Draak-sprokie-kompetisie: Die draak en die prinses

  • 0

Lank gelede, op die plek waar sprokies meestal afspeel – ’n geil vallei met ’n digte woud en ’n kasteel – het ’n draak gewoon.

Volgens tradisie was die draak se tuiste ’n grot, geleë op ’n hoë berg. Die draak het gereeld vuur geblaas, gewoonlik in die nag, sodat die angsvervulde inwoners van die dorpie aan die voet van die berg die oranje vlamtonge beter kon sien. En so dan en wan het hy ’n bok- of skaaplam gaan steel: helder oordag uit die lug geswiep en die blêrende diertjie met lang kloue opgeraap. Dan het die dorpsmense haastig hul kinders en diere opgesluit en vir ’n week of wat lig geloop.

Die draak was egter lankal verveeld met sy stereotipe rol – en hy was ook eensaam. Wat hy die graagste wou hê, was ’n vriend met wie hy die geheime van sy groen dog sagte draakhart kon deel.

Wanneer die draak so af en toe vir homself ’n bietjie verlof veroorloof het, het hy in die digste, diepste deel van die woud gaan stap.
Op so ’n dag het die draak rustig deur die ligpatrone van son deur lower en die plotselinge kleur van feëtjiepaddastoele gewandel.

Eensklaps hoor hy iets. Daar is dit weer: ’n liedjie wat op die briesie aangewaai kom; ’n lieflike liedjie wat sing van versugtinge en iemand wat kan verstaan …
Die draak kruip saggies nader en loer van agter die stam van ’n reuseboom. In ’n oopte sit ’n pragtige meisie met lang raafswart hare op ’n boomstomp en sing. Om haar voete baljaar wouddiertjies en in die bome tjilp voëltjies saam.

Die eekhorinkies het hom die eerste gewaar. Met stertjies omhoog skarrel hulle teen die boomstamme op. Die meisie gil toe sy die draak se groot groen gesig gewaar.
‘Moenie bang wees nie,’ sê die draak en vou sy vlerke toe om minder dreigend voor te kom.

‘Jy kan praat?’ vra die meisie verbaas.
‘Ek hou van jou liedjie,’ antwoord die draak. ‘Ek weet hoe jy voel.’
‘Maar jy’s die nare draak wat lammers steel,’ sê die meisie beskuldigend.
‘Dis deel van my kontrak,’ sug die draak. ‘Die lammers floreer op my plasie agter die berg waar ek groente kweek.’
‘En die vuurblasery?’ vra die meisie agterdogtig.
‘O, dis wanneer ek groente vir aandete braai. Ek’s ’n vegetariër.’
‘Arme jy,’ sê die meisie. ‘Ek verstaan jou dilemma. Ek’s ’n prinses en daar word van my verwag om met ’n aantreklike prins te trou en vir ewig gelukkig te lewe. Maar ek hou van my onafhanklikheid en sal veel eerder my lewe met boeke en diere deurbring.’

Die koning het bitterlik getreur toe sy oudste dogter een vroeë herfsoggend deur die draak opgeraap is, maar het troos gevind toe sy jongste dogter met ’n naburige prins getrou het.

En die draak en die prinses?
Op donker aande kan jy die vlamme van hul groentebraai sien, en soms bring die wind die eggo van ’n lieflike liedjie …

    
    
>>> Skryf in vir die kompetisie. Klik hier vir nog inligting.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top