Sit en Google earth en kyk na die ou plaashuis. Dieselle huis waarin Jameson destyds oorgelsaap het voor hy 'n land verower het. Of probeer het. Die ou opstal is nog daar en selfs die buitegeboue en die ou winkel staan nog. Die ou put waarin ons nodeloos as klogoete probeer afsak het op soek na miljoene is ook nog daar, al vermoed ek dat van daardie put net 'n lee gat in die grond oor is. Die ou stasiegebou waarin later graansakke gebere is is nog daar. dit is mos droog in doerdie wereld en 'n dak kan lank op bly. Nie soos hier waar selfs die beste hout binne 'n leeftyd wegvrot en jy die dakplate later stuk-stuk afhaal nie.
Ek sit en soek en sowaar ek kry die ou peperboom. Ou man wat liefs nie die gawe van spraak moet he nie, want onder hom is baie gedoen, en baie probeer doen. Ek onthou wel dat daardie einste boom 'n spesifieke dik spruit had. En aan daardie spruit is die rou rieme gehang. Buffel, en bees en 'n paar ander diere soorte se velle in repies gesny en bloederig opgehang met 'n swaar klip onderaan en 'n krom doringboom stomp om die slup in plek te laat hang.
Want toe was jag nog 'n ding van noodsaak en die vel is nie gebruik om sitkamers en banke te versier nie en die kop is weggekook en nie gebruik om teen mure te hang nie. Om later glasogig vir ongemaklike gaste te hang en staar nie. Ek het al dikwels gewonder oor hierdie ding om trofee teen mure te hang en of dit 'n aanduiding is van manlikheid of dapperheid en toe beduie Ra Mavenster vir my dat enigeen met 'n geweer magtiger is as die dier wat staan en wei. Ek was nog nie honger genoeg sedertdien om nodig te he om 'n geweer op te tel en enige dier te skiet nie.
Maar ek onthou hoe ons dae en weke lank moes staan en draai aan daardie bondel repe tweeduimdik velle: Sorgvuldig en netjies gesny, dik gesout en gehang en jy vat 'n lang paal en jy steek hom in by die krom kameeldoring en jy stap in die rondte baie soos die bekende donkie al in die rondte stap om die waters uit die aarde na bo te bring. Jy stap en jy draai en die bondel velle raak later te hoog om by te kom en dan vat jou mater oor en jy sien die vloeistof en vetterigheid drup op die swaar onskuldige klip. Die Peperboom se spruit kreun onder protes. Dan die waarskuwing: Los! En die spul repiesvelle draai los en enigeen wat in daardie klip en velle se pad kom sal nooit kan beduie van sy ervaring nie. Want hy swaai tot hy stilstaan en hy hou nie op swaai al is die grootste man in sy pad nie.
Ek onthou hoe die proses eentonig herhaal is en hoe die honne van oraloor na die dag se draaiery tot saans laat die gras binne die uitgetrapte sirkel stofgetrapte grond gelek het.
Daar is baie stories oor rieme en sommiges daarvan is heel waarskynlik waar. Ek weet egter dat daar bitter min kabels op hierdie aarde is wat kan meeding met 'n goeie paar rieme. Ek het dit een dag self beleef toe selfs kettings nie kon byhou toe 'n man se hand onder 'n rots vasgeval is nie. Net rieme en 'n ou Ford 5000 trekker kon die rots wegkry. Wel, dit was lank gelede en dalk was die rots net 'n klip......
Tog, ek sit hier in my kas met 'n rol Buffel rieme. Stokstyf van jare se onbruik. Ek wil dit graag vir die mense wys want hier in Oesterland ken mense nie meer rieme nie behalwe rieme styfloop, maar die rol rieme wat ek hier bewaar is al wat oor is van 'n kuns wat lankal uitgesterf het.
Groete uit Oesterland
oester


Kommentaar
Lekker storie, maar lyk tog asof Oester nie veel ooghare vir die trofee-skieters het nie. Skieters ja, want hulle is beslis nie in my oë jagters nie. Ek kan nie insien hoe iemand 'n leeu of enige ander lid van die katfamilie, sebra of olifant net vir kop, vel of horings kan nie skiet nie.
Ek self is 'n biltongjagter en gaan sonder uitsondering elke jaar my biltongvleis haal. Ek gebruik als van die bok wat ek "vat". Die manne wat my bok afslag kry alles behalwe die karkas. Die binnegoed tot pootjies maak hulle skoon en maak afval daarmee. Hul bak tot die kop. En ek "vat" net wat ek nodig het. Soos nou weer, ek is 'n blesbok gratis aangebied, maar hy loop nog rond.
Want ek het genoeg, ek het nie meer plek nie. Hier in die omgewing is tot ouens wat bestellings vooraf kry en dan betaal word vir die bok(ke). Dit gaan nie vir hom oor "jag" nie. Hy maak geld daaruit.
Wonder wat dit is. Ek het nie op 'n plaas gebly of groot geword nie, maar hierdie storie hierbo, soos by ander soortgelykes, ontwaak by my 'n gemis, 'n nostalgie.
Raed-na-Gael
Soos dit met die meeste goed in die lewe gaan, gaan dit om geld en selfverryking. Ek het al saam met groepe manne gaan jag en het daarna besluit in my dag des lewens nie weer nie. As ek gaan jag bly ek nie in 'n kamp nie, tensy daar gediertes is wat my kan eet. Ek slaap in die veld. Ek vat water en kos saam. Geen drank nie. Ek skiet my bok of twee. Ek slag die bok self af en bewerk die vleis. Ek betaal die boer/eienaar en gee pad. Ek neem gewoonlik een persoon saam. Dit is selde dat ons drie is. Ek kan dit nie oor my hart kry om Koedoes te skiet nie. Rooibokke, Blesbokke en varke sal ek skiet. Hohoholifante, leeus, renosters en luiperds stel ek nie in belang nie. Ek sal nog graag 'n Buffel wil skiet, maar gelukkig is dit te duur.
Persoonlik is ek teen jag. Tog, as die statistieke korrek is, is die jagbedryf ten goede (al wil ek dit nie self hoor nie); daar is volgens statistieke meer wild tans in die land as 'n 100 jaar gelede.
Ek onthou soos gister hoe Ra Mavenster aangelê het na 'n koede met reusehorings destyds in Botswana. Die Koedoes het gereeld ons landerye verniel. Ra Mavenster was tot daardie stadium 'n welbekende jagter.
Ek onthou ek het langs hom gesit en hy het aangelê. En lank aangele. Ek het later gefluister hoekom hy dan nie skiet nie en hy het die geweer teruggebring en gesê-vra: "Hoe kan mens dit oor jou hart kry om iets so mooi sommer net dood te maak? Ons het tog genoeg vleis." (Destyds is daar vleis met elke ete bedien, en gewoonlik verskillende soorte vleis. Vir groente is hoenders geslag).
Hy het al sy gewere weggegee kort daarna en alle jag op sy gronde verbied. Dit het nie lank gevat vir die wild om letterlik hondmak te word nie. Hy beduie dat die wild geweet het hulle is veilig. (Agterna het ek besef dit was maar die gebrek aan gedurige geweerskote.)
Die basiese beginsel is ingedring van kleins af: Jy maak net dood as jy nodig het en dan doen jy dit eties. Nie net groot- en kleinwild nie, maar alle lewe of dit 'n insek of boom of bos is. As hy van hier is en hy is nie in jou pad nie, moenie 'n boom afkap nie. as hy 'n bloekom of Wattle is, saag hom af, want hy bedreig ons inheemse en hoort nie hier nie. .
Rieme draai? Ek het nog altyd gedink hulle noem dit rieme brei.
Rieme brei is dalk taalkundig korrek, maar mens het die rieme gedraai en eers na dit gedraai is kon hulle soort van gebrei word. As rieme net gedraai is en so laat staan is het hulle altyd hard gebly.
Ek is op soek na rou koedoe-rieme om banke se sitplekriempies te vervang.
Ek het rondgemaakte klippe met 'n gat van ongeveer 30 mm in die middel deur.
Waarvoor is dit gebruik?