plakkate opsit

  • 2

Bitter min mense kon die twyfelagtige voorreg smaak om hul politieke tanne reeds in hul tienerjare te slyp. Jy word mos maar soort van ingetrek in die besigheid in om die mees vreemde redes. Sommiges volg maar in die ouers se voetspore en volg die liegstories en leer dit van kleins af. En doe so voort want dit is nie, vir die wat hulself daarin bevind, 'n honger beroep nie.

Ek was 'n laerskool lat wat die aand uit die huis gesluip het om Cremora snorretjie Chris Heunis se vergadering by te woon. Want hy het in my ou skoolsaal in laerskool Kreft gepraat en ek wou luister. Dit was die dae voor die bewuswording van die teorieë en die liegstories en die snaakse goed wat hierdie subspesie in staat is tot.

Ek onthou ek het geluister en hier agter my het 'n paar groot en bosbebaarde manne heeltyd tussenwerpsels geskreeu. Jy maak nie sulke groot manne stil nie, nie eens al is jy 'n groot man nie so ek kon nie veel hoor wat Cremora wou beduie nie.

Destyds was die gebruik mos eers boekevat en lang gebed en dan toespraak en dan vraetyd en dan afsluit met gewyde gebed en dan die samedromming en skouerklop en pap handdrukke. Ek wetie of dit nog so is nie maar ek vermoed dit is. Nietemin, Cremora het afgewyk van die gebruik: geen vrae uit die gehoor nie. Jy skrywe jou vraag op 'n stukkie papier en gee dit aan die omie met die grys pak en Grasshopper-skoene. Hy bekyk jou vraag en hy sal dit dalk aan die Voorsitter gee wat dit sal deurkyk en dalk vir Cremora gee. Getrou het ek my vragie (ek kan nie onthou wat dit was nie) neergeskryf en Cremora het dit nie eens gekry nie.

Dit was my eerste bloutjie met politici. En net daar het ek besluit te hel met hierdie spul. Nou gaan ek plakkate opsit vir wie ookal teen hierdie donner is en staan. Want hy het beduie van swart mense en ek het nie 'n enkele swart gesig gesien nie. Ek was nog altyd vrinne met swart mense want Ra Mavenster het ons respekte geleer van kleins af. Toe beduie ek myself dat hierdie dude lieg. En toe sit ons plakkate op.

Ry smiddags na skool doer na Van Riebeeck Park toe met die fiets. Die man se naam is nie ter sprake nie maar in sy dubbel garage het ek en T letterlik duisende plakkate met aanmaakgom gesmeer en sotte se gesigte op hardbord geplak. Later die nag die vorige dag se hoop wat droog was loop aanbring op lamppale, verkeersligte, enige ding wat in die grond geplant is, selfs bome. As daar nie plakkate was of goed wat regop gestaan het sonder plakkate nie het ons pamflette in posbusse gesit. Fiets se wiele letterlik deurgery van huis tot huis.

Verkiesingstyd verby beduie die man dat hy ons graag wil besig hou sodat ons 'n geldjie kan verdien vir al ons moeite en arbeid: Hy het 'n fabriek. Hulle maak skroewe en washers en dakskroewe. Ons kan loop uithelp. Saterdae. Na twee. En dit was my eerste ondervinding met goedkoop arbeid. Ek onthou ek het by die masjien gesit en gate in ronde metale gedruk en arme T het dakskroewe ingeryg. Net ons twee in die grote fabriek. Koffie met geen suiker hier teen vyf uur die Saterdagmiddag. Seweuur uitval en 'n R5 in die hand gestop.

"Baie dankie, julle werk net so goed soos julle plakkate opsit."

Ek onthou ek en T het daardie nag op pad huis toe met ons ou bomber fietse hard en duidelik gebitch oor hierdie tipe uitbuiting. Ek het hom die volgende dag gevra of hy weer gaan en hy het beduie dat hy eerder sal lê en draadtrek en goeie Texans sal lê en rook as om cheap labour vir politici te wees. Ek’t hom beduie dat ek na skool by Checkers wil loop vra want hulle soek tillslaners.

Die super was 'n ou hardegat swart vrou wat nie kak gevat het nie. Ek het haar beduie dat ek wil werk maar ek kan net na-ure werk en ek vermoed die feit dat ek met haar in haar taal gepraat het het die knoop deurgehaak want ek het die werk gekry. Tot vandag het ek 'n helse ontsag vir enigiemand met die van Tobias want Mr Tobias het my met die eerste welkom onderstebo klap beduie dat hy nie mense betaal om stil te sit nie (Sy het wel vir my oog geknip dat Mr Tobias eintlik 'n sawwe dude is maar ek het haar nooit geglo nie en glo haar steeds nie). My eerste paycheck was R52.50. Vir die Woensdag van vier tot ses.

Ek het lankal met haar kontak verloor en ek is spyt daaroor want sy het my ongelooflik baie van besigheid geleer.

Maar plakkate opsit? Nie 'n moer nie. Nie eens al betaal hulle my bo die minimum loon nie.

oester

  • 2

Kommentaar

  • Dag Oester,

    Dit was 'n lekker stuk om te lees. Dit het my ook laat onthou hoe lekker 'n paar Grasshoppers dra, dis een van die min goeie dinge wat nog oorleef, tyd dat ek 'n paar of twee bestel.

     

    Groete

    Duitswester

  • heita, duitswester!

    ek bly 'n klipgooi van die watsons fabriek, wat die Grasshoppers maak, af. en glo my, ek was noudie dag daar, hulle maak hulle steeds in grys ook. die manne en maninne wat die goed maak is jarelange klante van my en ja, die goed word nog hoofsaaklik met die hand gemaak.

    groete uit oesterland

    oester

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top