Vir wat stry ons tog so!

  • 9

Kobus sê uitdruklik in sy brief, Die Goddelike hoedanigheid van die HERE Jesus Christus, dat Jesus God is. Cornelius Henn, sê ook dat Jesus God is, en tog is die twee in hewige stryd met mekaar oor wie nou eintlik gesê het dat Jesus God is.

Ek sê ook dat Jesus 'n god is, 'n Romeinse god, soos Jupiter, Sol, Apollo, Mars, Ceres en Minerva. Eintlik het hy al hierdie gode verslaan, Zeus inkluis, toe Konstantyn hom deur middel van die Konsilie van Nicea (325) aangestel het as die enigste god van die Romeinse Ryk. Dis toe dat hy 'n katolieke god geword het.

Vir wat ek sê, is daar geskiedkundige bewyse voor, terwyl Kobus en Cornelius maar net so glo omdat hulle glo dat daar êrens in die hemelruim 'n drie-enige god rondswewe.

Nogtans sê ons almal Jesus is god, of 'n mens nou god met 'n hoofletter of kleinletter skryf, god is mos maar god.

Nou, vir wat stry ons nog?

Groete

Angus

 

  • 9

Kommentaar

  • Kobus de Klerk

    Angus,  lê jou 'geskiedkundige bewyse' voor waarmee jy kan bewys dat Konstantyn vir Jesus Christus deur middel van die Konsilie van Nicea (325) as die enigste 'god' van die Romeinse ryk of hoegenaamd.

     
    Dit gaan oor daardie sogenaamde 'aanstelling' - daarvoor verlang ek die bewyse. 
     
    Daar is wel bewyse dat daar by die konsilie van Nicea bevestig is dat die Christelike Godsdiens die HERE Jesus Christus as God erken en aanvaar (soos reeds van die vroegste kerk nC gedoen is).
     
    Ek verlang ook van jou geskiedkundige bewyse dat die HERE Jesus Christus in 'n stryd was met die Romeinse en Griekse afgode wat jy hierbo noem, anders, hoe kon HY anders daardie afgode 'verslaan' het? 
     
    Dus, bewyse asseblief - jy maak aanspraak dat jy oor sulke geskiedkundige bewyse beskik
     
    Dit is dus eerder 'n geval dat jy kwaadwillig probeer verdraai wat daar by die konsilie van Nicea gebeur het om jou ateistiese siening te probeer regverdig en dat jy nie besef dat die HERE Jesus Christus nog nooit in stryd was met die afgode wat jy noem nie. Wat laasgenoemde aanbetref, was dit nog altyd 'n 'no-contest'. Hulle was versinsels en het dus in die niet van vergetelheid verdwyn (behalwe vir jou wat steeds nie tussen fabel en werklikheid en mite en feit kan onderskei nie) terwyl die HERE Jesus Christus vandag nog steeds heerskappy voer en SY Godsdiens die botoon voer selfs na meer as 2000 jaar - omdat HY God is.
     
    Maar jy vorder - jy erken Jesus Christus is God. Net 'n kwessie van tyd, en jy sal ook kan onderskei tussen die werklikheid van SY bestaan en die mite en die fabels van die afgode waaraan jy nog lippediens bewys.
     
    Jy kan net eenvoudig nie so dom bly dat jy dit nie een of ander tyd wel sal insien nie...
     
    Kobus de Klerk
  • Beste Kobus,

    Jou kommentaar wys net hoe ver jy weg is van die werklikheid. 
     
    Jy weet netso goed soos ek dat al sou ons ook hoe hard probeer om primêre bronne te bekom, ons dit nie sal regkry nie. Die geheime en skandes van die Christengeloof word veilig agter slot en grendel in oa die Vatikaan se argief bewaar. 
     
    Sekondêre bronne is egter volop. Ek kon, as ek wou, jou die titels van tientalle bronne gee, maar jy hou mos daarvan om te google. Doen dus jou eie huiswerk en gaan lees oor die Konsilie van Nicea. 
     
    Ek neem aan jy ken so 'n bietjie geskiedenis, dus kan ons maar sommer ons algemene kennis hier inspan.
     
    Stem jy saam dat die Romeinse Ryk  ongeveer 300 jaar,  voor daar nog van Jesus Christus gehoor is, sy ontstaan het toe omliggende lande verower is? 
     
    Stem jy saam dat daar baie Romeinse gode aanbid is deur die inwoners van hierdie ryk?
     
    Stem jy saam dat die doel van die Konsilie van Nicea (325) was om die Christelike geloof die enigste godsdiens van die Romeinse Ryk te maak?
     
    Stem jy saam dat die Konsilie van Nicea bepaal (jy sal sê bevestig) het dat Jesus Christus God is?
     
    Stem jy saam dat Jesus dus nou die plek van die Romeinse gode ingeneem het?
     
    Stem jy saam dat Arius en sy volgelinge dit hewig teengestaan het, en dat hulle gemeen het Jesus is net  mens? 
     
    Stem jy saam dat Arius en volgelinge van toe as ketters vervolg is, en dat Arius se geskrifte verbrand is?
     
    Nou waarom stry ons dan nog?
     
    Groete,
    Angus
     
    Ns. Kobus, ek sal maar so dom bly totdat jy vir my kan bewys lewer dat Jesus Christus 'n werklike mens op hierdie aarde was en nie 'n fiktiewe karakter nie. 
     
     
     
     
  • Kobus de Klerk

    Angus,

     
    As jy dan nie die 'primêre bronne' kon bekom nie en ander ook nie, omdat dit kwansuis so goed weggesteek word, dan bestaan die sogenaamde bronne wat jou basislose punt kwansuis sou ondersteun net in jou eie verbeelding - dit is jou windmeulens en jy is dan soos Don Quijote wat 'n versinsel wil aanval.
     
    Ek verlang van jou slegs een bron uit die tientalle waar, volgens jou, Konstantyn die HERE Jesus 'aangestel' het as die enigste God van die Romeinse ryk. Aangestel?? Bewys dit.
     
    Wat wel gebeur het, is dat daar by die konsilie erkenning verleen is aan die feit dat Jesus Christus, soos die eerste kerk al geleer het van voor die verdrukking en vervolging van Christene, die enigste ware God is en wat noodwendig daarop volg, dat die paganistiese afgode van die Romeine nie ware gode is nie - in lyn met die ontwikkelde verligte en populêre siening en ervaring van die tyd en steeds vandag, juis omdat dit die enigste werklikheid en Waarheid is. Die konsilie het nie die status van die Romeinse afgode bespreek nie, maar wel die Godheid van die HERE Jesus Christus. Niemand daar het werklik probeer om voor te gee dat die Romeinse afgode ware gode was nie.
     
    Die Waarheid seëvier mos altyd uiteindelik...
     
    Net soos daar vandag nog mense is en net so futiel, het Arius destyds beweer dat die HERE Jesus nie God is nie, maar slegs mens. Hy is die loef afgesteek nes diegene wat dit vandag beweer. En voor hulle, het die judaiste nes Arius, presies dieselfde ding gesê en ook hulle is die loef afgesteek. Wat is nuut?
     
    Dus, jy verstaan nie die dinamika van wat daar by die konsilie van Nicea gebeur het nie - dit was 'n blote Spirituele God geinspireerde suiweringsproses en reinigingsproses waar 'n amptelike standpunt deur die kerk van die tyd ingeneem is en op so 'n manier van die kettery van Arius en kie ontslae geraak is.
     
    Vandag vele eeue later, weet meeste gelowiges nie eens werklik van die konsilie van Nicea en die belang daarvan en wat daar gebeur het nie en steeds glo hulle in die Godheid van die HERE Jesus - sonder dat hulle by Konstantyn se wette of die konsilie beinvloed word - want HY leef en inspireer hulle vandag nes HY die ware gelowiges by die konsilie van Nicea inspireer en ander gelowiges voor hulle en hiernadese nog altyd al inspireer - omdat HY leef en HY is God.
     
    Jou rits vragies is dus betekenisloos in die lig van wat ek hier sê en kan nie eens begin om die werklike issues aan te spreek waarvan ek nou hier praat nie. Dit is waarom jy 'n agnostikus, ateis, agelowige - noem jouself wat jy wil - is... omdat jy net die oppervlak van die saak probeer skraap sonder om die diepte en betekenis van die onderliggende te kan begryp - Spirituele dinge, wat jy nie kan bemeester nie en ook geen begrip voor het nie.
     
    Daarom is jy geheel uit jou liga en val jy tipies vas by 'n titseltjie, 'n spikkeltjie, uit 'n geskiedenis van ontwikkeling van derduisende jare en baseer jou wêreldsiening daarop.  Jy is eenvoudig nie opgewasse om 'n ingeligte opinie uit te spreek oor hierdie Spirituele sake nie.
     
    Kobus de Klerk
  • Beste Kobus,

    Jy bly maar siende blind, en horende doof.
     
    Beantwoord my vrae en jy sal met my saamstem dat die Romeine gode aanbid het. Konstantyn het dit beëindig met die Konsilie van Nicea, toe die Christelike godsdiens (Christianity) die religie van die Romeinse ryk geword het, met Jesus Christus as God. Alle ander godedienaars, en aanhangers van die idee dat Jesus 'n mens is, is vervolg en vermoor. 
     
    Voor die Konsilie van Nicea was Jesus Christus nie 'n god nie en ook nie god van die RR nie. Konstantyn was self eens ook 'n heiden, en selfs met die Konsilie van Nicea het hy getwyfel of Jesus 'n god is.
     
    Ek dink weer jy verstaan nie die dinamika van die die Konsilie van Nicea nie, of jy verdraai dit so dat dit jou pas.
     
    Jy sal verbaas wees wat alles weggesteek word in die Vatikaan se argief. Miskien sal ek jou tog eendag inlig hieroor.
     
    Groete,
    Angus
  • Kobus de Klerk

    Angus, 

     
    Jy sê dat voor die Konsilie van Nicea was Jesus Christus nie God ('n god, soos jy dit stel) nie (en ook nie God van die Romeinse ryk nie). Bewys dit asseblief. Nie dat jy sal kan nie, want dit is snert.

     
    Wat Konstantyn agtergekom het, tydens sy bekering, is dat Jesus Christus nog altyd die enigste God was, ook van die Romeine en die ander net 'n spul afgode, wat van ontslae geraak kan word nes hulle ontstaan het - deur net die besluit te neem. So het hulle verdwyn en vervaag tot blote naampies wat misleide en verwarde mense soos jy van tyd tot tyd prewel (hulle was nooit enigiets meer as dit nie) maar die HERE Jesus Chris was, is, en sal altyd wees en sal daar nooit van Hom ontslae geraak kan word nie, hoe sommige mense nou ookal vir wie weet hoe lankal probeer het. 
     
    Dit was dus vir Konstantyn baie eenvoudig om van die misleidende spul afgode ontslae te raak en erkenning te verleen aan die enigste God Wie nog altyd daar was en sal wees en as sulks gedien is deur die talle Christene wat deur sy voorgangers gemartel en doodgemaak is, naamlik Jesus Christus die Woord en HERE.
     
    Die vergrype van die katolieke kerk daarna, het hier niks mee te make nie en is finaal die hoof gebied deur die hervorming wat daarop gevolg het en groei en gedy die Christendom vandag nog steeds van krag tot Krag ten spyte van mense soos jy se futiele pogings om Hom te diskrediteer - omdat HY God is en HY Lewe.

     
     Konstantyn was self eens ook 'n heiden, ja, en hy het tot bekering gekom. Dalk het hy bietjie gesukkel, want jy weet mos, old habits die hard, maar hy het reggekom en geslaag omdat hy vir die eerste keer in sy lewe, die enigste ware God leer ken en begin dien het.
     
    Ek verlang ook die vorige brief se bewyse van jou soos ek aangevra het.
     
    Kobus de Klerk
  • Beste Kobus, 

     Jy dring so aan op bewyse, en tog skram jy weg wanneer ek jou bewyse vra vir die bestaan van Jesus Christus. 
     
     Soos ek alreeds gesê het, netsoos jy, het ek ook nie toegang tot primêre bronne nie. Selfs al sou ons ook, daar lê 80 kilometer se boekrakke in Die Vatikaan se argief, en dit nadat Napoleon baie daarvan weggedra het.
     
    Sekondêre bronne is daar wel. ? Interessante boekie is die van Warren Daniels: Councils of the Church A History of the Ecumenical Councils of the Roman Catholic Church.
     
     Dit is ? kort samevatting van al die konsilies vanaf Nicea (325) tot die een-en twintigste konsilie van die Vatikaan 1962 tot 1965). 
     
     Hierin sal jy lees dat Nicea hoofsaaklik te doene gehad het met Arius, m.a.w. of Jesus mens of god was. Indien Jesus net mens was, kon hy nie die God van die RR wees nie. Daar is besluit dat hy wel ? god is, en Arius en sy volgelinge is as ketters verklaar.
     
     Hierin sal jy ook lees dat die oorlog tussen Konstantyn en Licinius baie bygedra het tot die religieuse konflik in die RR en as gevolg daarvan is die Konsilie van Nicea belê.
     
     Hierin sal jy ook lees die Konsilie van Nicea ook gegaan het oor die twee-enige God, die vader en sy seun, Jesus Christus. Die Heilige Gees is eers met die tweede Konsilie van Nicea te Konstantinopel (381) bygevoeg.
     
     Kom nou, Kobus, nou vra ek van jou bewysstukke uit die geskiedenis vir die bestaan van Jesus Christus. Moet nou nie kom met jou bewys van die miljoene der miljoene Christene vir wie hy dan ? werklikheid sou wees nie. Al die gode het ook miljoene der miljoene aanhangers gehad. Sodra jy jou takie bevredigend afgehandel het, sal ek met my tweede, en drasties ernstiger bewys kom.
     Tot dan, 
     Groete, 
     Angus
  • Kobus de Klerk

    Angus,

     
    Daniels is seker een van jou obskure bronne waarvoor julle agnostici sou lief is want nie hy of sy werk wat jy na verwys is bekend nie - maar ten beste vir hom (en vir jou) doen hy sekerlik ook maar net wat alle ander akademici doen - hulle kies van tyd tot tyd verskillende onderwerpe in hul veld van onderrig en skrywe dan referate daaroor om aan hulle werkbeskrywing te voldoen en hulle kwota gepubliseerde kommentare en artikels te behaal anders word hulle poste hersien en is hulle poste en reputasies in gevaar. Vandaar die massas akademiese snert van daardie soort wat die rondte doen. Die goed word dus nie geskrywe omdat dit werklik nuttig of selfs noodsaaklik is nie. Ek het gemeen jy sal darem mos uit jou eie ondervinding weet...

     
    Ek verwys jou nou weer na die twee kommentare hierbo wat ek weergee en stel voor dat jy dit weer sorgvuldig lees, want jou reaksie daarop is die aanduiding dat jy dit glad nie begryp nie. Daar is dus geen punt in dat ek dit weer sal herhaal nie - jy steek nou vas by daardie punte omdat jy nie begryp waarvan ek praat nie of jy is gewoon sommer net kwaadwillig - hoe ookal, ek laat dit daar. JY sal sien dat jy grepies uit 'n eeue lange aanloop en geskiedenis neem wat jy dink jy kan onder die knie kry en dan pas jy boonop jou agnostiese gebrek aan insig daarop toe - jy behandel niks in hul konteks van die groter geheel nie. Neem nou hierdie wenk en bestudeer weer wat ek hierbo weergee.
     
    As jy steeds nie kan agterkom wat aangaan nie omdat jy steeds alles op die oppervlak langs skeer en dus nie die insig ontwikkel om te besef wat werklik aangegaan het nie - eenvoudig eintlik omdat die konsilies bloot maar reeds bestaande geloof, feite en beginsels bevestig het en as sulks as kerklike dogma vasgelê het.
     
    Die werke  en bestaan van die konsilies verteenwoordig 'n minuskule moment in die ontwikkeling en vestiging van die enigste ware Godsdiens wat by daardie konsilies bloot as amptelike kerkbeleid bevestig en gevestig is - die eintlike doel van daardie konsilies. Indien jy die eeue-oue aanloop en die voor- en na-geskiedenis rondom die konsilies nie ken en begryp nie, is jy verlore soos wat jy wel blyk te wees. 
     
    Glo my, Konstantyn se onderonsies met sy landgenote het werklik geen invloed op enigiets wat in die Christelike Godsdiens van waarde is nie. Al wat van waarde is, is dat Konstantyn, 'n afgodeaanbidder, tot sy sinne gekom het en tot insigte gekom het van wat nog altyd voorheen bestaan het in teenstelling met sy bedroë lewe as afgodsdienaar en tot bekering gekom het en dinge daarvolgens georden het. Hy was maar net nog iemand - een van baie ander - wat tot bekering gekom het en wat hy vermag het, het hy vermag onder leiding van en die inspirasie van God, van die HERE Jesus Christus, nes Paulus en andere voor hom en talle ander na hom.
     
    Wat bewyse vir die lewe en Godheid van die HERE Jesus Christus aanbetref, hoef ek jou niks te bewys nie. Ek, saam met miljoene ander mense regoor die aardbol, het 'n persoonlike verhouding met die HERE Jesus Christus en ons weet Wie HY is en dat HY God is. Waarom sou ek die behoefte ontwikkel om dit aan jou te wil bewys? Dat ek die HERE Ken en met Hom 'n persoonlike verhouding het en nie in die geringste aan SY Godheid ne bestaan twyfel het nie, is my gewin en jou volslae verlies.
     
    Dus, alvorens ons nou in sirkels beweeg met hierdie gesprek, is daar niks verder vir jou te sê nie. Jy het insigte en inligting verkry wat ek aan jou weergee het. Deel daarmee of bly in jou insigloosheid en onkunde.
     
    Kobus de Klerk
  • Beste Kobus,

     
    Ek twyfel of Daniels so obskuur is as wat jy te kenne wil gee. Ek merk dat sy werk ook op Kindle is. 
     
     Jy wil nou voorgee dat dit wat hy geskryf het, onbetroubaar en onjuis is, dan sal jy jou eie navorsing oor die Konsilie van Nicea moet voorlê (met betroubare bronne) om hom verkeerd te bewys. 
     
     Al waarop jy konsentreer, is my kastige onvermoë om te begryp, en my kastige “agnostiese gebrek”. Jy vergeet gerieflikheidshalwe van jou spirituele hallusinasies. 
     
     As jy beweer dat Konstantyn geen invloed gehad het op die religie van sy Ryk nie, dan het jy absoluut geen insig in die geskiedenis van die RR nie. Hy het besef dat die RR besig is om te verval, en een van die redes daarvoor was die menigte gode en godsdienste. Om standvastigheid te verkry het hy die Konsilie van Nicea belê. Nie dat dit veel gehelp het nie, want die RR was alreeds besig om te verval. Die verval van die RR word deur geskiedskrywers grootliks toegeskrywe aan die invalle van die barbare, en die wegbreek van tradisies, die wegdoen van godeaanbidding, die Christelike religie wat die staatsreligie geword het, en die outokratiese regeringstelsel. (LW dis nie ek wat so sê nie. As jy nie ? behoorlike biblioteek tot jou beskikking het nie, kan jy dit nogtans google.)
     
     Dit moet beslis jou spirituele verwarring wees wat veroorsaak dat jy dit nie kan verstaan nie. Anders moet jy maar jou skoolgeld gaan terugvra.
     
     Ek vra nog steeds dokumentere bewys daarvoor dat Christus ? historiese figuur was. Miljoene gelowiges is geen bewys nie; hy bly nog steeds ? skepping van die menslike verbeelding. Miljoene glo in gode soos Shiva, Durga, Brahma, Vishnu, Suraswati, Krishna, Rama en ? mag der menigte meer. Dit is nog nie ? bewys dat hulle werklik bestaan en nie skepping van die verbeelding is nie. 
     
    Groete,
     Angus
  • Kobus de Klerk

    Liewe aarde, Angus, waarom sou jy ''dokumentêre bewys daarvoor dat Christus 'n historiese figuur was' verlang, as jy hier, vandag, Hom in persoon kan ontmoet wat enige histories dokumentêre 'bewys' totaal onsinnig maak. Jou aandrang is dus baie dom...

     
    En boonop is daar baie historiese dokumente (meeste daarvan is in die Woord vervat) wat ook na SY bestaan en Goddelikheid verwys, wat jy en 'n geringe paar ander soos jy, sommer net mos verwerp, want as julle daardie bronne sou moes aanvaar, sou julle met julle agnostiese lewensuitkyk eenvoudig nie kon voorgaan nie - dus, die verwerping van daardie bestaande, goeie bronne is nie wetenskaplik van aard nie, maar 'n politieke skuif om julle agnostiese uitkyk nie skade aan te doen nie.
     
    Kyk, julle is agnosties omdat julle so wil wees, nie omdat die feite dit verg, nie. Daarom is daar so min van julle.
     
    Kry gerus nou end met die sirkelargumente wat op niks uitloop nie. Jy aandrang op papiertjies wat die bestaan en dinamika van 'n Man moet 'bewys', is absoluut belaglik in die lig van die uitnodiging om Hom vandag nog, as jy sou bereid wees, te ontmoet. Om Hom te ontmoet, sal jy Hom moet wil ontmoet - werklik wil... dan is die ontmoeting gewaarborg. Jy mag Hom dalk misken en maak asof HY nie bestaan nie, maar HY maak nie so me tjou nie...
     
    Terloops, wat peuter jy met die geskiedenis van die Romeine? Wat het die met die Christelike Godsdiens te doen en veral met die bekering van mense, insluitende massas Romeine? Waarom met julle so haper op onbenullighede? Natuurlik om die werklike issues op so 'n manier te probeer vermy of af te water. Dit werk ook nie. Lees weer my vorige kommentaar aandagtig en sien dat ek nie deur die rookskerm geflous word nie.
     
    Die hindoe afgode wat jy opnoem, het nog nooit enigiets met Christus, die Enige ware en lewende God in Woord, iets te make gehad nie. Daardie mense ken Christus nie en as hulle sou, sou hulle nie agter selfversinde, kultuurgebonde afgode aangedrentel het nie. Maar jou opmerking lyk vir my net so deurmekaar soos die van die uiters deurmekaar Cornelius. Ook hy, nes jy, is nie in staat om te onderskei tussen versinsel en werklikheid nie.
     
    Kobus de Klerk
  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top