Wildekooi

  • 1

Foto: Canva

Wildekooi

Jy het jou bed langs branders opgemaak,
’n mandjie vrugtelose woorde voorberei.
Die duin en wildegras sal oor jou waak.

By Grootmond sweef ’n meeu, aak-aak
as dit geen vis op ’n roesrooster kry;
jy het jou bed langs branders opgemaak.

Die seewind oor ou langsteelglase slaak
’n klinge-lief, klinge-lyf, klinge-ly.
Die duin en wildegras sal oor jou waak.

Ons feespot lê daar eenkant, half-gekraak;
geen nageur wat nog teen die lyf kan vly.
Jy het jou bed langs branders opgemaak.

Wat wil jy in dié vlae van nagreën maak, 
die as weer aanlont binne my?
Die duin en wildegras sal oor jou waak.

Met teugies wasem sal jy koud en naak
in ’n gebluste vuurkring agterbly;
jy het jou bed langs branders opgemaak,
die duin en wildegras sal oor jou waak.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top