Ek het jarre terug reeds 'n paar stadslegendes gehoor van manne hoog op wat boemel. Destyds in Springs was daar blykbaar 'n geneesheer wat op straat gesit en handuithou het en ek het al beduie van die man wat destyds jarre terug voor Steers in Sunnyside gesit het wat toe later met 'n snyerspak en baie verleë by my in die internasionale vertreksaal op die destydse Jan Smuts deur is op pad na een of ander internasionale bestemming.
Nietemin, ek kry hulle maar deesdae al meer gereeld hier inkom by my. Mens gee maar die nodige halwe brood en paar snye polonie en bietjie Blossom om die droë brood effens natter te maak. Jy kry hulle oral iewers heen op pad met 'n outydse toksak en paar Pick 'Pay sakke aan die hand met al hul aardse besittings in. Die sakke is al sonder letters en die toksak dikwels aanmekaar gehou met opteltoue. Hande swart en die naels lank en onversorg. Die merke van die bloedige Afrika-son duidelik sigbaar op die harde leer van die verweefde en lewensmoeë gesigte.
So en net so het ek vir Piet en Jan leer ken. Koop 'n halwe brood en Niknaks en babelaaswors. En 'n pakkie Drink o pop en bedel by Arthur 'n twee liter bottel vir water. En so raak hulle ou bekendes en jy vind maar so met verloop uit dat die twee doer annerkant langs die treinspoor plak. Of liewer slaap, want van 'n shack opsit was daar nie sprake nie.
Tot die kerk hulle daar loop uithaal het en blyplek gekry het by R wat maar altoos 'n nes oopskop vir die verweses van die samelewing. En maar vir Piet los werk aangebied het want Piet is handig met sy hande al is hy lui om te werk. Goeie ou werksesel wat leiding nodig het want hy sou in elk geval nooit skool kon klaarmaak nie, selfs destyds met die spesiale klasse. Piet het 'n aanwendsel gehad: Hy staan altyd en ruk, baie soos iemand wat op pad is om een of ander aanval te kry. Die ruk het hom ook, as hy opgewonde was, laat hakkel, al kon hy homself vlot uitdruk in goeie Kaaps. Praat jy met hom bietjie dan beginne hy rondtrippel en die een hand gaan op en af en hy beduie hier langs die kop asof hy hulp soek om iets te sê.
Jan weer was die stil, besadigde ene. Oë diep in die kaste en brandmaer van die harde lewe waaroor ek dikwels wonder. Praat die mooiste suiwerste Afrikaans en ek het hom gehoor Rooitaal praat en hy ken van mooi praat. Altoos vir Piet beduie hoeveel geld hy nog oor het en wat hy nog kan koop. Tot die laaste sent en dan "Jy gaan R1.50 oorhê so kry vir ons ses 10-4 milkies-lekkers". Kouend stap hulle straat af met een van die twee wat altoos hand uitreik en aanraak. Ek het vermoed die twee is meer as vrinne maar dit is en was hulle saak en dis goed en reg as hulle by mekaar liefde gevind het in plaas van om te swerf en vir ewig te soek soos baie van ons. Die twee het mekaar letterlik aangevul.
Goed aangegaan en later kon die twee selfs 'n katel bekostig en 'n keteltjie en toaster en die Panda- lampoliestofie het ook plek gemaak vir 'n regte inprop tweeplaat-spiraalstofie. Die mense beduie dat Jan die kamertjie later so mooi ingerig het dat dit regtig soos 'n huis gevoel het. Piet het maar saans ingeslof met sy Lemaitre boots vol sement en konkreet en Jan het maar versorg. Die twee het so goed opgegradeer dat hulle later regte mince en spagetti kon kook en selfs gevriesde groentetjies kon byvoeg. Jan het beduie dat hulle tog eendag 'n kar sal kan koop....
Tot die dag wat iemand hier inkom en beduie daar’s groot kak by R se plek: Piet het hier iewers in die nanag na Jan gevoel en Jan was yskoud. Dood. Hulle vermoed hy het maar TB gehad want hy het gedurig gehoes maar almal het gedink dis die BB of Boxer tabak. R beduie vir my dat hy op Piet afgekom het nog netso langs die koue Jan. Onder die komberse. Piet buite homself en ontroosbaar. Hulle moes lank spook om die liggaam in die polieslykswa in te kry want Piet wou net nie laat los nie. Voor die son hoog gesit het, het Piet die pad gevat dat hy weg is tot vandag toe.
R beduie vir my dat hulle later deur Jan se skrapse papiere gegaan het, want mens moet mos maar soek na familie of kinders of iemand wat lankal nie meer omgee nie. Kom toe uit Jan was nie sommer net so 'n man nie. Hy het 'n horde grade waaronder 'n meestersgraad in musiek. Kon enige instrument speel en was blykbaar 'n meester met die viool en klavier. Altans, so het die papiere en latere navrae bevestig.
Oom Jan kom hier in en ons bespiegel oor hierdie ding van mense en oom Jan beduie my dat mens nooit iemand ken voor dit te laat is nie. Hy vra my of ek dink Jan was beter af langs die treinspoor as doer onder die ligte en handeklappery en ek weet nie maar ek vermoed hy was, al was dit net daardie nag toe hy Piet se warm liggaam teen hom gevoel het.
Iemand het nou die dag vertel hulle het hulle verbeel hulle het vir Piet annerkant Oudtshoorn gesien stap. Hy het nie geryloop nie, net gestap langs die pad.
oester


Kommentaar
Oester, ek het seker weer by die verkeerde plek gelag, maar wat vir my snaaks was is die woorde: "Die twee het so goed opgegradeer dat hulle later regte mince en spagetti kon kook ..."
Dankie vir die storie. Jy het 'n goeie hart en ons geniet wat jy skryf (Ek kan dit waag om "ons" te skryf, want ek is seker daar is ouens wat 'n bietjie lui is om te skryf).
Ek kry die ouens erg jammer. Iets het baie skeef in hul lewens geloop. Ek het nadat ek in die oorlog was probeer, dit het so drie maande gehou en het ek maar besluit en kan vir lank niks doen, maar ek kan nie vir altyd vet mooi nokkol doen nie. Ek het twee neefs gehad wat geboemel het. Die een het 'n staatsbegrafnis gekry nadat hy gesterf het. Niemand weet waaraan nie. Ek het nog 'n neef wat iewers rondswerf. Hy leef blykbaar nog. Dis eintlik tragies.