
Foto: Canva
Eerste vryvalsprong
Die skroeftuig ronk en rikke-tik.
Ek smyt my hart die nou poort uit,
terwyl my hemp en wange wapperklap,
tel snel ’n magiese getal
en tuimelval
in een lang
slurpfluit
suising
blaasfluit
boog,
en val
en val
en val tot ons,
soos sade oor die Kaap gewaai,
mekaar sien glimlag, koorde soek
en lugbewus begin te draai.
Die dag knal oop in blou en rooi
wanneer die skerm boontoe bol;
ek wenteldans die hemel in
en sirkel in ’n aardse tol.
En die leegte en die stilte,
die windsaad en die killer blou,
die berg en see en sonflits is
’n oomblik één
en oopgevou.
Kommentaar
Asemrowend mooi, Heinrich. Ek beleef elke moment met hierdie gedig!
Die werklikheid wat vir “'n oomblik één en oopgevou” is, bly my by. En die onreëlmatige eerste helfte vind ek meesleurend. Nie oormatig innerlik nie en 'n vreugde om te lees. Dankie, Heinrich!
Treffend, Heinrich!
"die berg en see en sonflits is
’n oomblik één
en oopgevou."
Watter uitsonderlike ervaring om aan te kom by so 'n doel, so 'n éénheid!
Martli, Carel en Louis, baie dankie, ek waardeer die kommentaar. Dit was te lank om by te voeg, maar die gedig kan mens eintlik opdra aan die besondere ekostelsel van valskermspringers, vliegklubs en valskermklubs, in die Kaap en elders.
Puik gedig - daardie laaste strofe is treffend.