Anneke van Heerden
Anneke van Heerden is in 1989 in Bellville gebore en het in 2007 aan die Hoërskool DF Malan gematrikuleer. Daarna het sy haar tersiêre studie aan die Universiteit Stellenbosch begin. In 2010 behaal sy haar BA-graad met geskiedenis en Afrikaans as hoofvakke. Met geskiedenis as haar lewenslange passie en ’n familiegeskiedenis diep gewortel in die Suid-Afrikaanse militêre tradisie was nagraadse studie in hierdie rigting die natuurlike volgende stap. In 2011 en April 2014 verwerf sy onderskeidelik haar honneurs- en meestersgrade in geskiedenis, beide cum laude. Haar skripsies vir honneurs en haar meestersgraad het gehandel oor die Grensoorlog met spesifieke verwysing na die rol van die burgerlike samelewing, veral vroue. Vanaf 2011 tot 2013 is sy as tutor en assistent in die Departement Geskiedenis verbonde. Na drie jaar van klas aanbied vir eerste- en tweedejaarstudente het sy haar passie om kennis oor die verlede te deel, besef. Tans is sy ingeskryf by die Universiteit Stellenbosch vir die Nagraadse Onderwyssertifikaat (NOS) en beoog om teen einde 2014 as onderwyser te kwalifiseer. Sy dien ook tans as voltydse navorser vir die Departement Geskiedenis.