
Hoe voel jy oor Bittereinder jou liedjie gekies het?
Dis ’n moeilike gevoel om te beskryf. Vir my is dit ’n kombinasie van waardering, ongeloof en dankbaarheid. Verder het dit my vertroue in myself as liriekskrywer ’n hupstoot gegee om te weet dat ’n groep van Bittereinder se kaliber my lirieke begryp en dit met hulle gehoor wil deel.
Wat dink jy het veroorsaak dat jou lirieke uitgestaan het?
My inskrywing het ’n sterk ritmiese gevoel, en my woordgebruik is daarop gemik om op ’n kort en kragtige wyse ’n impak te maak. Ek dink Bittereinder het hierby aanklank gevind, omdat my liriek geskik is vir rap en ook omdat ek nie wegskroom van ’n klein bietjie kontroversie nie.
Waaroor handel jou lirieke?
Die liriek beskryf basies oorlogvoering en bloedvergieting vanaf die vroegste tye af. Dit begin met Moses en die Israeliete se slawerny in Egipte. Daarna beweeg dit aan na Napoleon Bonaparte en die Franse Revolusie. Dan na die Tweede Wêreldoorlog en Adolf Hitler se Derde Ryk. En laastens Suid-Afrika tydens die apartheidsjare en die hedendaagse konflik. Die boodskap wat ek deur die liriek wil oordra, is dat oorlogvoering nog nooit die oplossing was nie. Selfs die grootste diktators van alle tye het tog maar gefaal in hulle strewe na magsbesit. Ek dink dis vandag nog relevant.
Waar het jy "Erdeskerwe Israeliet" geskryf?
In my kamer tuis. Wanneer die inspirasie my pak, kan ek gewoonlik nie tot ruste kom voor ’n liriek nie voltooi is nie. "Erdeskerwe Israeliet" het ’n lewe van sy eie aangeneem. Na ’n hele naweek sonder veel slaap en liters koffie is hierdie die eindresultaat.
Wat wil jy hê moet Bittereinder in gedagte hou as hul die liedjie opneem?
Bittereinder se produksies is altyd foutloos. Ek is baie opgewonde om te hoor waarmee Jaco, Louis en Peach vorendag gaan kom. Ek twyfel nie daaraan dat hul vertolking net so kragtig gaan wees soos die stelling wat ek deur my liriek probeer maak nie. In my kop hoor ek ’n stampende marsritme. Ek sien ’n gebalde vuis. Wapperende vlae. ’n Diep bass-line. En ’n amperse "Thirty Seconds To Mars"-elektronika-gevoel.