Padlopers

  • 2

Die donker bruingebrande hand wat die vyf rand uithou kan jy sien het baie dae se son gesien. Die gesig is soos ou leer. Jonk maar vol baie ondervinding. Die lippe skurf. Nie net van onversorging nie maar vannie son. "Los entjies asseblief Oom." Ek kla nie meer oor die oom genoemery nie want dit help nie meer nie. Sy draai in die deur om nadat sy in haar sak gekrap het en vra vir 'n boksie metjies. Want metjies gaan verder as 'n lighter en niemand steel metjies nie. En jy hoor hom as jy roer nadat jy hom verlê het.

Hulle kom so al om die halfjaar hier verby. Vir jare reeds. Ek weet nie of dit 'n gesin is nie want hulle issie soos orrelpype as hulle saam is nie al lyk hulle almal nou verwant aan mekaar. Daar’s ook nie skeel oë nie. Mens sien hulle reeds van ver aankom: Die hele pad vol. Elkeen met 'n rugsakkie op die rug. En wat lyk soos komberse of slaapsakke toegerol met ou tou. Die wat blond was se hare is goudgeel, die wat bruin hare gehad het se hare is so roesbruin. Dit moet die son wees. Die ongenadige Afrika-son het duidelik die merke op die gesigte gelos, want die stemme klink soos jongmense s'n maar die oë is oud en moeg en die hale lê op die gesig. Die plooie begin wys lank voor die tyd.

Soggens voordag is hulle reeds weer op pad. Wagtend vir die deure om oop te maak vir die los entjies en dalk 'n brood en blikkie meatballs. Saans lank na donker is dit kaas en brood en wors en lekkers en 'n pakkie Chicago en metjies. En die blou note word in bondels uitgehaal. Ek vra waar hulle tuisgaan en die jongeling met die pispot-haarstyl en die baie tjappe teen sy nek af beduie hulle gaan maar soek waar hulle kan tuisgaan, Oom. Mens vra mos maar uit gewoonte nie verder uit nie want jy wil nie uitvraerig wees nie. Die jonge dame met die moeë oë wat so diep in haar gesig sit vra of ek nie iewers 'n ou rooster het wat ek wil weggooi nie en ek beduie nee, ek het nie maar hulle kan maar myne leen vir die nag. Want ek sien hulle immers elke ses maande of wat en hulle kan tog nie te ver met 'n rooster te voet vorder nie.

Hulle vra bas en ek beduie vir hulle na die sakke wat ons uitsit vir die armes en dat hulle maar die afvalhoute kan kry want ons los dit juis buite vir ingeval iemand koud slaap vannag want dis winter en die suidoos is nie genadig met jou as hy jou alleen kry met net 'n kombers nie. Buitendien: die wors is rou en die sestal monde moet vol kom. Ek vra of hulle genoeg kooigoed het en ek beduie na die hoop komberse wat nog van laas winter se voorraad oorgebly het en hulle beduie dat hulle nie charity soek nie en ek probeer maar red en beduie dat ek die goed in elk geval moet weggooi want dis klaar afgeskryf. Hulle vat ses komberse en sê dat hulle weet van mense wat dit nodig het, en dankie, weereens die oom-ding.

Ek sien hulle nou die dag, doudag in die rigting van die son wat rooi dreig om op te kom aansuiker. Snelweg se koers, en ek weet hulle is weer op pad. Hulle het ons vergas met drie dae hierso. Kom kyk of ons nog oukei is en weer verder geswerf. Sestal jongelinge met geen heenkome en die enigste welkom die lang pad na wie weet, dalk die volgende dorp toe?

Ek sien hulle aanstap en die kardoes los lekkers uitskud en sorgvuldig uitdeel. Geel hare stamp so aan die jonge man met die klossie hare op sy kop en hy lag in haar rigting. Vat die peanut lekker wat sy vir hom uit die plestiek uitgehaal het en ek glo werklik hy het vir haar geknipoog. Ek wil dit glo. Want al kan ek nie wil ek soms so saam met hulle aanswerf. Al is dit nie op pad iewers heen nie. Ek kyk hulle agterna en al het die son en die swaarkry lelike hale op hulle gelos is hulle tog gelukkig. Met so min. Of niks.

oester

  • 2

Kommentaar

  • George Bekker

    Beste Oester, dis 'n menslike storie om te onthou. Om te dink hierdie mense het nog trots ook oor of wil minstens die skyn daarvan handhaaf. Mens kan net jou voorregte tel.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top