Toe Albertus wakker skrik, bevind hy hom in ’n digte woud.Waar sou hy wees? wonder hy. Dis nou al vier sonsondergange wat hy van sy blyplek weg is. Hy is die wye wêreld ingestuur om “homself” te vind. Dít net omdat hy nog nooit soos ander jong drake vuur gespoeg het nie. Sy familie was baie hartseer, maar hulle kon niks daaromtrent doen nie … hy moes draakalleen die wêreld gaan verken. Voor hy nie vuur spoeg nie, mag hy nie terugkeer nie. Só het Koning Draak hom gebied.
Vir wat moet hy homself vind? Hy weet mos waar en wie hy is, sug Albertus. Vir baklei en kwaadword het hy glad nie lus nie. Hy is vriendelik met almal, en almal is vriendelik met hom. As hy nooit vuur spoeg nie, sal dit hom nie pla nie.
Albertus is baie honger en dors. Hy hoor die gekabbel van ’n waterstroom en hoop om knolle en bessies daar te kry. Hy eet nie vleis nie – daarvoor moet hy doodmaak, en dít kan hy nou maar net nie doen nie.
Skielik hoor hy ’n vrolike gefluit. ’n Kind met ’n wilde bos rooi hare kom tussen die bome deur aangestap. Hy dra ’n groot mandjie.
“Hallo daar!” roep die kind. “Ek het jou nog nie vantevore hier in die woud gesien nie. My naam is Rooie. Ek is op pad na my oupa toe. Hy is siek en ek neem elke dag vir hom gesonde kos en medisyne. Ek is ook nou dors en honger. Hier is genoeg vir jou ook,” nooi die vriendelike kind.
Albertus is baie bly oor die heerlike kos wat Rooie vir hom aangee. Hulle gesels lekker en hy vertel vir Rooie sy hartseer storie.
“Totsiens, Albertus. Ek sal elke dag vir jou uitkyk en jou iets uit my mandjie gee om te eet,” waai die kind vir hom toe hy vrolik verder stap.
Lank kyk Albertus die vriendelike kind agterna. En dan sien hy dit: ’n Groot, sluwe wolf spring voor die kind in. Hy gryp die mandjie en hardloop vinnig daarmee weg.
Dis al wat Albertus nodig het. Sy nekare begin swel. Sy tong swel op en word vuurwarm. ’n Groot wolk van vuurrooi vlamme spuug by sy mond uit. Dit neem lank voor die kwaai-rooi vuurvlamme verdwyn en die lug weer helderblou is.
“Albertus, Albertus! Dit was asemrowend. Jy is nou ’n ware draak. Nou kan jy teruggaan na jou familie toe … dis wonderlik. En kyk, die nare ou wolf is skoonveld en daar staan my mandjie met alles nog daarin. Baie, baie dankie, Albertus.”
“Totsiens Rooie, ek hoop jou oupa word gou gesond, en ek dink nie jy sal ooit weer vir Wolf sien nie,” lag Albertus.
Nog lank voor Albertus by die huis kom, het Duif, Koning Draak se nuusdraer, die blye nuus gebring.
Albertus is nog steeds die vredeliewende draak. Sy vuurspoeg is net vir noodgevalle om ander te beskerm.
>>> Skryf in vir die kompetisie. Klik hier vir nog inligting.

