|
Opsomming
Die oorhoofse doel van hierdie artikel is om ’n eksemplariese opsomming te gee van die bestaande taalkundige beskrywings en leksikografiese bewerkings van hedendaagse fok en ander vormlik verwante woorde (soos befok, fokken, fokkol en opfok). Die artikel se spesifieke doelwitte is om (1) ’n konstruksienetwerk van die fok-familie op te stel wat as hipotese vir verdere navorsing kan dien; en (2) ’n navorsingsagenda vir sodanige verdere navorsing oor fok (maar ook ander Afrikaanse vloekkonstruksies) te formuleer. Twee wetenskaplike publikasies, te wete Feinauer (1981) en Dekker (1991), en nege Afrikaanse verklarende woordeboeke wat sedert 1991 verskyn het, dien as bronne om ’n samehangende prentjie van ons bestaande kennis oor fok te verkry. Een van die belangrikste gevolgtrekkings is dat kwantitatiewe data nodig is om die standpunte, beskrywings en gevolgtrekkings in dié publikasies te verifieer. Die artikel sluit af met die standpunt dat kennis oor en begrip van vloekkonstruksies en ander taaltaboes soos fok kan bydra tot insigte in die menslike brein, verstand en psige, die mens se interaksie met ander mense en artefakte (soos rekenaars, literatuur, wetgewing, ens.), asook taalgebruik en taalverandering. Sulke insigte kan verkry word deur gebruiks- en gebruikersgebaseerde navorsing in die beskrywende taalkunde (spesifiek korpusgebaseerde/-gedrewe, konstruksiegebaseerde beskrywings), die toegepaste taalkunde (spesifiek die sosiolinguistiek, rekenaarlinguistiek, psigolinguistiek en neurolinguistiek), en verskeie dissiplines in die kognitiewe neurowetenskappe.
Trefwoorde: etimologie; konstruksiegrammatika; leksikografie; plat; vloek; vulgêr
Abstract
What we (don’t) know about fok
The purpose of this article is to give an exemplary summary of the existing linguistic descriptions and lexicographic treatments of the contemporary Afrikaans fok (“fuck”), and other related words, such as befok (fucking A), fokken (fucking), fokkol (fuck-all), and opfok (to fuck up), with a view to formulating a research agenda for Afrikaans swearword research. The article is based on research in the project “What the swearword: Multidisciplinary research on language taboos”.
Two scientific publications, namely Feinauer (1981) and Dekker (1991), and nine Afrikaans monolingual dictionaries that have appeared since 1991 serve as data to sketch a coherent picture of our existing knowledge about fok. Using these sources, all our existing knowledge about fok is extracted and systematically presented in terms of: (1) etymology; (2) part-of-speech distribution; (3) phonetic and phonological aspects; (4) morphological constructions; (5) syntactic constructions; (6) semantic aspects; and (7) pragmatic aspects.
Based on corroborating evidence from Google Books Ngram Viewer, the conclusion is drawn that fok has indeed developed under influence from English fuck (as has been argued by some scholars and dictionaries before), rather than from Dutch fokken. Morphological and syntactic constructions that emerge from these data sources are also formalised, and then presented as a detailed, summative construction network. One of the conclusions is that quantitative data are needed to verify the views, descriptions, and conclusions of these sources (i.e., to verify the construction network with usage data), since none of them is based on corpus or other empirical data.
The article concludes with the view that knowledge about and understanding of swearword constructions and other language taboos can contribute to insights into the human brain, mind, and psyche; human interaction with other people and artefacts (such as computers, literature, legislation, etc.); as well as language usage and language change. Such insights can be gained through usage- and user-based research in descriptive linguistics (specifically corpus-based/-driven, construction-based descriptions); applied linguistics (specifically sociolinguistics, computational linguistics, psycholinguistics, and neurolinguistics); and various disciplines in the cognitive neurosciences.
Keywords: construction grammar; etymology; lexicography; profanity; swearing; vulgar
1. Inleiding
Vir baie jare al sirkuleer daar via e-pos en sosiale media twee populêre tekste wat die taalkundige lof van die vloekwoord1 fok besing. Beide tekste is duidelik vir vermaaklikheidsdoeleindes geskrywe en nie met die oog op taalkundige korrektheid nie. (Vir doeleindes van bewaring en rekordhouding word die tekste as bylaes hierby ingesluit.) Wie behoorlike taalkundige beskrywings van fok wil hê, is op twee akademiese bronne aangewese, te wete Feinauer (1981) en Dekker (1991). Daarnaas is daar taalkundige inligting vervat in ’n aantal woordeboeke wat ná Dekker (1991) verskyn het. Dit is in teenstelling met ’n beduidende aantal Engelse publikasies wat eksklusief oor die Engelse fuck verskyn het (Lass 1995; McEnery en Xiao 2004; Murphy 2009; Sheidlower 2009; Lodge 2013; McCulloch 2014).
Omvattende beskrywings van fok is van kardinale belang in die beskrywing van die vloekkonstruktikon (Van Huyssteen 2021a) van Afrikaans. Fok is nie net die prototipiesste Afrikaanse taboewoord nie, maar is ook die basis van tien ander konstruksies onder die top 50 prototipiese vloekkonstruksies, te wete (in alfabetiese volgorde) befok, flippen, fokken, fokker, fokkit, fokkof,2 fokkol, fokkop, fok tog en fuck (Van der Merwe 2022). Gegewe hierdie sentrale posisie van fok, asook die feit dat fok en sy familie van konstruksies (voorts “die fok-familie”) allerlei interessante taalkundige verskynsels betrek, noodsaak dit ’n omvattende beskrywing van dié konstruksiefamilie. Dit is boonop belangrik dat sodanige beskrywing van tyd tot tyd bygewerk word, aangesien die gebruik van vloekkonstruksies dikwels aan die voorpunt van (kreatiewe) taalverandering is. (Kyk McEnery en Xiao 2004 vir soortgelyke standpunte oor die Engelse fuck.)
Die oorhoofse doel van hierdie artikel is om ’n opsomming te gee van die bestaande taalkundige beskrywings en leksikografiese bewerkings van hedendaagse fok en ander vormlik verwante woorde (soos befok, fokken, fokkol en opfok). Só ’n opsomming lê twee spesifieke doelwitte ten grondslag, naamlik om:
(1) ’n konstruksienetwerk van die fok-familie op te stel wat as hipotese vir verdere navorsing kan dien; en
(2) ’n navorsingsagenda vir sodanige verdere navorsing oor fok (maar ook ander Afrikaanse vloekkonstruksies) te formuleer.
In afdeling 2 word Feinauer (1981) se insigte opgesom en in afdeling 3 dié van Dekker (1991). In afdeling 4 word die leksikografiese hantering van fok in Afrikaanse verklarende woordeboeke wat sedert 1991 verskyn het, opgesom. Afdeling 5 bestaan hoofsaaklik uit ’n visuele voorstelling van die konstruksienetwerk, terwyl die artikel in afdeling 6 afgesluit word met ’n voorgestelde agenda vir verdere navorsing oor fok en ander vloekkonstruksies.
2. Feinauer (1981)
Feinauer (1981) se verhandeling, “Die taalkundige gedrag van vloekwoorde in Afrikaans”, is die eerste Afrikaanse taalkundige bron waarin fok – saam met ander vloekwoorde – onder die loep geneem word. Hoewel Calitz (1979) se proefskrif, “Spot, skel en verwante verskynsels in Afrikaans”, ook uitvoerig aandag aan vloekwoorde gee, verskyn fok nie ’n enkele keer in dié bron nie. Feinauer (1981), daarenteen, verwys 54 keer na fok, 106 keer na fokken, vier keer na fokkenwil, drie keer elk na fokkit en fokkof, en een keer na moerfokker.3
Gegewe dat fok nie afsonderlik deur Feinauer (1981) bespreek word nie, dien die onderstaande as opsomming van plekke waar sy fok (en verwante woorde) bespreek of as voorbeeld gebruik. Die indeling in verskillende beskrywingsvlakke is my subjektiewe interpretasie.
2.1 Herkoms
- Fok en fokken is aan Engels ontleen. Die Engelse /ʌ/ wat in Afrikaans /ɔ/ word, is nie ongewoon by Engelse ontlenings nie (vgl. byvoorbeeld tonnel < tunnel; trok < truck; boggher/bokker < bugger) (ble. 26, 131).
- Fuck (naas shit en cunt) word dikwels in Afrikaans gehoor. Fuck you en fok jou se taboewaarde is ewe sterk (bl. 201).
- Engelse vloekkonstruksies wat uit twee of meer afsonderlike dele bestaan (byvoorbeeld fuck it, fuck-all, fuck off), smelt in Afrikaans saam en vorm wat sy noem ’n verdonkerde samestelling waar die onderskeie dele só heg verbind dat dit nie meer as ’n samestelling beskou kan word nie (byvoorbeeld onderskeidelik fokkit, fokkol en fokkof). Die laaste deel kan dus nie meer as ’n afsonderlike morfeem herken word nie, hoewel dit by fokkof nog as ’n toevoeging beskou kan word (bl. 141).
2.2 Woordsoortelike gebruik
- Fokken kan as adjektief4 slegs attributief gebruik word en het geen trappe van vergelyking nie. Befok(te), daarenteen, kan attributief én predikatief optree (ble. 61, 123).
- Fokken word baie frekwent as graadwoord gebruik, in byvoorbeeld Ek is fokken haastig. Anders as ander graadwoorde, kan vloekgraadwoorde ook by intensiewe en vergelykingsadjektiewe gebruik word, byvoorbeeld in Die perd is fokken hondmak (ble. 69–71).
- Fok en fokkit tree interjeksionaal na ander interjeksies op, byvoorbeeld in O, fokkit! of Eina, fok! (ble. 75–6).
- Fokken word (net soos God en blerrie) maklik deel van gewoontevloek, sodat dit dan as stopwoord dien (bl. 36).
2.3 Foneties-fonologiese aspekte
- Fok kan deur verkorting versag word deurdat slegs die beginkonsonant oorbly, byvoorbeeld Hy het hom goed ge-f… (bl. 187).
- As fokken in ’n sin beklemtoon word, sal die sin se affektiewe waarde hoër wees as wanneer ’n ander woord benadruk word, byvoorbeeld Die fókken werk maak my mal! teenoor Die fokken wérk maak my mal (bl. 206).
2.4 Morfologiese konstruksies
- Die -en in fokk·en is ’n unieke suffiks wat slegs in die adjektief/bywoord fokken voorkom; die woord (en suffiks) is ’n leenverklanking van die Engelse fuck·ing. In Substandaard-Afrikaans [sic] kom die slot-ie en -ng ook voor in fokkien naas fokking. Fokken kan ook nie met die attributiewe -e gebruik word nie (ble. 70, 122, 131)
- Fokkop is deur nulafleiding uit die werkwoord fok op [sic] gevorm. Fok op is ’n deeltjievloekwerkwoord wat – net soos gewone deeltjiewerkwoorde – sonder gaan of loop as imperatief gebruik kan word (byvoorbeeld Ag, fok op, man!). Hulle is daarom onoorganklike vloekimperatiewe, net soos bokkerof, fokkof en pisof (ble. 47, 85).
- Saam met fok kom op as setselagtige deeltjie en aan, terug en voort as bywoordelike deeltjies voor. Adjektiwiese deeltjies kan ook saam met fok voorkom (geen voorbeelde verskaf nie), maar nie voorsetselgroepagtige en naamwoordelike deeltjies nie (ble. 56–7, 59).
- Fokkof lyk soos ’n deeltjiewerkwoord, maar die of is nie ’n Afrikaanse deeltjie nie, aangesien ’n mens nie die verledetydsvorm *ofgefok of die infinitief *offok kry nie. Dieselfde geld ook bokkerof (ble. 109–110).
- Opfoksel is ’n samestellende afleiding. (Die suggestie is dat dit dalk ’n persoonsnaam is, want Feinauer (1981) sê oor die lys voorbeelde: “[H]ulle is meestal persoonsname”) (bl. 142).
- Fokken (naas flippen, bleddie, blerrie, blessit, blienkien en bloemen) kom gereeld voor in die vloekwoordinvoegingskonstruksie (byvoorbeeld be-fokken-laglik, be-fokken-fok, mors-fokken-doodmoeg, James fokken Bond, kwart oor fokken vier). Bleddie kom egter frekwenter as fokken in dié konstruksie voor (ble. 142–59).
- Flippen is ’n eufemisme vir fokken, vrek of foksterriër vir fok, flippit vir fokkit. Fok word ook soms met vloek vervang, byvoorbeeld Europa doen vloekôl (< fokkol), Europa bevloek ons (< befok) en Vloek Europa (< fok) (ble. 180, 188).
2.5 Sintaktiese konstruksies
- Fokken kan voor naamwoordstukke gebruik word wat gewoonlik nie deur adjektiewe voorbepaal kan word nie (byvoorbeeld Vandag gaan ons weer fokken niks vang nie), wat daarop dui dat adjektiwiese vloekwoorde emosionaliteit te kenne gee, eerder as om die naamwoordstuk te karakteriseer (bl. 62).
- Wanneer fokken as adjektiwiese voorbepaler by ’n persoonsnaam optree, word die, hierdie, daardie, so ’n of sulke vereis, byvoorbeeld Daardie fokken Johan het toe nooit opgedaag nie, teenoor *Fokken Johan het toe nooit opgedaag nie (bl. 63).
- Fokken kan ander vloekwoorde voorbepaal om die negatiewe affek te versterk, byvoorbeeld die fokken donnerse mense (bl. 212).
- Fok kom nié as naamwoordstuk in die volgende konstruksies voor nie:
- [npvloek postp]adj-konstruksie (byvoorbeeld die moer in) (bl. 89)
- [prep npvloek]adj-konstruksie (byvoorbeeld deur die kak/pis/stront) (bl. 93)
- [prep npvloek]PP.REFL-konstruksie (byvoorbeeld op sy donder, in jou moer) (bl. 93)
- Vloekgroepvoorsetselkonstruksie (byvoorbeeld na die / te donder/hel/moer met) (bl. 96)
- [npvloek prep pn.obj]-konstruksie (byvoorbeeld stront met jou!) (bl. 97).
- Fok kom geredelik in die [wh.q art.det npvloek]-konstruksie (byvoorbeeld wat de fok) voor. Vraagwoorde wat in hierdie konstruksie voorkom, is hoe, hoekom, hoeveel, waar, waarom, wanneer, wat en wie, terwyl die naas de as bepaalde lidwoord kan voorkom. Hierdie konstruksie tree op aan die begin van spesifieke vraagsinne (byvoorbeeld Nou waar de fok wil jy my ontmoet?), as betreklike bysinne (byvoorbeeld Ek weet nie waar de fok hy bly nie) en as interjeksies (byvoorbeeld Wat de fok!) (ble. 99, 101).
- Fok kom in die kwasi-oorganklikevloekwerkwoordkonstruksie voor, soos Fok jou/hom/dit! (maar nie met emfatiese self nie, soos *Fok jouself!). (Kyk ook Quang 1971 vir ’n beskrywing van hierdie konstruksie in Engels.) Sulke vloekimperatiewe druk nie noodwendig ’n bevel uit nie, maar is eerder ekspressiewe met illokusionêre kragte soos afjak, belediging, verkleinering of afdreiging (ble. 52–5, 226, 232).
- Die fok weet word as versterkende vloekadjunk gebruik (byvoorbeeld Ek is die fok weet so vies), terwyl nie ’n fok nie as versterkende negatiefadjunk gebruik word (byvoorbeeld Ek gee nie ’n fok om nie). Fokken en fokkenwil word ook as oordeelsadjunkte gebruik (ble. 65–6).
- As vloekinterjeksie kan fok voor- of agteraan ’n sin voorkom: Fok, die kar het gaan staan! naas Die kar het gaan staan, fok!. Dit dui daarop dat dit nie met ’n spesifieke sinsdeel optree nie, maar met die sin as ’n geheel (ble. 168).
2.6 Semantiese aspekte
- Fokken as vloekgraadwoord of vloekadjektief het ’n negativerende affek as onderskeidelik die adjektief of naamwoord neutraal of negatief affektief is (byvoorbeeld Hy is ’n fokken lui dosent), maar is intensiverend slegs as die adjektief of naamwoord positief affektief is (byvoorbeeld Hy is ’n fokken goeie dosent) (bl. 71).
- Fokkenwil het ’n hoër negatiewe affektiewe waarde as fokken (bl. 213).
- Vloekinterjeksies soos fok en fokken (en ander, soos bleddie, blessit, dêmmit en dessit) het dikwels geen begripsinhoud nie, maar tree uitsluitlik as indekse van emosie op (en nie benoemers van emosie nie, soos angs of woede); hulle is dus simptomaties van ’n bepaalde emosie (bl. 167).
- Befok (en ander, soos bebliksemd, bedonderd, befoeterd, bemoerd en beneuk) word gebruik om emosionaliteit én sprekershouding te kenne te gee (bl. 169).
- In ’n vloeknaamwoord soos fokkop word emosionaliteit, entiteit en resultaat te kenne gegee; in ’n vloekwerkwoord soos op(ge)fok is emosionaliteit, proses en resultaat aanwesig; met ’n adjektief soos befok (Feinauer gee Hy is bedonder as voorbeeld) word emosionaliteit, toestand en resultaat uitgedruk, terwyl dit anders ook slegs emosionaliteit en toestand kan uitdruk, soos in Hy is bedonderd (bl. 173).
- Die My fok!-konstruksie druk die spreker se subjektiewe betrokkenheid (en nie besitting nie) uit en word gebruik om ontsteltenis, verontwaardiging of verbasing te kenne te gee. My fok! (soos ook My bliksem/dêmmit/donder/shit!) is na analogie van My God/Here/Jesus/Heiland/hel/magtig! gevorm (bl. 77).
- Die volgende beginsels kan vir die sterkte van imperatiewe met fok(ken) (en ander vloekwoorde) gestel word (ble. 227–8):
- Vloekwoorde wat via werkwoorde of onmiddellik via die sin werk, is sterker as dié wat via naamwoorde werk, byvoorbeeld Fokken vat jou voete van my bed af is sterker as Vat jou fokken voete van my bed af.
- Vloekwoorde wat via naamwoorde werk wat op die hoorder betrekking het, is sterker as dié wat op naamwoorde van die spreker betrekking het; byvoorbeeld Vat jou fokken voete van my bed af is sterker as Vat jou voete van my fokken bed af.
- Vloekwoorde wat via naamwoorde met besitlike voornaamwoorde werk, is sterker as dié wat deur naamwoorde met lidwoorde werk, byvoorbeeld Vat jou voete van my fokken bed af is sterker as Vat jou voete van die fokken bed af.
2.7 Pragmatiese aspekte
- Illokusionêre kragte wat met vloekstelsinne (waarin fok(ken) kan voorkom) geassosieer word, is verkleinering, beskuldiging, dreigement, belediging, afjak, konfrontasie, protes en berisping (ble. 221–2).
- In Baie fokken dankie het die beleefdheidsadjunk ’n ironiese werking, aangesien die spreker nie die hoorder wil bedank nie (bl. 225).
- In vraagsinne waarin fok(ken) (en ander vloekwoorde) voorkom, kan beleefdheidsmeganismes nie werksaam wees nie, byvoorbeeld *Hoe de fok moet ek daar kom, asseblief? (bl. 229).
- Soos by vloekstelsinne en vloekimperatiewe is daar dikwels ander illokusionêre kragte by vloekvraagsinne as by vraagsinne sonder vloekwoorde. Hoe de fok kan jy dit van my verwag? druk byvoorbeeld afkeurende protes uit, eerder as om ’n antwoord op die vraag te verwag (bl. 230).
- Ingevolge die situasionele reëls wat by vloekwoordgebruik geld, is ’n konstruksie soos Fok u! (dus met gebruik van die beleefdheidsvoornaamwoord) onvanpas en semanties anomaal (bl. 235).
3. Dekker (1991)
Dekker (1991) se fokus is in wese suiwer metaleksikografies: Hy gebruik fok en verwante woorde bloot om enkele aspekte van die hantering van aanstootlike leksikale items in Afrikaanse verklarende woordeboeke met betrekking tot die hantering van aanstootlike leksikale items in Afrikaanse verklarende woordeboeke te illustreer. Sy beskrywing betrek 13 verskillende uitgawes van die volgende woordeboeke wat tussen 1936 en 1987 verskyn het: Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT), Nasionale Woordeboek (NW; eerste uitgawe onder die titel Kernwoordeboek van Afrikaans), Verklarende Afrikaanse Woordeboek (VAW) en Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT). In sy bespreking sluit hy eksplisiet fok as seilvaartterm en fok in die betekenis “bril” uit.
Hy kom tot die gevolgtrekking dat die vloekwoord fok tot 1991 nie in enige van die Afrikaanse verklarende woordeboeke voorkom nie. Die fok wat wel aanvanklik in vier woordeboeke, maar later slegs in twee woordeboeke opgeneem is, beteken “teel van diere”. Hy kom tot die gevolgtrekking dat fok met dié betekenis ’n Nederlandse leksikale item is wat in Afrikaanse woordeboeke opgeneem is asof dit Afrikaans is, maar dat die woord en sy samestellings en geaffigeerde vorme nie (meer) in Afrikaans bestaan nie.
Hy doen vervolgens ’n voorstel aan die hand vir die bewerking van ’n sestal lemmas volgens die styl van die WAT: fok, -fok, fokking,5 fokop,6 opfok en rondfok. Uit dié bewerkings en sy besprekings daarvan kan die onderstaande samevatting gemaak word oor die woorde (en nie oor die metaleksikografiese aspekte nie); ek gebruik dieselfde rubrieke as in die bespreking hier bo (afd. 2.1).
3.1 Herkoms (bl. 55)
- Fok se betekenisse, komposita, grammatika en idiome is verafrikaansings van die Engelse fuck.
3.2 Woordsoortelike gebruik (ble. 56–7)
- Werkwoord: fok (verledetydsvorm: gefok), opfok (verledetydsvorm: opgefok), rondfok (verledetydsvorm: rondgefok)
- Selfstandige naamwoord: fokkery; fokspul; fokkop (meervoud: fokkops; verkleinwoord: fokkoppie)
- Adjektief en bywoord: gefok (attributiewe vorm: gefokte), fokking (ook fokken), opgefok (attributiewe vorm: opgefokte), rondgefok (attributiewe vorm: rondgefokte)
- Interjeksie: fok
3.3 Foneties-fonologiese aspekte (ble. 56–7)
- In alle meersillabige woorde val die klemtoon op die eerste sillabe, behalwe in die geval van deurmekaarfok, waar die klem op die voorlaaste sillabe val (deurmekáárfok).
3.4 Morfologiese konstruksies (bl. 57)
- Fok vorm produktief die slotkomponent van werkwoordelike komposita, soos in aanfok, deurfok, deurmekaarfok, infok, omfok, opfok, rondfok, wegfok.
- Fokking is die primêre vorm vir die adjektief en bywoord (graadwoord), maar fokken kom ook soms voor. Slegs eersgenoemde word in die voorbeeldmateriaal gebruik.
3.5 Sintaktiese konstruksies (ble. 56–7)
- Die werkwoord fok in die betekenis “so beweeg dat dit hinderlik is” word saam met ’n bywoordelike frase (in byvoorbeeld Waarvoor fok daardie lorries die hele tyd heen en weer hier in ons straat?) of setsel (in byvoorbeeld Moenie daardie skrum so swaai nie, julle fok die hele veld vol!) gebruik.
- Fok dit (iets, iemand, …)! en Fok jou! is gevestigde idiomatiese uitdrukkings.
3.6 Semantiese aspekte (ble. 56–8)
- In slegs twee gevalle is daar tekens van die seksuele domein in die betekenisse: die werkwoorde fok (“geslagsgemeenskap (met iemand) hê”) en rondfok (“met baie mense geslagsomgang hê”). In al die ander gevalle het die betekenisse betrekking op sake wat hinderlik is, of waar iets met geweld of onder dwang uitgevoer word en dan verwoes, verwar, verrinneweer, gebreek, deurmekaargemaak, beweeg of gemanipuleer word.
- Die adjektief fokken se sinoniem (en betekenisverklaring) is “vervlakste” en die bywoord/graadwoord s’n is “baie”.
- Fok as interjeksie is ’n uitroep om iets te beklemtoon.
- Fok dit! beteken “Los dit; vergeet daarvan”.
- Fok jou! beteken “Ek hou nie van wat jy sê of doen nie en jy moet dadelik daarmee ophou.”
3.7 Pragmatiese aspekte (ble. 56–7)
- Fok en sy verwante vorme is almal vulgêr. As tussenwerpsel is fok ’n vloekwoord, terwyl fokken as adjektief ook as skeltaal gebruik kan word (byvoorbeeld Die fokken onderwysers wil nie verstaan dat ek nie die huiswerk kan doen nie).
- Die feit dat fok as vloekwoord nie in Afrikaanse verklarende woordeboeke behandel is nie, kan toegeskryf word aan óf ’n puristiese onwilligheid om aanstootlike leksikale items te erken, óf as weerstand teen alles wat ten regte of ten onregte as anglisisties aangesien word. (Ek kom in afdeling 4 terug hierop.)
- Dekker (1991:56) omskryf sy eie blootstelling aan fok (en ander vloekwoorde) as iets wat hom bereik het “wanneer hy hom tussen sy geslagsgenote bevind. Hy hoor aanvanklik, as kind by die huis, hoegenaamd niks daarvan nie. Die grootste deel raak mettertyd aan hom bekend terwyl hy skoolterreine, skrums, maats en universiteitskampusse belewe. Ten slotte word hy gedurende sy militêre lewe aan die volle omvang en sosiolinguistiese geweld daarvan blootgestel.”
4. Afrikaanse verklarende woordeboeke sedert 1991
Die nege Afrikaanse verklarende woordeboeke wat sedert 1991 (toe Dekker 1991 gepubliseer is) verskyn het en wat hier oorweeg is, is die volgende:
- Aanlyn weergawe van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT 2017)
- Agtste en negende uitgawe van die Verklarende Afrikaanse Woordeboek (VAW-8 1993; VAW-9 2010)
- Derde, vierde, vyfde en sesde uitgawe van die Verklarende Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT-3 1993; HAT-4 2000; HAT-5 2005; HAT-6 2015)
- Die Woordeboek van Eietydse Afrikaans (WAV 2020–)
- Eerste uitgawe van die Etimologiewoordeboek van Afrikaans (EWA 2003) (streng gesproke nie ’n verklarende woordeboek nie, maar dit koppel wel telkens etimologiese inligting aan spesifieke betekenisonderskeidings/-verklarings).
In Tabel 1 word ’n opsomming van die inligting in vyf van hierdie woordeboeke gegee; waar ’n lemma met ’n bepaalde woordsoort en betekenis in ’n bepaalde woordeboek voorkom, word dit aangedui met die gebruiksetiket wat by daardie lemma verskyn. Die indeksnommers in die tweede kolom verwys na die ooreenstemmende node in Figuur 2. Uitgesluit uit die tabel is: (1) HAT-3 (1993), waarin fok glad nie voorkom nie; (2) HAT-4 (2000) wat identies aan (HAT-5 2005) is, met die uitsondering dat eersgenoemde by die werkwoord fok erkenning gee aan die betekenis “om moeilikheid te veroorsaak”, maar weggelaat word in laasgenoemde, en dat gefok nie in eersgenoemde nie, maar wel in laasgenoemde voorkom; en (3) VAW-8 (1993) en VAW-9 (2010), wat slegs die volgende inskrywing bevat (in VAW-8 (1993) sonder die etiket):
fok2 (vulg.) Kragwoord. ~ken.
Watter waarnemings kan op grond van hierdie woordeboekdata gemaak word? Ek rangskik my interpretasies onder dieselfde opskrifte as in die vorige twee afdelings.
Tabel 1. Opsomming van vyf woordeboeke
Klik op die figuur vir ’n groter weergawe.
Afkortings: A = byvoeglike naamwoord (adjektief) en/of bywoord; ADJ = slegs byvoeglike naamwoord; ADV = slegs bywoord; I = tussenwerpsel (interjeksie); N = selfstandige naamwoord; NUM = telwoord; PN = voornaamwoord; V = werkwoord; wd = woorddeel; ws = woordsoort; # = indeksnommer
4.1 Herkoms
Dit is baie duidelik dat die Nederlandsagtige fok (“om te teel met diere”) en verbandhoudende woorde (fokker; fokdier, fokhings, fokram, fokskaap, fokvee) sonder twyfel nie meer in hedendaagse Afrikaans bestaan nie, soos Dekker (1991) reeds voorspel het die geval sou wees. In geen van die bestudeerde woordeboeke word hierdie fok meer erken nie, met die uitsondering van WAT (2017) wat dit met die etiket “weinig gebruiklik” merk.
By fok en fokken dui EWA (2003) aan dat hulle onderskeidelik uit Engelse fuck en fucking afkomstig is, maar by die werkwoord fok met die betekenis “geslagsgemeenskap hê met” word gesê dat dit uit Nederlands (Middelnederlands) afkomstig is met “stoot, du” as oorspronklike betekenis. Dit is wel enigsins teenstrydig met die inskrywing by die naamwoord fok met die betekenis “daad van geslagsgemeenskap […]” waar aangedui word dat dit uit Engels kom. Dit is vreemd (indien nie onwaarskynlik nie) dat die werkwoordelike gebruik uit Nederlands afkomstig is, maar die naamwoordelike gebruik uit Engels. Hoewel Engelse fuck en Nederlandse fokken ’n voorgeskiedenis deel (Van Huyssteen 2021b), is dit veel komplekser as wat binne die skopus en styl van EWA (2003) aangedui word.
WAV (2020–) dui by kopfok aan dat dit uit die Engelse mindfuck “afkomstig” is. Dit is enigsins onpresies: So min soos wat ’n mens kan sê werkswinkel is afkomstig uit Engelse workshop, so min kan ’n mens sê dat kopfok uit mindfuck afkomstig is. Beide kopfok en werkswinkel is leenvertalings van Engelse woorde, maar nie “afkomstig uit” Engels nie.
Die feit dat fok en verwante woorde aansienlik uitgebrei in WAT (2017) en HAT-6 (2015) is, is moontlik bewys dat die gebruik van hierdie woorde eers vanaf die 1980’s deel van hoofstroom-Afrikaans geword het. Dekker (1991) se mening dat die afwesigheid van fok as vloekwoord onder andere te wyte is aan “’n puristiese onwilligheid om aanstootlike leksikale items te erken”, is gewoon verkeerd. Sou sy stelling waar wees, sou ’n mens ook nie ander vloekwoorde in die WAT of ander woordeboeke van daardie tyd kry nie. Ons kan dit maklik toets aan die hand van drie ander, algemene vloekwoorde: doos, kak en poes (telkens in hulle potensieel aanstootgewende gebruik/betekenis).
In Deel II: D–F van die WAT, wat in 1955 gepubliseer is, verskyn doos (“vroulike geslagsdeel”), maar nie fok nie, en 13 jaar later in Deel V: J–KJ (1968) verskyn kak ook reeds, en in Deel XII: P–Q (2005) poes. Daar is dus van die vroegste tye af nie by die WAT ’n onwilligheid om aanstootlike leksikale items op te neem nie. Dieselfde geld ook HAT: Reeds in HAT-1 (1965) verskyn doos, kak en poes. Die feit dat fok nie in hierdie vroeëre uitgawes van woordeboeke verskyn nie, is eerder ’n teken dat fok voor die 1980’s beperk was tot spesifieke subkulture, soos Dekker (1991) se “skoolterreine, skrums, maats, […] universiteitskampusse [en] […] militêre lewe”.
Sterker nog: Die tydlyn in die Afrikaanse woordeboekdata is tekenend van die feit dat fok onder Engelse invloed in Afrikaans ontstaan het (en nie uit Nederlandse fokken gegroei het nie, of nie deur preutse leksikografiepraktyk uit woordeboeke geweer is nie). Dié teorie word sterk ondersteun deur historiese data met betrekking tot die gebruik van fuck in Engels. Uit data in Google Books Ngram Viewer (Michel e.a. 2011) is dit duidelike dat fuck eers in die 1960’s in frekwensie begin toeneem en pas in die 1980’s werklik beduidend begin groei het (kyk Figuur 1). Die feit dat ons nie fok in sy vloekwoordgebruik in Afrikaanse woordeboeke voor die 1990’s aantref nie, strook dus met hierdie Engelse frekwensiespreidingstrajek.
Figuur 1. Relatiewe frekwensie van fuck in Google Books Ngram Viewer (Parameters: “1800–2019; English (2019); case-insensitive; smoothing of 3”) (Michel e.a. 2011)
4.2 Woordsoortelike gebruik
Gegewe dat daar meer lemmas in hierdie woordeboeke opgeneem en bewerk word, is die prentjie veel ryker as wat deur Dekker (1991) geskets word, soos hier onder per woordsoort geïllustreer word:
- Werkwoord (V): befok1 (“om skade aan te doen”); befok2 (“om te bedrieg”); fok1 (“om moeilikheid te veroorsaak”); fok2 (“om seks te hê”); fokkof; fokkoliseer; opfok; rondfok. WAT (2017) en HAT-6 (2015) dui spesifiek ook aan dat fok1 dikwels as voorsetselwerkwoord saam met met gebruik word (soos As daar met my familie gefok word, gaan ek kwaad raak).
- Naamwoord (N): fok1 (“geslagsgemeenskap”); fok2 (“geslagsgemeenskapsgenoot”); fokker; fokkery; fokkie; fokkol; fokkop1 (“moeilike situasie; probleem; gemors; mislukking”); fokkop2 (“ongunstige of mislukte persoon/saak”); fokspul; kopfok; kosopfokker.
- Adjektief én bywoord (A): befok (ses verskillende betekenisse); fokken; fokkol; gefok
- Slegs adjektief (ADJ): bosbefok en bossies (slegs HAT-6 (2015) dui aan dat dit as adjektief én bywoord gebruik kan word; al die ander woordeboeke waarin dit opgeneem is, meen dit kan slegs adjektiwies gebruik word); (Dit is waarskynlik ’n fout dat HAT aandui dat flippen slegs as adjektief gebruik word, aangesien dit in die betekenisverklaring gestel word dat dit ’n eufemisme vir fokken is, wat wel as adjektief én bywoord gemerk word.)
- Tussenwerpsel/interjeksie (I): flip, flippit, flok, fok (met twee betekenisonderskeidings en een sinoniem), fokkit, fokkof
- Telwoord (NUM): fokkol
- Voornaamwoord (PN): fokkol
- Woorddeel (wd): fokken
4.3 Foneties-fonologiese aspekte
Geen van die woordeboeke dui enigiets aan wat anders is as, of teenstrydig is met Dekker (1991) nie.
4.4 Morfologiese konstruksies
Dit is duidelik dat fok produktief as basis gebruik word vir affigering (byvoorbeeld befok, gefok), komposita (byvoorbeeld fokkof, kopfok), samekoppelings (byvoorbeeld opfok, rondfok) en verdraaiings (byvoorbeeld flok, flip < flippit < fokkit). Let op die volgende spesifieke waarnemings:
- Anders as Dekker (1991) wat sê dat fok produktief die slotkomponent van werkwoordelike komposita (d.i. samekoppelings) is, word slegs opfok en rondfok in die woordeboeke opgeneem.
- Hoewel Feinauer (1981) reeds uitgebreid illustreer hoe fokken, frieken en flippen as interfikse gebruik word, is dit slegs WAT (2017), HAT-6 (2015) en WAV (2020–) wat erkenning hieraan gee. Opmerklik is dat eersgenoemde aandui dat dit met koppeltekens ingevoeg word (byvoorbeeld asse-fokken-blief), terwyl laasgenoemde twee aandui dat geen koppeltekens gebruik word nie (byvoorbeeld assefokkenblief).
- Terwyl Dekker (1991) aandui dat fokking die primêre vorm vir die adjektief en bywoord is, en Feinauer (1981) ook melding maak van fokkien naas fokking, gee geen van die bestudeerde woordeboeke erkenning aan dié vorme nie.
- WAT (2017) en al die uitgawes van HAT waarin fokkop voorkom, dui aan dat die meervoud fokkops is. WAV (2020–), daarenteen, dui aan dat fokkop gewoonlik in die enkelvoud gebruik word.
4.5 Sintaktiese konstruksies
Die volgende sintaktiese konstruksies word eksplisiet in van die woordeboeke genoem:
- [ag|my|o fok]interj ⇔ [UITROEP VAN AFKEUR, MISNOEË, ONGELOOF, VERBASING, ENS.] (WAT 2017)
- [vp fok met obj.prep] ⇔ [BEHANDEL obj.prep OP ’N VERKEERDE MANIER] (HAT-6 2015; WAT 2017)
- [advp fokkol … nie] ⇔ [HEELTEMAL NIKS] (WAT 2017)
- [advp nie ’n fok (v.intr) nie] ⇔ [GLAD NIE (v.intr)] (HAT-6 2015; WAT 2017)
- [vt.pr fok np!] ⇔ [VERVLOEK OM NEGATIEWE EMOSIE TE KENNE TE GEE] (HAT-6 2015; WAT 2017)
- In al die HAT’s word slegs voorbeelde met voornaamwoorde (byvoorbeeld Fok jou!) aangedui, maar WAT (2017) gee ook voorbeelde met ander NP’s, soos Fok die bure!.
- [pn.wh.q de fok?] interj ⇔ [VRAENDE UITROEP VAN AFKEURING, MISNOEË, ONGELOOF, VERBASING, ENS.] (HAT-6 2015; WAT 2017)
- Geen van die woordeboeke gee erkenning aan hierdie konstruksie met die in plaas van de nie; slegs laasgenoemde word erken.
Naas hierdie sintaktiese konstruksies word die volgende vaste uitdrukkings ook eksplisiet genoem:
- [die fok weet] ⇔ [NIEMAND WEET NIE; DIS HEELTEMAL ONSEKER] (HAT-6 2015; WAT 2017)
- [my fok, Marelize!] ⇔ [UITROEP OM SKRIK/SKOK/VERSLAENHEID TE KENNE TE GEE] (WAV 2020–)
- [’n vet/moerse fokkop] ⇔ [’n GROOT PROBLEEM] (HAT-6 2015; WAV 2020–)
4.6 Semantiese aspekte
Die groot verskeidenheid betekenisse van fok en verwante woorde is hier bo in Tabel 1 weergegee. Geen erkenning word aan Dekker (1991) se betekenis “so beweeg dat dit hinderlik is” by die werkwoord fok gegee nie. Insgelyks word nie erkenning gegee aan die betekenis “met baie mense geslagsomgang hê” by rondfok; “los dit; vergeet daarvan” by Fok dit!; en “ek hou nie van wat jy sê of doen nie en jy moet dadelik daarmee ophou” by Fok jou! nie.
Die betekenisse en gebruiksvoorbeelde is in ooreenstemming met Feinauer (1981) se waarneming dat fok meestal met negatiewe emosies, sake of situasies geassosieer word, maar dat daar tog enkele gevalle is waar dit positief gebruik kan word, byvoorbeeld Dis befok!.
4.7 Pragmatiese aspekte
Verskillende woordeboeke gebruik verskillende etikette om fok en verwante woorde te merk:
- WAT (2017) gebruik redelik konsekwent vloek (21 keer), maar in drie gevalle plat en in een geval geselstaal.
- HAT-6 (2015) is minder konsekwent, maar gebruik meestal vulgêr (sewentien keer). Daarnaas kom plat elf keer voor, sleng tien keer en informeel een keer.
- WAV (2020–) se etiketgebruik is selfs meer inkonsekwent as dié van HAT-6 (2015). So byvoorbeeld kry fok geen etiket nie, ·fokken· word aangedui as kragwoord (hoewel dit ’n interfiks is), fokkoliseer is plat, fokkop is informeel, kopfok is sleng en kosopfokker is skertsend.
- EWA (2003) gebruik vulgêr slegs by fok (vyf keer); in die ander gevalle word plat (sewe keer) en eufemisties (een keer) gebruik.
5. Samevatting: Konstruksienetwerk van die fok-familie
My interpretasie van die taalkundige en leksikografiese bronne wat oor fok handel, word in die konstruksienetwerk in Figuur 2 opgesom. Die toeligting in die blokkie regs onder verduidelik die gebruik van verskillende kleure, arserings, pyle en strepe, asook hoe elke node geïnterpreteer moet word. Eufemistiese verdraaiings (soos flippen en flippit) en inkortings (soos bossies < bosbefok) word by die onderskeie basiswoorde met ’n skerphakie (>) aangedui. Ter wille van volledigheid word die nietaboehomonieme van fok ook ingesluit (onder in die middel, met rooi letters aangedui).
Figuur 2. Konstruksienetwerk van die fok-familie
Klik op die figuur vir ’n groter weergawe.
6. Vooruitskouing: Navorsingsagenda
Vir doeleindes van ’n omvattende beskrywing van vloekwoorde en vloekwoordkonstruksies, hetsy in toekomstige verklarende woordeboeke of spesifiek in ’n vloekwoordeboek (kyk Van Huyssteen (2021a) vir ’n beskrywing van die sogenaamde Vloekepedia wat tans ontwikkel word), dien die insigte van Feinauer (1981), Dekker (1991) en Afrikaanse verklarende woordeboeke wat sedert 1991 verskyn het, as ’n goeie basis. Gegewe dat beide Feinauer (1981) en Dekker (1991) voor die opkoms van die korpuslinguistiek en die beskikbaarheid van elektroniese Afrikaanse korpusse gepubliseer is, bevat nie een van dié twee bronne kwantitatiewe gegewens om hulle bevindinge te ondersteun nie. Boonop het dié twee bronne onderskeidelik meer as 40 en 30 jaar gelede verskyn. Hoewel daar heelwat meer onlangse verklarende Afrikaanse woordeboeke is, gee dié woordeboeke ook uit hulle aard uit nie kwantitatiewe data ter ondersteuning van hulle beskrywings nie (hoewel hulle meestal wel korpusgebaseerd is).
Die belangrikste navorsingsagenda met betrekking tot fok (of enige ander vloekwoord) sou daarom wees om gebruiksgebaseerde navorsing te doen, met spesifieke verwysing daarna om:
(1) bestaande insigte korpusgebaseerd te toets
(2) hiatusse in bestaande insigte korpusgedrewe te vind en aan te vul
(3) konstruksiegebaseerde beskrywings te gee
(4) die rol van vloekkonstruksies in taalverandering te ondersoek.
Feinauer (1981:201) voer byvoorbeeld aan dat fuck (naas shit en cunt) frekwent in Afrikaans gehoor word. Teen die agtergrond van (1) kan ’n mens ondersoek of dit waar is, en teen die agtergrond van (2) of daar ander Engelse vloekwoorde (of vloekwoorde uit ander tale) is wat ook frekwent in Afrikaans gebruik word. Met betrekking tot (3) gaan dit daaroor dat moontlikhede ondersoek moet word om die skopus van leksikografiese beskrywings te verskuif na sogenaamde konstruktikografiese beskrywings, d.i. waar die onderskeid tussen leksikale items (byvoorbeeld fok) en grammatikale konstruksies (byvoorbeeld [vp.tr fok np!]) opgehef word (kyk byvoorbeeld Lyngfelt e.a. 2018). Laastens, met betrekking tot (4) gaan dit nie net oor die etimologie van vloekwoorde en -konstruksies nie, maar veral ook oor die mate waartoe vloekwoorde/-taal as taalkundige innovering gebruik word om versnelde (korttermyn)taalverandering te weeg te bring (kyk byvoorbeeld Burridge en Benczes (2019)).
Naas gebruiksgebaseerde ondersoeke is daar ook ’n enorme leemte in gebruikersgebaseerde navorsing oor vloek en vloekwoorde, met spesifieke verwysing na:
(5) sosiolinguistiese navorsing
(6) rekenaarlinguistiese navorsing
(7) psigolinguistiese navorsing
(8) neurolinguistiese navorsing.
Feinauer (1981:201) voer byvoorbeeld aan dat fuck you en fok jou se taboewaarde ewe sterk is. Deur middel van sosiolinguistiese vraelyste (kyk byvoorbeeld Beers Fägersten 2007, of Van Huyssteen en Eiselen (2021)), data van sosiale media (kyk byvoorbeeld Gauthier 2021), oogsporingsdata (kyk byvoorbeeld Christianson e.a. 2017) of data verkry deur middel van funksionele magnetiese resonansbeelding (fMRI; kyk byvoorbeeld Hansen e.a. 2019) kan dié stelling van Feinauer – en talle vrae – empiries getoets word.
Erkenning
Die projek “Wat de vloekwoord! Multidissiplinêre navorsing en wetenskapskommunikasie oor vloek” waarbinne hierdie navorsing uitgevoer is, is ten dele moontlik gemaak deur finansiële ondersteuning van die Suid-Afrikaans Akademie vir Wetenskap en Kuns. Die in natura-bydraes van BlueTek Computers, WatKykJy.co.za, Afrikaans.com en Maroela Media word ook hiermee met dank erken. Geen van die opinies in hierdie artikel kan egter aan enige van hierdie instansies en/of hulle medewerkers toegedig word nie.
Etiese klaring
Hierdie bydrae verskyn onder die vaandel van ’n projek waarvan die oorhoofse etiekklaring op 21 Mei 2019 by die Noordwes-Universiteit se Language Matters Ethics Committee geregistreer is; die registrasienommer is NWU-00632-19-A7.
Bibliografie
Allan, K. (red.) 2019. The Oxford handbook of taboo words and language. Oxford: Oxford University Press.
Beers Fägersten, K. 2007. A sociolinguistic analysis of swearword offensiveness. Saarbrücken: Universität des Saarlands. https://www.researchgate.net/publication/265009714_A_sociolinguistic_analysis_of_swearword_offensivenes (10 September 2022 geraadpleeg).
Burridge, K. en R.A. Benczes. 2019. Taboo as a driver of language change. In Allan (red.) 2019:180–99.
Calitz, F.C. 1979. Spot, skel en verwante verskynsels in Afrikaans. PhD-proefskrif, Universiteit Stellenbosch.
Christianson, K., P. Zhou, C. Palmer en A. Raizen. 2017. Effects of context and individual differences on the processing of taboo words. Acta Psychol (Amst), 178:73–86. http://dx.doi.org/10.1016/j.actpsy.2017.05.012.
Dekker, L. 1991. Vloek, skel en vulgariteit: Hantering van sosiolinguisties aanstootlike leksikale items. Lexikos, 1:52–60. https://doi.org/10.5788/1-1-1148.
EWA. 2003. Etimologiewoordeboek van Afrikaans. Stellenbosch: Buro van die WAT.
Feinauer, A.E. 1981. Die taalkundige gedrag van vloekwoorde in Afrikaans. MA-verhandeling, Universiteit Stellenbosch.
Gauthier, M. 2021. “Eww wtf, what a dumb bitch”: A case study of similitudes inside gender-specific swearing patterns on Twitter. Corpora, 16(1):31–61. http://dx.doi.org/10.3366/cor.2021.0208.
Hansen, S.J., K.L. Mcmahon en G.I. De Zubicaray. 2019. The neurobiology of taboo language processing: fMRI evidence during spoken word production. Social Cognitive and Affective Neuroscience, 14(3):271–79. http://dx.doi.org/10.1093/scan/nsz009.
HAT-1. 1965. Verklarende handwoordeboek van die Afrikaanse taal. Eerste uitgawe. Pretoria: Voortrekkerpers.
HAT-3. 1993. Verklarende handwoordeboek van die Afrikaanse taal. Derde uitgawe. Pretoria: Perskor.
HAT-4. 2000. Verklarende handwoordeboek van die Afrikaanse taal. Vierde uitgawe. Kaapstad: Pearson/Perskor.
HAT-5. 2005. Handwoordeboek van die Afrikaanse taal. Vyfde uitgawe. Kaapstad: Pearson.
HAT-6. 2015. Handwoordeboek van die Afrikaanse taal. Sesde uitgawe. Kaapstad: Pearson. https://viva-afrikaans.org (10 September 2022 geraadpleeg).
Kinky. 2002. Oor “fok”. https://groups.google.com/g/soc.culture.south-africa.afrikaans/c/d_pQiw8PvVU (10 September 2022 geraadpleeg).
Lass, R. 1995. Four letters in search of an etymology. Diachronica, 12(1):99–111. https://doi.org/10.1075/dia.12.1.12las.
Lodge, R. 2013. F**k: An irreverent history of the F-word. Londen: HarperCollins Publishers. Kindle-uitgawe, 26 September 2013.
Lyngfelt, B., L. Borin, K. Ohara en T.T. Torrent. 2018. Constructicography: Constructicon development across languages. Amsterdam: John Benjamins.
McCulloch, G. 2014. A linguist explains the syntax of “fuck”. The Toast. https://the-toast.net/2014/12/09/linguist-explains-syntax-f-word (10 September 2022 geraadpleeg).
McEnery, A. en Z. Xiao. 2004. Swearing in modern British English: The case of fuck in the BNC. Language and Literature: International Journal of Stylistics, 13(3):235–68. http://dx.doi.org/10.1177/0963947004044873.
Michel, J.-B., Y.K. Shen, A.P. Aiden, A. Veres, M.K. Gray, W. Brockman, The Google Books Team, J.P. Pickett, D. Hoiberg, D. Clancy, P. Norvig, J. Orwant, S. Pinker, M.A. Nowak en E.L. Aiden. 2011. Quantitative analysis of culture using millions of digitized books. Science, 331(6014):176–82. https://doi.org/10.1126/science.1199644.
Murphy, B. 2009. “She’s a fucking ticket”: The pragmatics of fuck in Irish English – an age and gender perspective. Corpora, 4(1):85–106. http://dx.doi.org/10.3366/e1749503209000239.
Quang, P.D. 1971. English sentences without overt grammatical subject. In Zwicky e.a. (reds.) 1971:3–10.
Sheidlower, J. 2009. The F-word. Oxford: Oxford University Press. Kindle-uitgawe, 4 September 2009.
Van der Merwe, M.-M. 2022. Prototipiese Afrikaanse taboewoorde. MA-verhandeling, Universiteit van Pretoria.
Van Huyssteen, G.B. 2021a. Swearing in South Africa: Multidisciplinary research on language taboos. Proceedings of the International Conference of the Digital Humanities Association of Southern Africa 2021, 29 November – 3 Desember. https://gerhard.pro/publications/vanhuyssteen2021a (10 September 2022 geraadpleeg).
—. 2021b. When a word is “befok”. Afrikaans Grammar Workshop III, Amsterdam, Nederland, 29 September – 1 Oktober. https://vloek.co.za/leesstof/kongresmateriaal/when-a-word-is-befok-agw-2021 (10 September 2022 geraadpleeg).
Van Huyssteen, G.B. en R. Eiselen. 2021. Oor feekse en helleveë. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 61(4–1):1129–55. https://doi.org/10.17159/2224-7912/2021/v61n4-1a9.
VAW-8. 1993. Verklarende Afrikaanse Woordeboek. Agtste uitgawe. Kaapstad: Pharos. https://pharosaanlyn.co.za (10 September 2022 geraadpleeg).
VAW-9. 2010. Verklarende Afrikaanse Woordeboek. Negende uitgawe. Kaapstad: Pharos. https://pharosaanlyn.co.za (10 September 2022 geraadpleeg).
WalterDieWonderman. 2006. Betekenis en korrekte gebruik van “fok”. https://groups.google.com/g/soc.culture.south-africa.afrikaans/c/oi8ekCAcQ3I?pli=1 (10 September 2022 geraadpleeg).
WAT. 2017. Woordeboek van die Afrikaanse Taal. Stellenbosch: Buro van die WAT. https://viva-afrikaans.org (10 September 2022 geraadpleeg).
WAV. 2020–. Woordeboek van Afrikaans vandag. https://pharosaanlyn.co.za (10 September 2022 geraadpleeg).
Zwicky, A.M., P.H. Salus, R.I. Binnick en A.L. Vanek (reds.). 1971. Studies out in Left Field: Defamatory essays presented to James D. McCawley on his 33rd or 34th birthday. Edmonton: Champaign.
Bylae A (WalterDieWonderman 2006)
Betekenis en korrekte gebruik van fok (google.com)
Die pennevrug van prof. Johan Combrinck, voormalige voorsitter van die Taalkommissie van die S.A. Akademie vir Wetenskap en Kuns.
Die unieke Afrikaanse fok
Een van die interessantste, kleurvolste woorde in Afrikaans is die leenwoord fok en sy familie. Dis ’n towerwoord wat, bloot deur sy klank, vreugde of pyn, liefde of haat, ontdekking of frustrasie kan weergee.
Fok is een van die min woorde wat die funksie van byna alle woordsoorte kan vervul. Dit word as oorganklike werkwoord gebruik (Fok die hele spul), en as onoorganklike werkwoord (Aag fok), as bevel (Fok dit!), in die bedrywende vorm (Dit het my gefok), sowel as die lydende vorm (Nou is jy gefok), as die hoofelement in ’n hele reeks skeibare werkwoorde (aanfok, opfok, uitfok, toefok, voortfok, byfok, agteroorfok, agternafok, ens.) of as stam van ’n werkwoord (Nou het jy die hele ding befok).
As abstrakte selfstandige naamwoord (Ek gee nie ’n fok om nie), of as persoonsnaam (Het jy gesien wat die fokker probeer doen?), as nabepaling by ’n vraagwoord (Hoe de fok, wie de fok, hoekom de fok, wanneer de fok, ens.), as byvoeglike naamwoord (Waar moet ek die fokken tyd vandaan kry?), as bywoord (Dis nou ’n fokken mooi grap), en as uitroep (O fok!).
Selfs ook as invoegsel (onge-fokken-looflik). Dit kan ook in homself ingevoeg word (Nou is jy be-fokken-fok).
Hierdie Afrikaanse woord kan gebruik word om wyd uiteenlopende situasies te beskryf:
- Verrassing: Hoe de fok gaan dit met jou?
- Bedrog: Die motorhawe het my befok.
- Ontsteltenis: Ag fokkit!
- Moeilikheid: Nou is ek in my moer in gefok.
- Aggressie: Fok jou!
- Moedeloosheid: Hoe de fok moet ek dit regkry?
- Walging: Fok my!
- Wanbegrip: Ek fokken verstaan nie.
- Inkompetensie: Hy fok alles op.
- Gesag: Wat de fok dink jy doen jy?
- Verdwaal: Nou weet ek not ’n fok waar ek is nie.
- Oortuiging: Onge-fokken-twyfeld.
Dit kan horlosietyd beskryf (Presies half-fokken-vyf), of omstandighede (Hoe het ek in hierdie fokken job beland?), of persone (Jan Fokken Smuts), of dinge (Kyk hoe lyk jou fokken skoene!), of plekke (Tot in fokken Durban), of dit kan die siel van ’n uitnodiging wees wat van hartlikheid drup (Fok u!).
Fok is in Afrikaans onge-fokken-ewenaard!
[Tipografies aangepas en versorg deur die artikelskrywer]
Bylae B (Kinky 2002)
Oor “Fok”
Anoniem
Seker een van die mees interessante woorde in Afrikaans, is die woord “fok”.
Dit is ’n wonderbaarlike woord wat deur sy klank alleen dinge soos pyn, plesier, liefde en haat beskryf. Die woord “fok” kan ook in ’n klomp grammatikale kontekste gebruik word. Dit kan as ’n werkwoord gebruik word (Jan fok Koos op) en kan na die verlede tyd verwys (Jan het vir Koos opgefok), asook na die toekoms (Jan gaan vir Koos opfok). Dit kan ook in die lydende vorm gebruik word (Koos is deur Jan opgefok). Dit kan ook as aksiewerkwoord (Jan gee fokken om) of passiewe werkwoord (Jan gee nie eintlik ’n fok om nie) gebruik word. Dit word ook gebruik as ’n selfstandige naamwoord (Ek’s gefok), ’n bywoord (Sarie is fokken mooi), ’n tussenwerpsel (My fok, dis laat), of saam met ander woorde (Sarie is dom, fok, sy’s onnosel).
Soos u kan sien het min woorde die aanpasbaarheid van die woord fok. Behalwe die seksuele konnotasie kan die woord baie situasies beskryf, soos:
- Groete – Hoe de fok gaan dit met jou?
- Opdrag – Kyk fokken voor jou.
- Opgee – Ag nee, fokkit.
- Moeilikheid – Nou’s ons gefok.
- Aggressie – Fok jou!
- Afguns – Fok my!
- Verwarring – Wat de fok …?
- Sukkel – Ek fokken verstaan nie.
- Wanhoop – Fokkit tog.
- Bewondering – Dis befok.
- Misnoeë – Wat de fok gaan hier aan?
- Verlore – Waar de fok is ons?
- Ongeloof – Ongefokkenlooflik.
- Weerwraak – Jou fokken gat, man.
- Ontkenning – Ek weet van fokkol.
- Pyn – Eina fok! of Dis fokken seer!
- Onsimpatiek – Wie gee ’n fok om.
- Suspisie – Wie de fok is jy?
- Paniek – Maak dat julle fokken wegkom.
- Aanwysings – Fok weg!
- Teenstand – Not ’n fok!
- Instemming – Ag OK, fok.
- o.v. tyd: Half fokken tien.
- Politiek: Die fokken NP.
- Besigheid: Hoe de fok het jy die werk gekry?
- Anatomie: Jou fokken gat!
Dis ook al deur baie bekende mense in bekende situasies gebruik:
- “Waar kom al die fokken Zoeloes vandaan?” – Bloedrivier
- “Waar kom al die fokken water vandaan?” – Kaptein van die Titanic
- “Dis nie ’n regte fokken mes nie” – Verwoerd
- “Wie gaan fokken uitvind?” – Dirk Coetzee
- “Koppe gaan fokken rol” – Die Franse Revolusie
- “Fokken VROUMENSE” – Johan Stemmet
- “Laat die fokken vrou bestuur” – Kaptein van die Challenger
- “Watter fokken kaart?” – Moses in die woestyn
- “Enige fokken idioot kan dit verstaan” – Einstein
- “Man, dit fokken lyk soos sy” – Picasso
- “Hoe die fok werk jy dit uit?” – Pythagoras
- “Jy wil wat op die fokken plafon hê?” – Michelangelo
- “Hoekom? Want dis fokken daar” – Edmund Hillary
- “OK, vat die fokken kar” – Tydens ’n hijack
- “Verspreide buie my fokken gat” – Noag
- “Is jy seker die fokken kondome is orraait?” – Zuma
- “Die fokken perd is befok, man!” – Eugene Terre’Blanche
- “Jy’s seker nie fokken ernstig nie” – Goliat
- “Die fokken berg het al baie so gemaak” – Pompeii
- “Wat die fok was dit?” – Hirosjima
- “Watter fokken helikopter?” – Joe Modise
- “Ek’s fokken jammer” – Tyson
- “Dis nie my fokken handskoen nie” – OJ Simpson
- “Watse fokken orgaan?” – Chris Barnard
- “Tiek! Plons! Fok!” – Gary Player
- “Watse fokken blou vlag is dit?” – Jacques Villeneuve
- “Dis nie fokken tamatiesous nie” – Gorbatsjof
- “Ag, die fokken ou slootjie” – Evel Knievel
- “Ek kom fokken terug” – Schwarzenegger
- “Nie geroer nie, fok, geskud!” – Roger Moore
- “Maak my fokken dag!” – Clint Eastwood
- “Het iemand ’n fokken lighter?” – Laaste oomblikke op die Hindenburg
- “Watse fokken grimering?” – Nataniël
- “Watse fokken nosejob?” – Barbara Streisand
- “Pasop die fokken pilaa…..” – Dodi Al-Fayed en prinses Diana
Fokken oulik, is dit nie?
Eindnotas
1 Ek gebruik vloekwoord hier as ’n hiperoniem om ander verskynsels en/of sinonieme in te sluit, waaronder swets, skel, (gods)laster, haatspraak, belediging, vulgariteit, vuil taal en taboetaal. Met betrekking tot laasgenoemde sou daar motiverings vir twee skryfwyses kon wees, naamlik taboe taal (“taal wat taboe is”) en taboetaal (“taal wat ’n taboe is”); ek kies laasgenoemde ter wille van eenvormigheid met taboewaarde (“waarde van die taboe”).
2 Feinauer (1981) spel dit fokof. In hierdie artikel word genormaliseerde spellings (soos fokkol in plaas van fokol; fokkop in plaas van fokop, ens.) deurgaans gebruik, behalwe waar dit ter wille van die argument anders gedoen word (byvoorbeeld fokken vs. fokkieng).
3 Dit is enigsins vreemd dat daar so ’n groot verskil tussen hierdie twee studies se erkenning van fok is. Beide studies is uitgevoer onder leiding van Johan Combrink aan die Universiteit Stellenbosch – skaars twee jaar uitmekaar. Hoewel daar geen eksplisiete aanduiding in die proefskrif is nie, is Calitz (1979) se fokus tog minder op wat hy krag-, skatologiese en obsene woorde noem (1979:7, 95). ’n Ander moontlikheid is dat Calitz miskien ouer was en nog nie so blootgestel was aan die opkomende vloekwoord fok soos Feinauer nie. Nog ’n ander moontlikheid is dat Calitz fok as ’n anglisisme beskou het en daarom nie verder aandag daaraan in sy proefskrif gegee het nie.
4 In navolging van die gevestigde Afrikaanse tradisie word adjektief bo byvoeglike naamwoord verkies. Een van die redes is dat ’n mens dan makliker na subkategorieë soos kleuradjektiewe, vergelykingsadjektiewe en vloekadjektiewe (in plaas van omslagtige omskrywings soos byvoeglike naamwoorde wat op kleur dui) kan verwys.
5 Primêr só gespel, met fokken as alternatief.
6 Orals met slegs een k gespel; ek normaliseer dit verder in die teks.
- Die fokusprent deur ractapopulous by hierdie artikel is op Pixabay verkry.
LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer by die SA Departement Onderwys en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of Approved Journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel vir LitNet Akademies en kwalifiseer vir subsidie deur die SA Departement Onderwys.
Kommentaar
Baie dankie! Boeiend. Die uitdrukking "die fok-familie" laat my dink aan die Fok-familie, gelei deur mnr Canning en mev Eliza Fok, die Chinese weldoeners wat by Murray Edwards-kollege op Cambridge die oprig van ’n gebou befonds het: ’n gebou dus wat Fok heet.
En boonop aan Ronnie Belcher se verhaaltjie waarin die "brand" Four King-bier figureer.
Ah, dankie, Jean! 🙂
Fok is meerdoelig soos gat in Afrikaans. Luigat, vetgat, maergat, vuilgat, stinkgat, slapgat ens.
Hans, met fok kan jy aanfok soos jy wil, maar jy moet maar versigtig wees met gat. As jy aanhou met gat, gat jy een of ander tyd jou gat sien. George Orwell het dit al sowat 50 jaar gelede voorspel met Newspeak dat daar 'n Big Brother sal wees wat jou dophou.
Fokken interessante artikel hierdie.
En dan is daar die dirigent, Alex Fokkens.
Ek het n paar jaar by iemand 'n stuk ontvang wat ek ongelukkig tydens 2 verhuisings verlê het. Die stuk het my veral geraak omdat ek op daardie tydstip Afrikaans gegee het tydens my loopbaan as onderwyser. Die kinders kon heerlik met hulle oog op die stuk assosieer met woordsoorte.