Bloed is nie noodwendig dikker as water nie

  • 0

Titel: Bloedfamilie
Skrywer:
MS Burger
Uitgewer:
Human & Rousseau
ISBN:
9780798157391

 

Klik hier om Bloedfamilie te koop by Kalahari.com.

MS Burger se debuutbundel, Bloedfamilie, trek reeds met die eerste opslag die leser se aandag met sy ietwat boheemse omslag. Met hierdie aangename toevoeging tot die Afrikaanse kortverhaaltradisie slaag die skrywer daarin om haar leser van die begin tot einde vasgenael te hou.

Burger se skryfwyse en temas sluit sterk aan by skrywers soos Welma Odendaal en Jeanne Goosen – albei skrywers wat soms meer gewaagde onderwerpe in hul skryfwerk aanspreek. Burger se kortverhaalbundel is op so ’n geslaagde wyse saamgestel dat dit amper as ‘n roman gelees kan word. Daar bestaan ’n onderlinge verband tussen die onderskeie verhale, wat tematies ’n eenheid vorm en sodoende telkens terugkerende ooreenkomste van karakters en situasies ophaal. Soos reeds in die titel vermeld, beklee familie en die verteller se verhouding met haar familie ’n sentrale funksie binne die meerderheid van die kortverhale in die bundel.

Die veertien verhale word in drie afdelings gegroepeer. In die eerste vier verhale fokus die verteller hoofsaaklik op haar kinderdae. Met die lees van verhale soos “Kinderspeletjies” en “Oom Koos” word die leser reeds daarvan bewus gemaak dat die verteller talle traumatiese gebeure tydens haar kinderjare beleef het. Hierdie traumatiese gebeure reflekteer weer in latere verhale wanneer dit aanleiding gee tot verdere leed in die verteller se lewe. Temas soos ’n ietwat omgekeerde Oedipuskompleks, verkragting en buite-egtelike verhoudings word op ’n eerlike en realistiese wyse uitgebeeld. Die terugflitse na haar kinderjare en die seksuele mishandeling deur die verteller se vader sluit tematies sterk aan by Annelie Botes se Thula Thula. Burger skroom nie om enige eufemismes in dié verband te gebruik nie.

Hy haal sy piel uit, ’n mooi stewige stomp, en melk liggies sy duim en voorvinger. Ek kyk hoe hy hard word, sy kop agteroor en sy oë glasig. Of hy eet my, kom tussen my borste, pomp hom leeg en gedaan. (48)

Sommige lesers sal wel deur die taalgebruik en sekere temas geskok word. Dit doen egter geensins afbreuk aan die stilisties en tegnies knap geskrewe verhale nie. Burger slaag daarin om haar leser deur middel van die sprankelende dialoog en beeldryke milieuskildering by elke gebeurtenis van die verteller se lewe te betrek. In die tweede afdeling word temas soos lesbiese verhoudings en depressie aangespreek. Die skrywer het ’n besonderse fyn aanvoeling vir die beskrywing van die verteller se depressiewe toestand. Hier is ’n skrywer aan die woord wat weet waarvan sy praat wanneer sy depressie en die gevoelens wat daarmee gepaard gaan, bespreek en beskryf.

Wanneer ek diep asemhaal, proe ek die pille in my keel. (92)

Die verteller gee die leser onvoorwaardelike toegang tot haar psige en die leser kan hom- of haarself in die verteller se skoene plaas.

Burger skroom nie om van humor in haar kortverhale gebruik te maak nie. Verhale soos “Katkop”, “My hond” en “Die stripper” laat die maagspiere behoorlik kreun met die lekker tong-in-die-kies humor wanneer die verteller die gek skeer met stereotipes in gay nagklubs, kantoorpolitiek en onmin met die bure. Sekerlik een van die snaaksste uittreksels kom in die verhaal “Katkop” voor wanneer die verteller se sielkundige vir haar vra of haar selfmoordpoging formeel van aard was.

My sielkundige wil weet of dit ‘n formele selfmoordpoging was. Sylvia Plath met ‘n gasmasker. Virginia Woolf met ’n helderoranje reddingsboei. (92)

Die humor mag dalk nie by alle lesers byval vind nie, maar binne die konteks van die verhaal sorg dit vir genotvolle leesstof. In die laaste afdeling van die bundel verkry die leser meer duidelikheid omtrent al die onbeantwoorde vrae wat in die vorige afdelings onbeantwoord gelaat is. Die bundel word heel gepas afgesluit met die titelverhaal, “Bloedfamilie”. Die verteller se lewensverhaal word in dié verhaal opgesom vanuit vorige verhale en die bundel word as geheel op ’n interessante en boeiende wyse afgesluit.

Bloedfamilie is myns insiens ’n besonders belowende debuutwerk van ’n talentvolle skrywer. Die bundel is nie slegs gemik op die leser van ontspanningslektuur nie, maar word ook ten sterkste aanbeveel vir die meer akademies gerigte leser, aangesien die bundel ’n ryk versameling van tematiek en simboliek bevat wat geanaliseer kan word.

As jy nog nooit ‘n kortverhaalbundel gekoop het nie, doen jouself ’n guns en koop Bloedfamilie. Dit gaan jou bloed laat kook, stol en sommer net laat bruis van lekkerkry.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top