Versindaba 2009: ’n keuse van diversiteit

  • 0

Versindaba 2009

Samesteller: Marlise Joubert
ISBN: 9781869192914
Uitgewer: Protea
Publikasiejaar: 2009

Versindaba 2009 is ’n keur van die gedigte van genooide digters van wie die meeste verlede jaar aan die poësievoorlesings van die 5de Versindaba op Stellenbosch deelgeneem het.

Hierin is twee gedigte van elke digter opgeneem.

Die beste manier om ’n oorsig van die gedigte te gee is om sover moontlik die gedigte self te laat praat. Dus weer ’n kort bloemlesing, maar dan waarin die treffendste gedeeltes van ’n gedig gegee word sonder kommentaar (net uit een gedig van elke digter). Dan sou mens miskien iets kan sê oor die "jongste" Afrikaanse poësie - al is die digters self nie almal meer jonk nie.

Die versameling kan ingedeel word in die gedigte van die lankgelede-gekanoniseerdes, die meer onlangse, en die "nuwe digters", die "opkomendes"(!).

 

— Pirow Bekker, die begin van ’n gedig, "Wydlopers", oor die beeld van Dawid, dié verduideliking:

Die kuns om die skaamte gaan met gevare gepaard.
’n Dawidbeeld het die middelburgers uit hul spore ontstig tot iemand gekonstateer het hoe eintlik onbeswaard
is die jongeling op die taak voorhande gerig.

Die gelaat kry die klem, nie dit nie daaronder;
sy klein projektiel, wys sy mond, is tot alles in staat ...

 

— Breyten Breytenbach, ’n fragment uit "Die duiwe op die sinkdak", aan die einde:

Die duiwe op die sinkdak
.......
Hulle trippel met eenderse
tjierp-tjierp skraapgeluide, hulle kantel eweneens
die koppies skuins om nuuskierig sku op my
af te kyk waar ek gehurk in die skemerige binnehof wag
op die berig. Oor die donker verlede van honderd nagte
het hulle gevlieg om met vlambelope ogies iets te kom sê.
Maar hoe het hulle geweet waar om my te kry?

 

— Johan de Jager oor ’n foto-uitstalling van Marilyn Monroe ("Die meer Monroe Marilyn"), een van die kort strofes:

hier eet sy ’n hotdog
saam met Arthur Miller.
Geen spoor van depressie,
van selfmoordpogings
& mislukte huwelike nie.

 

— Joan Hambidge, oor die dood van Sylvia Plath ("Om Sylvia Plath te dissekteer"), die laaste paar reëls:

... Jy het stilweg jou los-
gemaak van hom, jou kinders,
vir oulaas ’n brief huis toe gepos.
Die posman, helaas, het soos ’n kritikus
dit geweeg en te swaar bevind:
terstond return to sender opgeplak,
maar daar was geen terugkeeradres:
net die reuk van gas by ’n skeurtjie. 

(Ek onthou wat Plath eenmaal, miskien ironies, geskryf het:
"Dying/ is an art, like everything else/ I do it exceptionally well.")

 

— Daniel Hugo, stuitig in "Van Oerknal tot Afrikaans" oor die klank wat "eggo deur die eeue", veral die laaste strofes:

ewe luiters laat hy ’n wind –
.....
dit kom uit die ewige duisternis
en wag op ’n holte vir herrysenis

die lippe skulp kortstondig
maar eindeloos vibreer die geluid.

 

— Antjie Krog se name-met-klanke – veral geskik vir die voorlees – in "Abecedarium vir Afrika". Name van A tot Z – en dan die einde:

Aardvark Armadil Alikreukel Akkedis
.....
Zambesi-haai Zambenenje Zoeloelandse kruipmol met baard.

Ja alles van hier van huis en van haard
Alles wat kruip volgens suidelike kaart
Alles wat fladder, doodle of dool
Wag reikhalsend op die koms
van die Amazi-voël.

 

— Charl-Pierre Naudé in die ligte, speelse, vers ("Klein witwynode"), in die begin:

Kyk na die wyn
daar in haar bottel.

Sy staan op aandag
op haar ingeduikte tepel,

’n skone korporaal;
haar propgeweer,
smaakvol gekamoefleer
as ’n kurkbeffie
skiet na klokke
van bessie en amandel.

 

— Gilbert Gibson se gedig "die studie van" het 21 reëls, naas enkele metafore, en 10 vreemde en verrassende vergelykings:

soos ’n meteense absoluut kom jou
gesig soms voor my op soos ’n kraai wat
vervaard van ’n karkas sy

roep kras tot vrede en tot stil ...

... waar die skyn verdring is,/ soos ’n kombers van mis ...

... gelaat soos uit ’n koue meer of van ’n gletser ...

... stil soos die/ einde van ’n kerkklok se lui soos ’n klippie wat van ’n
hoë hoogte val

… wat in sonde die saligheid versaak. ek vermis
jou soos ’n omstikte soom
die garing. soos wakkerte ’n droom.

 

— Cas Vos oor doodgaan (lewe en dood), graf toe en die voorbereiding. die eerste en derde strofes:

jy onthou jou lyf as iets wat ander rondstoot
en as vergaderplek van skeurwonde en pyn
jou lyf onthou nog die vroeë klop van die dood
...

jy graaf daagliks jou diep graf bloot
omdat jy stadig regskuif vir die laaste lê
met ’n swart roos op sterwe se breë skoot.

 

— Carina Stander beskryf die stad Lima met onaangename herinnerings, en waarskuwend; die eerste, tweede en vyfde strofes van "Lima":

probeer om te vergeet

waarsku die stad om lig te loop
want ek wil die kind op die sypaadjie nie sien nie

die kind staan met hartseer speelballe
in ’n stad van waansin
waar sy stiptelik om spitstyd
al op die stippellyn wawiel
die munte traanblink in haar hand.

 

— Danie Marais se gedig "Totsiens" se tema is herinnering. Stil en romanties, en in ’n droewige toon. ’n Gedeelte van die eerste strofe:

Jy het weer vir ons kom kuier
uit jou stil huwelik met Europa.
Jy kon nie kla nie.
Maar dit was nog altyd jy,
dit was mos?
Dalk verbeel ek my net,
moeilik om te sê.
Elke keer wanneer jy kom kuier
is jy verder in jouself weg -
’n gedaante wat al wuiwend
skielik uit die mis te voorskyn kom,
maar wegbeweeg ...

 

— Loftus Marais – die jongste op pad na kanonisering – spreek ’n ou denneboom aan oor sy seksuele attensies. Raar, soos die poësie soms kan wees. Die titel van die gedig is "Dirty ditty vir my denneboom". Hy is die buurt se "ou pervert" en "dirty uncle". Hy is by die badkamervenster (aan't afloer?), sy wortels voel die geboue se onderste dinge: "jy skuur, jy vinger ons argitektuur". Hy is ’n flasher, en jags, en dra cologne. En dán (die laaste strofe):

maar gisteroggend sien ek toe
in jou hoogste tak ’n winkelsak:
o trots en jolly, jy wys hom gehys
soos hy klop en klap
en ek dink: aaa thank god
the old man can still get it up.

 

Daar is ook nog twee verse van Piet van Rooyen. Hy het laas ’n bundel in 1983 geskryf en klaarblyklik nou begin prosa skryf waarvoor hy ’n debuutprys ontvang het.

Vier "nuwe" digters word ook opgeneem. (Dis eintlik waarin ek belangstel; die gekanoniseerdes bestaan in bundels en bloemlesings, en al hou hulle op met poësie skryf, of sterf, sal hulle bestes onthou word.) Hulle is Lucie Möller, Johannes Prins, Jasper van Zyl en Jelleke Wierenga.

 

— Lucie Möller: afskeid en herinnering, binne die beelding met bome, is ’n tema van haar twee gedigte, "Blou raam" en Wildepeerblom". In "Blou raam" word die afskeid gemeet in die afstand wat groter word tussen die waaiende hande: "meet ons arms die afstand van afskeid". Die een wat agterbly – "maer en grys" – rank vaster aan die blou raam, die tuiste - "soos takke van die tamarisk"; en die ander een "moet rem teen woorde". Swyg. Die plek waar afskeid geneem word, wie afskeid neem, en die droefheid daarvan, word slegs gesuggereer.

 

— Johannes Prins se gebruik van die parentese in "melkweg" gee ’n dubbele dimensie aan die verwoording. Hier is die "binneste" van die gedig, drie strofes lank, die gedroomde handeling: ’n reisbeskrywing. Dis eintlik die kern daarvan, en met vier reëls, die begin en die einde, word dit omarm; en die einde is dan, in die woorde van NP Van Wyk Louw, "sleutels meer as slotte". Die gedig begin met twee reëls:

voor die heilige vallei
waar die urumbamba-rivier die melkweg kaats

en eindig met:

wag ons vir die kamera,
geblik.

Dié begin en einde maak geen sin sonder die parentese nie. Miskien is die gedig tog ’n bietjie kripties. Die "kamera geblik": is dit soos ’n ingelegde reis? Dus nie eintlik die werklikheid nie?

 

— Jasper van Zyl se poësie is op ’n  manier direkter as die voorgaande twee digters s’n. Maar dis nie eenvoudig nie, en in die gedig "melée" is die keerpunt, onverwags, te verwagte. Hier vertel "die nuwe meisie in die skool/ dat sy saans, wanneer sy bad,/ die water met haar hande roer", en dan in die tweede strofe:

verbeel (sy) haar dan dat seerowerskepe
in die storms om haar bene vaar,
op soek na ’n skat wat daar laat val is.

Die vertel van die meisie, wat hom ook leer rook het, eindig met die indirekte, maar suggestiewe:

en ek wonder hoeveel bloed
sy in haar are het, in haar saggeweekte hande
met die stadige voue, skatkaarte op haar palms.

 

— Jelleke Wierenga satiriseer, sinies, in "Reënboognasie: Fear Dot Com" die pyn en bloed in ons land. Dis in "with it"-verwysings geskryf, soos:

the devil wears prada
en amagents snyerspakke
gucci lacoste arbite camel
drop dead gorgeous.

’n Meer suiwer satire is die vrae wat gevra word in "Vraag gestel". Waarom is ons opsigters oor diere?

God gee ons diere:
verlig só die las
van lewe
met die opwelling

van verdrukking/vreugde by
die gelag van ’n geselskap glasogies ...

Dan vra die digter vir God waarom ons, die mens, oor die diere gestel is:

Hoekom waarom en vir wat
is vlerklose tweebeniges
opsigter gemaak:
die bose baas?

 

Wat kan ons sê van hierdie uitsig oor die Afrikaanse poësie wat gelees kan word in die werk van die "opkomendes" en in die nuwe verse van die gekanoniseerdes? Niks is voorspelbaar in die letterkunde nie – want wat voorspelbaar is, is alreeds gedoen.

Al wat ek kan sê, is dat hier nie aanduidings is van spesifieke keuses van tema, onderwerp of strukture nie. Net van diversiteit; en daarvoor moet mens dankbaar wees.

Ek weet net nie wat van hierdie digters sou word as Afrikaans nie meer ’n tersiêre taal op universiteit is nie.

’n Laaste opmerking: miskien kan die uitgewer met ’n volgende uitgawe die  lettertipe verander. Net bietjie groter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top