My mening oor die reg

  • 8

Ek het daagliks met siviele eise te doen. Die finansiële instellings neem stappe teen kliënte en glo dit of nie, nie lank nadat 'n vonnis op iemand beteken is nie, gaan die kliënt weer skuld aan. Dit is asof die mense nie respek het vir die reg nie, of dat daar soveel skuiwergate is dat die reg een groot gat op sigself is.

Ek is nie 'n slawensvolgeling van die Oscar Pistorius-saak nie. Ek is baie jammer vir die arme dame, Reeva Steenkamp, se ouers vir die verlies van 'n kind maar is ook in 'n mate jammer vir die Pistoriuse.

Volgens my word die saak misbruik. Die regering word daarvan beskuldig dat die reg nie respekteer word nie, en glo ek dat die saak as spieëlbeeld gebruik word dat die land se regstelsel nog "werk." Die ouens wat daar optree is hoogs opgelei en tree professioneel op. Die Indiërman van Ingeland het die stryd verloor om uitgelewer te word. Ek sien dat hy wel hier gaan teregstaan op die aanklagte van moord op sy vrou, en dat hy vroeg volgende maand hier gaan aanland.

Ek het na gedeeltes van die Openbare Beskermer se "uitspraak" op die draadloos oor die Nkandla-verslag geluister. Ek het nie die tyd of die wil om die volledige verslag te lees nie. My gevolgtrekking is dat die "aangeklaagde" skuldig is. In 'n beskaafde demokrasie sal die persoon onmiddellik in die pad gesteek word. Die oortredings grens aan nie minder nie as blatante diefstel, plundery, rampokkery en plein skelmgeit. Mens hoor daagliks van mense wat vir diefstal tronk toe gaan. Wat my verstand te bowe gaan, wat het hierdie meneer dat hy nie gaan sit nie. Wat my verder de bliksem in maak dit is nie sy eerste oortreding nie. Ek dink daaraan, dat my belastinggeld waarvoor ek werk, dalk 'n paar bakstene of geute of iets dergeliks betaal het.

Soos een van my Ingelse vriende sal seg "we are getting screwed without getting a kiss".

Wat my verbaas is die skreeuende stilte van die demokrate. Ek kan nie dink of Piet Bandana of prof Vossie al iets oor die verslag kwytgeraak het nie.

Die man is seker die slagoffer van apartheid. Ek is eerlik, as ek ook kan steel en die reg doen my niks aan nie, steel ek myself so gou as moontlik ryk.

Reusedwerg

  • 8

Kommentaar

  • Niemand het meer gesaghebbend oor die OB se verslag geskryf as juis prof Pierre de Vos nie. As jy rêrig wil weet hoe die OB se verslag, en wat die grondwet sê, bymekaar uitkom betreffende hierdie aangeleentheid, gaan lees Prof de Vos se blog "Constitutionally Speaking". Inderdaad geen skreeuende stilte van prof de Vos nie. Hoe kan jy so 'n oningeligte opinie uitspreek? Verstommend

     

  • Maklik, dit is hoe reusedwerg werk, laat doodgewoon uit die oorweging van 'n saak dit wat die teendeel sou bewys. 

     
    Hierdie is glad nie vreemd wanneer die regse sluipers en fanatiese gelowiges se metodes in oorweging gebring word nie. 

     
    Kompleksiteit, nuanse, volledigheid, goeie trou en eerlikheid word altyd agterwee gelaat.
     
    Seksisme aan die ander kant, dit is te maklik. 
  • Lig my die oningeligte dan in asb mnr Rigter, siende dat jy die konstitusionele alwetende hogepriester is. By voorbaat dank dat jy jou sal verwerdig met die oningeligtes. 

  • Dirk, prof De Vos se blog is, in vergelyking met die gewone media, obskuur.  Wie gaan dit nou lees in sy daaglikse soeke na nuus?  So, Reusedwerg het gelyk; die wat blinkoog oor die NSA is (was) draai 'n dowe oor en blinde oog in die rigting van die betrokke verslag want dit is weer eens 'n bevestiging van die afdraandepad waarop hulle ywerig die land help plaas het.  Vergelyk dit nou met die moerse ghwaraa wat opgeskop toe Annlie Botes gesê het sy hou nie van swartes nie want sy is bang vir hulle.  Oor die swartes se luidkeelse verkondiging dat hulle nie van Boere en boere hou nie word geen bohaai gemaak nie; in sommige gevalle praat hulle dit nog goed ook.
    Verbysterend dat julle jul tonnelvisie aan almal as geldig voorhou.

  • Jan, ek is eintlik vies vir myself dat ek op mnr Rigter se opmerking reageer het. Die twee knape hierbo se stellings laat my dink aan sekere lede van die bree publiek. Kan geen nugtere bydrae maak nie.Sodra 'n deel van hul anatomie in 'n "vice grip" is, skree hulle rassisme. Hulle het ook duidelik die brief nie ordenlik gelees nie. My beskeie mening het oor die reg gehandel. Ek het 'n opmerking oor die professor se "afwesige kommentaar" gemaak en soos dit maar is word die man gespeel en nie die bal nie. (Ek hoop die twee knape kan die afleiding maak soos in rugby). Mnr Ferns weerspreek homself ook. Hy het in 'n vorige skrywe genoem hy los my uit. Wat nou mnr Ferns. Julle tweetjies is soos keffertjies (skies, soos skoothondjies) wat mekaar agterna blaf. 

  • Reusedwerg en Jan Rap,

     

    As julle 'n ordentlike ontleding van die OB se verslag wil hê, gaan lees Prof De Vos se verskeie kommentare daaroor. Dit gee 'n presiese oorsig oor die magte en pligte wat die Grondwet aan die OB oplê en hoe sy in hierdie geval, tot baie akkurate gevolgtrekkings gekom het oor die Nkandla skandaal. Prof De Vos verwys spesifiek na Zuma se verswyginge voor die parlement, en ook in die algemeen. Eintlik spreek hy 'n verdoemende konstitusionele regsoordeel uit oor Zuma en al die betrokkenes. Hy het allermins ..."'n dowe oor en blinde oog..." na die betrokke verslag gedraai.

     

    Jan Rap,

    Om Prof De Vos se blog as ..."obskuur in vergelyking met die gewone media..." te beskryf sê baie meer van jouself as van die professor: Dit sê dat jy niks van die konstitusionele reg verstaan nie, en dat jy niks lees van mense wat nie absoluut ééndersdenkend is soos jy nie. Tonnelvisie, Jan? Jy kan niks verder as Annelie Botes vorder nie en ironies genoeg, sy's lankal verby daai bohaai.

     

    Reusedwerg,

     

    Noem jy jou bydrae enigsins nugter? Ek het jou uitgevang dat jy nonsens praat oor Prof De Vos omdat jy nie van hom hou nie, nié omat hy niks oor Nkandla gesê het nie. En nou is jy skaam-kwaad. Jou ..."beskeie opinie oor die reg..." het jy gebruik om die teerkwas uit te haal en op 'n onware én beledigende manier het jy die man ipv die bal gespeel. Moenie huil as jou snedigheid uitgewys word nie.

  • Dirk Rigter
    Jy's reg, ek verstaan nie grondwetlike reg nie.  Die grondwet sê al die tale hier is gelyk maar ek kan nie eers navraag oor belasting wat EK betaal in my eie taal doen nie, of 'n klag by die polisie indien in my eie taal nie.  Dis maar onder andere, plek en tyd laat nie toe dat ek hierop uitbrei nie.
    Die prof, dis nou De Vos, se blog IS obskuur, heelwaarskynlik in Engels.  Hy skryf dus vir diegene wat dieselfde tonnelvisie as hy het, of tot sy tonnelvisie bekeer is (soos jy).
    Indien sy blog in Afrikaans is trek ek my vorige stelling terug en vra om verskoning.  Ek sal dan bly wees as jy my 'n skakel na sy blog kan gee; die ding is so obskuur jy sal my baie tyd spaar
    Jan Rap

  • Kom ek gooi gou 'n knuppel in die hoenderhok.

    Geld wat stom is maak reg wat krom is, betekende dat 'n mens baie met geld kan doen,

    Was geld nie instrumenteel dat Pres Zuma nie verhoor is op sy korrupsieaanklagte, omdat hy met skenkings
    die beste regslui beskikbaar gekry het om hom te verdedig.

    Gebeur dieselfde nie in die Oscar Pistorius verhoor nie. Is sy advokaat nie besig om die staat se saak
    veral op forensiese gebied minder oortuigend te maak?

    Is dit nie so dat sou 'n gewone man in die straat sonder die finansiële hulpmiddels, in 'n soortgelyke saak
    lankal skuldig bevind sou gewees het, omdat hy nie finansieel instaat is om dieselfde regspan as Pistorius te bekostig nie.

    Dus in kort kan  'geld'  wat stom is werklik regmaak wat krom is?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top