Vyf-en-veertig skemeraandsange uit die eenbeendanser se werkruimte deur Breyten Breytenbach

  • 0

Titel: Vyf-en-veertig skemeraandsange
Skrywer: Breyten Breytenbach
Uitgewer: NB Uitgewers
ISBN: 9780798166461

 

Koop Vyf-en-veertig skemeraandsange by Kalahari.com

 

Die publikasie van Breyten Breytenbach se nuutste bundel, vyf-en-veertig skemeraandsange, is beslis ? merkwaardige toevoeging tot sy eie werk en tot die Afrikaanse poësieskat. Hierdie bundel kan as ? “laatwerk” beskou word in dié opsig dat dit deels gaan om ? terugblik op jare lange digterskap as intense alleenproses. Nie net handel die bundel oor die ontwikkeling van die digter se skryfwerk met die verloop van tyd nie. Die leser kan aflei dat die spreker op die “aftree-ouderdom” van ? geleefde lewe en met ? “nagraadse diploma in lewensleer” ook lewenslesse geleer het.

Die “skemeraand” in die bundeltitel impliseer waarskynlik afskeid of die oorgangstyd van ? ouer wordende mens en sy/haar bewustheid van die naderende sterfte. Die volgende woorde gee aanleiding tot die vermoede dat die bundel as ? soort klaaglied beskou kan word: “rou” (14), “treur” (14), “? onderbewuste rou” (38), “treurige lied” (52), “die voël se snik” (53) en “? weeklaag te dans” (81). Die “vyf-en-veertig” dui op die aantal gedigte wat in die bundel voorkom. Verder bevat die bundel ? subtitel, “uit die eenbeendanser se werkruimte”. Daar word na die digter as die eenbeendanser in “6.2” verwys: “en Beweborsie breytenbreytenbach/ Stotterstok tot en met die tok-tok eenbeendanser ‘k-sê” (22).

Buiten die digter wat as “woordsifter” die alleenproses van die skryfhandeling moet aanpak, kom die leser gou agter dat die dans ? deurlopende motief in die bundel is. Beskrywende woorde gaan die woord “dans” dikwels vooraf. Voorbeelde hiervan is: “onderbewuste dans” (18), “afskeidsdans” (58), “die donker dans” (62), “paringsdans” en “hoog-en-laag-trapdans” (80). Soms word die “dans” as beeldspraakgesogtheid gebruik, byvoorbeeld: “dansende spieël” (28), “gedanste tyd” (65), “toe die droom ophou dans” (82) en “hoe dans julle met verbybly/ se passies” (97). In ? vers soos “36. die gedanste dans” kan die dans as ? liefdesdans tussen twee bemindes gesien word. Laasgenoemde vers is ? goeie voorbeeld van die belangrike liefdestema in Breytenbach se werk – ook in vyf-en-veertig skemeraandsange.

Die mens se onvermoë om ? houvas op enigiets te hê is ? belangrike tema in die bundel, omdat alles slegs tydelik is; alles van waarde is eintlik weerloos, en die teenoorgestelde is ook weer waar: dit wat weerloos is, het eiesoortige waarde vir die digter. Taal, begrip, denke, stilte, die bekende, betekenis, interpretasiemoontlikhede, en “alles wat in die mond/ ? moontlikheid se word was” kan byvoorbeeld nie deur die mens vasgevat word nie. Die mens het ook nie ? greep op tyd nie: “verledeverstand kan nie vasgevat word. hedeverstand kan nie vasgevat word. vorentoeverstand kan nie vasgevat word” (98). Niks is te sê nie, en selfs op die niks kan geeneen ? houvas hê nie.

Die mens se onvermoë om die stilte nie te versteur met woorde nie, blyk belangrik in die bundel te wees. Die digter maak van tipografiese wit en punte gebruik wat die leser tot ? oomblik se stilte dwing (? goeie voorbeeld hiervan is te sien in “20. en jasmyn in die nag” op bladsye 54–5). Die bundel word ook afgesluit met stilte (“45. Ek het gedroom”) (my kursivering):

en as jy stil wil bly
dit so moet doen
dat ander jou nie hoor nie
sodat jy maand na maand keer
op keer op die maan mag pis
sonder dat hy roes

Dit is opvallend dat daar afgesien word van beslissende grense en beperkinge soos woordgrense, herinneringe en verbintenisse. In vyf-en-veertig skemeraandsange word die woord bevry en ouer lettergrepe word onbeperk. Ook deur die gebrek aan afdelings in die bundel word die vervaging van grense beklemtoon. Hier word daar dalk net subtiel omgegaan met die obsessie oor grense / om grensverskuiwend te wees, en met die motief van beperking wat so gereeld opval in besprekings oor die letterkunde.

Temas van nietigheid, verval, die mens se stoflikheid en “die dood se onhandige afknouery” kom ook in die bundel voor en dit sluit aan by die vorige tema van alles wat slegs tydelik is. In “17. waar saadjies uitgesit word” weier die spreker om saam met die tyd te vergaan (48) (my kursivering). Teenstrydighede met betrekking tot die niksheid van die mens word gebruik om sy/haar onvermoë om dinge vas te vang, te beklemtoon. Die mens is alles en niks; alles is net ? illusie. Selfs woorde “wat die loop van begrip is” (93), is stoflik. Die mens het nie ewigheidswaarde nie en hy “bly kaal soos ? gedagte wat nie gedink kan word nie” (84). Tog staan daar in “vir Bill Dodd” dat “as jy eers gaan, gaan jy vir ewig al agter jou aan”. Uit die laasgenoemde vers lyk dit asof die mens wel ewigheidswaarde kan hê, omdat hy vir altyd agter hom-/haarself kan aangaan. Dit is egter nie die geval as die leser bewus is van die mens se nietigheid, soos wat dit in die konteks van die bundel voorgehou word nie. Met die inagname van die mens se niks heid, besef die leser opnuut: “alles van waarde is weerloos” (27).

Die digter kwyt hom goed van sy taak met verwysing na metapoëtiese verse en die spel met woorde en perspektief. Deur verse te vermenslik word die spreker dikwels met die vers self vervang. Die leser kyk dus nie meer vanuit die spreker se perspektief nie, maar vanuit die gedig se perspektief. Dit is inderdaad iets wat die leser opval. Reeds in die eerste gedig, “ek het gedroom” (9), word die spreker die gedig self. Die poësie word deur die spreker aangespreek van aangesig tot aangesig as die skepper van nuwe gode en wêrelde in “23. die maanhartvreetsiklus” (58). In gedigte soos “11.2 (die wensklippies)” (34) en “44. uit die fragmentarium” (97) word die poësie byvoorbeeld vermenslik met óf twee lippe óf baie gesigte.

Pyn en verwonding wat aan woorde en aan die skryfhandeling gekoppel word, is ook opvallend in die bundel. Woorde kan verwonding veroorsaak, maar dit kan ook lei tot pyn as ? digter ophou om na jare lange digterskap te dig. Woorde kan dus gesien word as ? geneesmiddel vir digters en skrywers. Soms word verse gepersonifieer tot iets wat pyn kan ervaar: “hoeveel keer moet ek nog die tong/ doop in die vers se wonde?” (88).

Dit is tóg interessant om daarop te let dat die spreker hom ook van die gedig distansieer, soos in die slotreël van “35. die gedig” (85), waar die spreker noem: “Ek was nooit in hierdie gedig nie.” Die digter is dus gedurig in verwikkelde spel met die kreatiewe proses gewikkel.

Die mens se vermoë om ? greep op letters en die betekenis van woorde te hê, is “onmoontlik”. Die stoflike mens skryf as ’t ware met sy stoflikheid in die stof en die stof kan enige oomblik deur die wind weggewaai word. Daarom word die betekenisimplikasie van woorde se verval en die tema van die mens se onmag om dinge vas te vang weer eens bevestig.

Reis-, voël- en spieëlmotiewe kom algemeen in Breytenbach se werk, en veral ook in sy nuutste bundel, voor. In ? vers soos “27. reisende” (72) sien die ek-spreker hoe hy homself sien reis het. Dit gaan hier weer om die spel met perspektief, omdat daar na die spreker as die “ek” en as ? buitestander verwys word. Breytenbach se eie kunswerke vergesel dikwels sy bundels en daar is ? wisselwerking tussen die dig- en skilderkuns as skeppingsvorme. Die bundel se omslag stel die leser daartoe in staat om met die eerste oogopslag af te lei dat die voëls ? belangrike motief in die bundel gaan wees. Die voëls skakel met die tema van verganklikheid, omdat hulle dikwels na plekke soek om te sterf (“7. (16 September)” (23) en “35. die gedig” (85)). Die spieël kom voor as motief, byvoorbeeld “dansende spieël” (28); die gedig “15. soos ? spieël” (45); “bladspieël” (63); “spieëlende windklok” (70); ? skerf spieël” (77) en “? verre spieël” (85). Die digter speel met die spieëlmotief, sodat die “spieël” ook dui op “weerspieëling”. Die spreker in “12.6” (40) noem dat hy “verdrink het/ in die alfabet van die weerspieëlniet”.

Vyf-en-veertig skemeraandsange bied die verbinding van woorde wat tot nuwe betekenisse lei (soos “uitgetekenskryt”, “vrouvrugweetwees”, “diepdieflees” en “maanhartvreetsiklus”), wat kenmerkend van Breytenbach se werk is. Daar word met woorde omgegaan op só ‘n manier dat die leser oorweldig word deur die aantal interpretasiemoontlikhede wat uit ? eenheidsgedagte kan ontstaan. Met die lees van hierdie bundel word die leser tot stilte gedwing in die voue van ? poging tot stilskrywe … al is dit net vir ? oomblik.

 


Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top