Draak-sprokie-kompetisie: Agter elke bende...

  • 0

“Dit raak darem nou heeltemal te erg.”

Drietjie trek geïrriteerd aan die tossels op haar pienk pantoffels.

“Dis nou al meer as drie weke sedert Darius en die Draakstekers se nederlaag teen die bostrolle en hulle lê nou nog en jammer voel vir hulleself ! Waneer laas het hulle ’n poets op die dorp gebak of sommer net op ons sterte getrap?”

Dina skud haar kop terwyl sy groen naellak op Dessie se kloue verf en is sommer ekstra vies toe sy daarvan op haar gunsteling pers pajamas mors. Sedert die Draakstekers deur die Bedorwe Bostrolle in hulle maandelikse skermutseling verslaan is, is daar nie eens ’n roering in die Draakstekers se bendehuis nie.

“Dalk moet ons hulle na ons volgende pajamapartytjie nooi? Al is dit nou net om hulle te terg,” giggel Drietjie.

“Enigiets sal beter wees as daardie gevrektheid wat oor hulle bendehuis hang.” So gesê en so gedaan.

’n Paar aande later strompel drie stowwerige drake gemaak trots by die bek van Drietjie-hulle se grot in. Darius probeer nog ewe sy Draakula-pantoffels afwys, maar plof sommer weer mismoedig neer. Drietjie, Dessie en Dina steur hulle min aan die triestige gevrete en val sommer dadelik weg. Hulle skuur geskeurde naels weer gelyk, skrop gras en grond tussen skubbe uit, buig sterte reguit, stryk vlerke weer plat en trek selfs gebreekte tande uit sodat die nuwes plek het om uit te groei.

Kort voor lank wys die Draakstekers weer hulle skerp kloue vir mekaar af, flap hulle vlerke met bultende spiere dat dit sommer so suis en piets hulle sterte windmakerig heen en weer.

“Nou wanneer skinder en kerm julle dan? Ek dog dis waarvoor pajamapartytjies daar is!” vra Darius verbaas terwyl hy voel hoe ver sy nuwe tande al uitgekom het.

Drietjie bars onmiddellik uit van die lag. Daardie nag kon Drakenstein nog die gekletsery tot laat in die nag hoor.

Die volgende oggend was dit drie aansienlik dapperder Draakstekers wat oor die bergtoppe wegvlieg in die rigting van die Bose Bos. Dit was weer tyd vir die maandelikse skermutseling met die Bedorwe Bostrolle ...

Daardie aand, toe die son die einste bergtoppe begin rooi verf, het Dessie selfs die groen naellak van haar kloue begin afvreet.

“Wat as hulle hierdie keer nie eens terugkom nie?” het sy saggies gevra.

“Hulle sal terugkom. Onkruid vergaan nie so maklik nie,” was Drietjie se antwoord terwyl sy die verte in staar.

Haar woorde was nog nie koud nie toe sy die Draakstekers aangevlieg sien kom. Die sterte was weer skeef en polle gras en grond het ook weer van hulle vlerke afgeval soos wat hulle aangeflap gekom het, maar Drietjie kon sommer aan die huppel in hulle wip sien dat dit die Bedorwe Bostrolle is oor wie se bendehuis daar vanaand ’n gevrekte stilte gaan hang ... want agter elke bende staan ’n pajamapartytjie!  

>>> Skryf in vir die kompetisie. Klik hier vir nog inligting.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top