Rooi Jan Alleman
Umuzi Random House Struik
ISBN: 9781415202036
Koop Rooi Jan Alleman by Kalahari.com.
In die nawoord tot sy roman Rooi Jan Alleman (Umuzi) sê Francois Loots: “Rooi Jan Alleman is in die eerste plek fiksie, eerder as ’n biografie … Dit was nie my doel om ’n roman oor Bram Fischer se lewe te skryf presies soos hy was nie; eerder om sy en sy kamerade se gees en geloof te voorskyn te bring.”
Ter inleiding, en omdat sekere feite nie uitdruklik in die roman gegee word nie, wil ek net “aanvul”. Bram Fischer (1908–1975) is gebore uit ’n vooraanstaande Afrikaner-familie. Sy oupa was die eerste (en enigste) eerste minister van die Oranjerivier-kolonie, en later ’n minister in die Unie-kabinet. Sy pa, Percy, was regter-president van die Vrystaat. Bram was ’n Rhodes-student en ’n vooraanstaande advokaat.
Hy het ook rugby gespeel, as skrumskakel vir Vrystaat teen die All Blacks.
Alhoewel hy gebore is as Afrikaner, het hy dié volk se rassisme veroordeel en kommunis geword.
Hy was leier van die verdediging en Nelson Mandela se advokaat by die Rivonia-verhoor in 1964. Hy het daardie saak so goed hanteer dat Mandela en sy kamerade lewenslange gevangenis gekry het, eerder as die doodvonnis. Hy is later gearresteer as lid van die onwettige Kommunisteparty. Hy is op borgtog vrygelaat om ’n saak in Londen te behartig; hy het teruggekeer Suid-Afrika toe – alhoewel hy in Engeland kon gebly het as balling. In Suid-Afrika het hy as aktivis voortgegaan, dikwels vermom; maar hy is uiteindelik gevang en in 1966 tot lewenslange tronkstraf gevonnis.
Hierdie feite, en veel meer, veral oor die hofsake (wat nie deel van die roman is nie), is noukeurig nagevors vir die omvattende biografie van Stephen Clingman: Bram Fischer. Afrikaner Revolutionary (David Philip, 1998).
Die roman begin met sy geboorte. Maar in ’n kort hoofstuk vooraf word iets vertel van ’n sekere Douglas Black, wat afgesonder en alleen in ’n kleinerige huisie woon, anders as die ruim woning waaraan hy gewoond was. Hy is die Afrikaner, Bram Fischer, wat “ondergronds” gegaan het om uit die hande van die Gryshemde, die veiligheidspolisie, te bly.
Daar is in die roman vyf hoofstukke gewy aan Douglas Black. Dit sou apart gelees kon word, as ’n ander verhaal.
Vroeg al in die verhaal word ons voorgestel aan drie karakters, drie spoke, wat deel van sy lewe, of sy drome, was: Paul Kruger wie se ideaal was: “De vrijheid zal in Afrika ryzen als de zon uit de môrewolken.” Hierdie woorde word nie eksplisiet gegee nie. Dis my afleiding dat dit die verbintenis met Bram is. Dan is daar Hendrik Biebouw, die “eerste Afrikaner”, wat in 1707 in dronkenskap vir die landdros in Stellenbosch gesê het “… ik wil niet lopen, ik ben een Afrikaander, al slaat de landrost mijn dood.” Jopie Fourie, die Afrikaner-rebel, vryheidsvegter, wat in 1914 tereggestel is in dieselfde gevangenis in Pretoria waar Fischer gevangene was.
Die spesifieke rolle van hierdie geduring-verskynende spoke wissel. Kruger luister en praat, veral teen die einde. Jopie sê niks nie en Biebouw is dronk. Die gemene deler is egter Afrikanerskap. Miskien is al drie soms Bram se alter ego (oor vryheid, drank, versetvegter)?
Die eerste paragraaf van die hoofstuk “Aan die begin” bestaan grootliks uit ’n verwerking van Eugène Marais se “Winternag”. Die tema is wind, koue wind, en ’n droewige landskap. Die natuur – veral die wind - kom dikwels voor in die boek. Soms gepaard met onaangename oomblikke, maar soms ook “mooi” natuurbeskrywings, soos die mooi ideale van Fischer. Die agtergrond van die plaas en die natuur was belangrik in sy lewe. En in daardie opsig is die natuur ’n soort metafoor.
Hy raak bewus van die luukse waarin hulle woon, en die armoede van ander. Hier word die naasmekaarstelling van die natuur met die sosiale bevestig: “En ek het aan osse in sonlig gedink, aan ’n swerm skoenlappers wat terselfdertyd opvlieg, aan voëls in vrye vlug. En weer eens gewonder hoekom jy die beste weiveld net vir jou afpen en jou kraal sekuur pak.”
As hy oor dié dinge praat, dan word hy ’n dromer genoem - dit was hy van kleins af. Op skool ontmoet hy vir Molly, wat later sy vrou en kameraad word, en die groot liefde van sy lewe.
Hy gaan Engeland toe om verder te studeer. Die twee sentrale hoofstukke in die roman gaan oor sy gedurige kontak met Molly. In die eerste, “Briewe aan Molly”: die skeepsreis; sy verhouding met sy ouers; en saam met ander studente na Rusland.
Die vertelling word telkens ingelei met ’n brief aan Molly (“Liewe Molly”), in die eerste persoon, maar kort daarna gaan dit oor tot die derdepersoon-verteller. Die roman is hoofsaaklik in die derde persoon, maar een lang stuk (ble 25–80) is in die eerste persoon. Mens sou kon vasstel waarom dit so is – maar vir hierdie resensie sal dit te lank en te “literêr” wees. Dis nou genoeg om te weet dat hierdie “eienaardigheid” funksioneel is, en iets uitmaak van ’n roman wat dikwels moeilik is om te lees. Soms selfs bewussynstroom.
Sy gesprekke aan boord met sy ouers begin by die Suid-Afrikaanse politiek en dan tussen hom en sy pa oor Bram se veranderde politieke sienings: Lenin, Stalin, nasionaal-sosialisme en kommunisme, en die bestaan van God as konstruk van die mens. Hier kom ’n breuk met sy pa, wat nog die onlangse geskiedenis van die Afrikaner eer en Bram laat dink aan “Oom Paul en die tirannie van die voorvaders”. Aan Molly skryf hy daaroor in een sin (“Liewe Molly – ek sou iets pasliker vir my gesprek met Pa verkies het; ’n perron met ’n ou, kinderlike self wat agtergelaat word”).
Ná Europa, Rusland toe, waar die groep studente genooi is om die positiewe veranderings daar te sien. Maar wat hulle ervaar en sien, is nie so positief nie. Die ander studente is sinies; maar Bram verdedig alles wat gesien word, behalwe vreemde handelinge, soos hulle gids wat skielik weggeneem word. Miskien omdat sy te krities was oor die heersers van die land? Of omdat een van die bewakers gesien het dat sy ’n brief aan Bram gegee het? Die feit dat hy dit nie in Engeland gepos het nie, en weggegooi het, spook by hom. Dit was ’n vorm van verraad.
In die hoofstuk “Gesprekke met Molly” gaan dit hoofsaaklik oor hulle verhouding, oor seks en politiek, hulle huwelik, kinders, die huislike lewe. En ook twyfel by Bram of sy hom regtig lief het – selfs ’n vermoede dat sy miskien lesbies kan wees. Met Bram as suksesvolle advokaat wat geleidelik deel word van die middelklasbestaan van die wit mense in ’n mooi huis met ’n swembad, geselligheid, gedurig gaste, en boesemvriende - soos byvoorbeeld Piet Beyleveld (eerste voorsitter van die Congress of Democrats).
Die gaste en gesprekke raak egter meer en meer polities, en daar word ondergronds gewerk aan die stigting van kommunistiese selle. Bram is een van die leidende figure, wat gou ’n verdagte word en deur die Veiligheidspolisie dopgehou word.
In die volgende hoofstuk (“Glip, gly – en weg” ), ná ’n leemte wat gevolg het op die Rivoniahofsaak (toe Mandela-hulle Robbeneiland toe gestuur is), gaan hy en Molly met vakansie (“Selfs die gehardste aktivis moet ’n blaaskansie gegun word …”). Op pad is daar ’n ongeluk toe Bram van die pad af ry, die kar in ’n dam water omslaan, en Molly verdrink.
Bram se aftakeling begin: hy drink meer en meer (“Ek het my vrou vermoor … Ek het ’n reg om te drink. Onder meer omdat dit ’n vrou was wat wou lewe”).
Die politieke aktivisme gaan egter voort, veral in die toesprake wat hy gee oor kolonialisme en die rol van vakbonde. Sy dogter smeek hom om op te hou, weg te gaan uit die land uit, maar hy weier, veral ook omdat hy nou wil bewys dat die Afrikaner ook vir verandering verantwoordelik kan wees: dit is belangrik “om te wys ’n Afrikaner gee om en is bereid om te baklei. Ballingskap is te maklik. As ons nie hier is en sigbaar is nie, wat gaan vandag se kinders en hulle kinders van Afrikaners dink?”
Miskien was hy reg, want wat beteken om Afrikaner te wees vandag?
Hy word ná sy gevangeneming toegelaat om ’n verhoor in Londen af te handel. Daar praat hy weer oor sy Afrikanerskap, en dat hy nooit oor identiteit besorg was nie. “Ons was maar net mense uit Afrika. Afrikane. Maar nou, ’n identiteit wat my deur … Fasciste opgelê (is), maar ek gaan terug om ’n betekenis daaraan te heg, my eie betekenis”.
Dis onwaarskynlik, maar hy sou kon kennis geneem het van die bundel Tristia van NP Van Wyk Louw (1962), wat al voor die Rivonia-verhoor van 1964 gedig het oor Afrikanerskap:
Ek het vergeet – nie geweet? – in die dae toe ons jonk was:
Afrikanerskap is nie heilig. Ons wóú dit heilig hê;
ons wou die volte van menslikheid daaraan gee …
Was dit sy strewe: om te stry vir die volle menslikheid van die Afrikaner?
Die einde van Bram Fischer word te lank uitgerek in die roman. Enkele terugflitse is betekenisvol, soos die verraad van sy vriend Piet, wat teen hom getuig het in die hofsaak. (Wéér verraad. Soveel keer in die geskiedenis van die Afrikaner?)
Maar ook hier aan die einde is daar die verskyning van Jopie Fourie, met geweer en al, en dronk Hendrik Biebouw, en oom Paul. Vir die eerste keer is daar oomblikke van dialoog tussen Bram en oom Paul – oor kommunisme veral. Miskien ’n verdere bewys dat hierdie spook se woorde iets van ’n alter ego was, ’n dialektiek.
Mens sou veel meer oor hierdie roman kon skryf. Daar is ook nog die ander verhaal, dié van Douglas Black, waarin mens die storie van Bram se vermommings kan lees.
Sover ek weet, is daar drie romans oor – of rondom – die lewe van Bram Fischer geskryf: Mary Benson se At the Still Point, André Brink se Gerugte van Reën en Nadine Gordimer se Burger”s Daughter. Maar Bram is nie die hoofkarakter nie. Hier is die tema nie sy drome en ideale, sy denke, sy handelinge nie.
Die groot tragedie, die ontsettende ironie, is dat die Bram van Rooi Jan Alleman se strewe na die bewusmaking van die wit mense van hulle rassisme en kapitalisme en van die ontsettende onreg van hulle Afrikaner-regering, nie geslaag het nie; en dat hy, juis hy, daarvoor met sy vryheid moes betaal. Die tipiese tragiese held. Waarom die stryd? Stephen Clingman het ’n antwoord:
“Who can ask if that was worth it?" Bram Fischer’s is a life not only for South Africa, not only for a world recovering and attempting to move forward, from a history of colonial and racial supremacy, but it is also, in ways we can barely imagine, a life for the twentieth century and the century to come. It most certainly was "worth it".
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.