Wetenskaplikes is gedurig op soek na nuwe spesies om die legkaart van lewe hier op aarde te voltooi, en ontdek hulle dalk ’n fossiel wat hulle nog nooit vantevore gesien het nie, dan is dit sommer die kersie op die koek.
Twee sulke fossielsoekers, die Amerikaners Neil Schubin en Steve Gatsey, het in 2004 gedurende die somer gaan kampeer op die Ellesmere-eiland. Hulle is deskundiges op die gebied van vis en bestudeer ook vierpotige landdiere. Hulle kon duidelik die verband sien tussen die twee en het doelbewus gesoek na so ’n oorgangsfossiel.
Dit was Schubin wat hierdie eienaardige fossiel ontdek het toe hy op ’n plek die ys begin oopbreek het. Na ’n paar dae se gehamer en getimmer kom hulle op die snoet af van hierdie dier. Gatsey het toe die res van die somer geneem om die fossiel uit te kap sodat dit na die laboratorium geneem kon word.
Hulle het die dierasie die Tiktaalik genoem wat iets soos “varswatervis” beteken in die taal van die Inuïete, die inboorlingstam van die eiland. Die Tiktaalik het skubbe soos ’n vis op sy rug, maar dit het ’n plat kop en nek soos ’n landdier. Sy vinne het ooreengekom met dié van ’n landdier se pote, en het bestaan uit ’n boarm, voorarm en beentjies wat ooreenkom met dele van ’n hand. Daarbenewens het dit ook ooreenstemmende gewrigte gehad wat later die skouer, elmboog en gewrig van die landdier geword het. Hier het hulle uiteindelik ’n 375-miljoen jaar oue fossiel ontdek wat ’n skakel is tussen die lobvinvis en die viervoetige gewerwelde landdiere.
Weliswaar, was daar ander oorgangsfossiele wat ook die verband getrek het tussen see- en landdiere, soos die Eusthenopteron, die Coelacanth en die Acanthostegra, maar die Tiktaalik is die oudste fossiel waarvan die vinne duidelik die oorgang na gewrigte, handpalms, en vingers aantoon.
As ‘n mens dus jou gewrig sou buig, jou vingers en hand sou oop en toe maak, jou hand gebruik om sy mes en vurk vas te hou, dan gebruik ‘n mens die gewrigte wat eerste hulle verskyning gemaak het by die halfvis halfdier, die Tiktaalik.
Groete
Angus

