Die kind

  • 4

Vir die polisiemans en -vrouens

Die luitenant kry die oproep net na twee in die oggend. Hy is deurmekaar. “Luitenant beter maar uitkom. Sorrie, ek weet jy was besig tot vanaand laat. Fonteine-sirkel. Malletjie ... ag sorrie, ek meen ... versteurde kind.” Die polisieman draai weg van sy vrou en fluister deur sy tande: “Dis na twee sersant..”

Hy word in die rede geval. “Dis kaptein se orders, Luitenant, sorrie man. Ons wag.”

Die huis se stilte is oorweldigend. Sy vrou trek die kombers oor haar skouers terwyl hy haar op haar voorkop soen. Hy sit regop en haal sy sigarette uit die laai, dan staan hy op en begin aantrek.

“Sersant, ek gee nie om wat die kaptein sê nie – daar’s prioriteite en my skuld lê by my familie.” Die polisieman steek nog ’n sigaret aan. Daar’s nie veel karre hierdie tyd van die oggend nie en die polisiemotor se blou ligte verhelder die area. Daar is gebreekte glas orals langs op die pad. Die fonteine-sirkel in Pretoria is beroemd vir die aantal kapings wat daar plaasvind. Die straatkinders wat in die dag bedel en snags vensters stukkend slaan met klippe, om uit desperaatheid, of net baie drugs-braafheid, die karre en hulle passasiers aan te vat. Die polisieman stap na die vangwa. Hy sien die bruin oë lyk verwilderd deur die glas en tralies. Die kind is skaars tien, dink hy. “Maak die deur oop,” beveel die polisieman.

Die polisieman begin in Sotho te praat. Die kind antwoord vinnig en begin te huil. Die wit polisieman met sy perfekte swart taal.  Die kind vertel dat hy nie bedoel het om die kar se venster te breek nie, maar hy is honger en die mense betaal goed vir dit wat hy vang deur die nag. Hy begin harder te praat en die trane vloei, hy vee sy neus gereeld af teen sy arm terwyl hy beduie en verduidelik. Dan gooi die kind sy aanmekaargelapte klere van plastieksakke neer en druk die polisieman styf vas.

Die sersant staan nader. “Los hom, Sersant, julle gaan niks regkry deur hom net nog banger te maak nie. Hierdie kind makeer niks, hy’s net desperaat. Vat hom selle toe en gee hom kos. Môreoggend kan julle social bel en ’n huis van veiligheid vind. En kry vir hom ’n kombers, demmit!”

Die sersant staar die ouer man aan. “Maar Luitenant. die kind het kaal hier rondgehardloop en ‘n klomp goed geskreeu.”

Dis die polisieman se beurt om die sersant aan te staar. “Ek sê nou vir jou vir die laaste keer, die kind is net honger en desperaat, nie versteurd nie.”

Die luitenant stap terug na sy kar. Hy is moeg. Hy skakel die kar aan en vryf sy oë. Hy weet dat die kind in minder as ’n paar weke terug op straat gaan sit. Dis nie ’n ryk lewe nie, maar daar’s groter visse om te braai: die mense wat die kinders monitor om die aand se winste te “deel”. Dan is daar die gevalle waar ouers hulle kinders dwing om vir hulle te bedel. Dis ’n ingewikkelde situasie en die polisieman se grade in sielkunde en forensiese sielkunde sorg dat hy daagliks met die onderkant van die samelewing werk. Uit eie keuse.

Die polisieman staan by sy voordeur en sien hoe die son opkom. Binnekort gaan sy eie kinders opstaan en sy vrou moet regmaak vir ’n gewone werksdag. Sy gedagtes spring na Magoebaskloof toe hy ‘n kind was, en die vryheid om in Rushstraat reg oorkant die polisiekantoor te bly. Sy middae na skool in die Kantoorspruit te speel, tot naby die ou grafplaas. Sy ouma wat vir hom stories vertel het van koningin Modjadji, die reënkoningin. Die reuk van hertzoggies en die skelm vry by die bure.

Dan spring sy gedagtes na die kind van vroeër die oggend. Hoe die kind aan hom vasgeklou het. Hy was vuil en koud.

Die polisieman gaan sit op die wit bankie voor die voordeur. Hy buig sy voorkop en maak sy oë toe.Hy fluister: “Die kind is nie dood nie.”

  • 4

Kommentaar

  • Goeie meelewing van die voorbeeld / uiting van die gebreke wat veroorsaak dat kinders so lewe. Dankie tog vir die polisie wat so optree; baie moeilik om dag vir dag aan die moet reageer-end van die probleem te wees. Renée du Toit

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top