Skielik breek ’n groot glimlag uit oor haar besproete gesig.
Donna kreun. “Jy wil hulle vang, nè?”
Mollie knik entoesiasties.
Donna plof net gelate haar groot kop neer.
’n Week se nagte van angstige wag gaan verby – sonder ’n teken van die rowers.
“Miskien stel hulle nie eers in my ou skatjie belang nie,” gaap Donna.
“Ons kan nie nou laat slaplê nie,” laat Mollie ontstoke hoor.
Donna kyk skepties na haar soos nét ’n draak skepties kan kyk.
“Goed, goed. Maar ek ís nou hier.” Mollie maak haarself gemaklik voor sy toegee. “Nog net vanaand.”
Mollie skrik wakker. Sy is seker sy’t ’n geraas gehoor wat nie in die grot moet wees nie. Sy stamp aan Donna se vlerk wat half oor haar gesprei is soos ’n kombers.
Donna lig een groot ooglid. Sy kan die flou liggie van ’n opgetowerde ligbol sien aankom.
Mollie se oë rek so groot soos pierings. “Die rowers.”
Die rowers kom nader. Hulle probeer nie eens saggies beweeg en praat nie. Hulle dink die grot is leeg – almal weet mos drake jag in die nag.
Donna en Mollie staan reg om hulle plan uit te voer. Die skaduwees versteek hulle sodat die rowers hulle nie sien nie. Die rowers loop reg by hulle verby.
Donna gee ’n vreesaanjaende brul en spoeg ’n massiewe boog vuur. Mollie roep ’n magtige towerspreuk uit wat die vuur ’n sirkel óm die rowers laat vorm.
Die rowers is heeltemal vasgevang!
Die volgende oggend word Donna weer eens uit haar slaap geruk deur ’n koerant teen die snoet.
“Het jy dié gesien?!”
Die opskrif is al wat Donna op die oomblik kán sien: “Heldhaftige vriendinne fnuik
internasionale rowers!”
Die koerant word weggeruk en vervang met Mollie se breë glimlag.
Donna gee die glinstering in haar vriendin se groot oë net een kyk. “Wat nou weer?”
“Die Koning van die Dwerg-myne word besteel. Hy het ’n boodskapper gestuur om ons te kom haal …”


Kommentaar
Fantastiese storie! Mal daaroor!