Alleenreise

  • 0

Verledetyd se vakansietye het ek en Manlief graag ver en wyd gery – daarom lyk ons verweerde ou padkaart soos 'n oopgespalkte netvet soos ons ons klaar gereisde paaie met 'n glanspen inkleur.
Van Bermolli tot Brandvlei, Lekkersing tot Lüderitz, Terracebaai en Torrabaai en Tietiesbaai. Helmeringshausen tot Wilhelmshöhe, van Kaap Kruis tot in die kokerboomwoud… dit klink of ek nou wil dig of komponeer, so sing die klanke van die plekke waar ons al was. Ons is deur die Seweweekspoort se kranse, ons het klippe opgetel op die Knersvlakte en seekos-potjie in die Namibwoestyn geëet. Ons het gaan kiekies neem van die wilde perde by Aus.

Van ons lekkerste herinneringe sit ons gisteraand oor 'n glasie wyn en opnoem. Jare gelede was ons tussen êrens en nêrens en Bermolli op die brulsand se duine. Net ons-alleen wat bo van 'n duin sit en uitkyk na die son wat rooi en goud en oker oor die halfwoestyn ondergaan; net ons-alleen wat hoor hoe die jakkalse die nag aankondig. In die ruskamp was ons enigste geselskap 'n vlieëplak, 'n lanterntjie en 'n bangmaakpaadjie ablusieblok toe. Saligheid. Die volgende dag pak ons die lang grondpad na Olifantshoek aan. Seker die enigste voertuig vir weke daarlangs, want daar is geen spoor in sig nie – nie eers dié van 'n donkiekar nie. Ons begin bekommerd raak. Om 'n draai kom ons 'n gryskop wagter teë wat rustig skapies aanja.
“Ja meneer, hierdie pad gaan Olifantshoek toe,” verseker hy ons.

En op ons navraag hoe ver dit nog daarheen is, mik hy skrefies-oog tot doer oor die duine.

“Nee, ek kan nou nie sê nie. Was nog nooit daar nie. Maar jy sal wel daar uitkom.”

Namibië het ons een keer aangepak met ons Bantam-bakkie. Nie Brandberg se vlymskerp klippad kon ons keer nie; ook nie Sossusvlei se “Slegs 4x4”-waarskuwing nie. Ons het onder 'n kameeldoringboom stilgehou en die laaste paar kilometer kortpad deur die duine tot in die vlei gekoers. Met net die sissende stilte om ons en die volgende duin voor ons. Daarvandaan seelangs, al noord met die Skedelkus op tot bo in Terracebaai. Ons het langs die see geloop en geluister hoe gorrel die klippertjies elke keer as 'n brander dit oor die sand rol. Ons het paartjies opgetel om saam te vat huis toe om soms aan te voel en om ons te herinner aan ons-alleen, die skielike wegraak van die son in die seemis en die suising van wind en see.

Blommekyk in Namakwaland was nog nooit so lekker soos die keer toe die koue reën en mis ons anderkant die Pakhuispas op Wolfdrif vasgekeer het nie. Nou ja, die blomme gaan nou wel nie oop in sulke weer nie, maar ons het die hele ruskamp met sy ouderwetse kliphuisies vir onsself gehad. Daar was hope brandhout, 'n sak aartappels en 'n goeie voorraad wyn sodat enige natgereënde reisiger homself in die geluksaligheid in kon kuier. Ons-alleen het vuur gemaak saans in die oop herd, vleisie gebraai en langbeen deur ons glase rooiwyn na die dansende vlamme getuur. Haffie, wat gevoel het die slegte weer op haar plaas is puur haar eie skuld, het ons al die ander wonderlikhede gaan wys aangesien die blomme dan nou so steeks in die sleg weer wil wees. Saam met Haffie het ons deur die galoppende water van die Wolfrivier gejaag, tot hoog teen 'n oorhangkrans gery en na ons asems gesnak. Daar teen die krans, goed bewaar teen die elemente en mensehande wat kan verniel, was die mooiste boesmantekeninge. Die dansende mensies se hande en vingers was in fynste besonderhede geskilder, hul bewegings lewensgetrou vasgevang. Nooit-ooit het ons iets so roerend beleef as die wit, wolkerige stilte onder Haffie-se-krans voor hierdie oeroue skilderye nie.

Daar was nog baie ander alleen-paaie waaraan ons ons gisteraand verkneukel het. Die vakansie in die Drakensberg toe Tendele toegedraai was in 'n digte, ondeurdringbare miskombers. Magoebaskloof se kersiebome en azaleas wat vlammend in waterstrome weerkaats. Die onaardse, wêreldvreemde rotsstapels by die grenspos Onseepkans waar dit net ons twee, die trillende stilwarm oggendlug bo ons en die vallei vol donker rotstorings om ons was.

Maar veral mymer ons oor ons onlangse langnaweek in die Bergkwaggapark, net hier oorkant die Wapadsberg, skaars 'n honderd kilometer weg van die huis. Maar wie het gesê 'n mens moet noodwendig ver ry om te reis? Teen die aand, terwyl die groot, blinkwit volmaan oor die bergtop loer, stap ons af na waar ons ons gids vir die nagrit moet ontmoet. Arms ingehaak by mekaar, versigtig-trap die steil bultjie af, oopmond oor die skoonheid van die silwer maan. En hoe gelukkig kan 'n mens tog wees? Ons twee is die enigste gaste op ons gids se voertuig en hy is sigbaar ingenome toe ons hom verseker ons wil nie noodwendig die leeus of die jagluiperds sien nie. Ons is oop vir enigiets: 'n uil sal ons baie bly maak, byvoorbeeld. Die park se naglewe stel ook geensins teleur nie – byna om die eerste draai al kry ons 'n Kaapse ooruil, en net 'n entjie verder ook naguiltjies. Die rooijakkalse lag en roep oor die Karooveld, die springbokkies is besig met 'n verspring-kampioenskap en die gnu’s is maar halfmal soos altyd. Dan, uit die skaduwees, verskyn 'n aardwolf. En nog een, en bietjie verder sowaar nog een. Skielik hou ons gids stil en begin dan stadig 'n pad baan deur die veld terwyl sy flitslig soek-soek in die verte.
“Daar is iets daar naby die dammetjie. Ek is nie seker wat dit is nie, want die oë blink baie laag. Daar! Kyk, dáár is hy! Dis 'n Miershooptier!”

Ek en Manlief gryp na mekaar in ons opgewondenheid. Vergete is die koue wange en die oë wat traan in die snerpende lug – hierdie het 'n nooit-vergete aand geword.

Sowaar, verseker ons mekaar gisteraand: Ons reismusiek is nie orkesmusiek nie. Ons het nie 'n simfonie om ons nodig wanneer ons reis nie. Nee, ons twee verkies om 'n ensemble te wees waarin ons tweestemmig saam neurie in volmaakte harmonie.


Lees hier meer oor die reisskryfkompetisie: 1 001 reiswoorde

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top