Vir Angus oor die grappie

  • 1

Dag Angus

Ek verwys natuurlik na die grappie – in my brief van 18 deser – wat jy wil hê ek in Afrikaans moet vertaal.

Daardie grappie werk op woordspeling; die feit dat dieselfde woord in een konteks heeltemal van betekenis verander in 'n ander konteks. So sal jy dan in 'n gegewe taal grappies kry wat net werk in daardie taal en heeltemal sy slaankrag verloor wanneer dit in enige ander taal vertaal word. As jy daardie grappie wil vertaal sal jy een of ander storie moet uitdink waar, sê 'steek' of 'pomp', van betekenis verander soos die konteks verander.

Ek lei af jy dink ek haat die Engelse taal. Dis nie so nie en as ek ooit daardie indruk by jou geskep het vra ek om verskoning; ek het my gedagtes dalk net bloot swak uitgedruk. Hoe kan ek hulle nou haat? Baie van my familie is Engels (aangetroud en andersins) en, soos ek al telkemale gesê het, van my beste boeke is Engels. Ook van my beste vrinne, met die nou dat ek aan 'n rolbalklub behoort waar 2% Afrikaans is en minder as 10% Afrikaans kan praat.

Wat ek wel haat, is die omhelsing van Engels ten koste van Afrikaans en wat ek meer haat, is die slapgat gedienstigheid waarmee die Afrikaner en ander Afrikaanssprekendes hierdie feit aanvaar, selfs meewerk om dit te bewerkstellig deur byvoorbeeld hulle kinders in Engelse skole te sit (alhoewel, het hulle 'n keuse? Juis as gevolg van hierdie gedweë houding is daar nie eers meer Afrikaanse skole nie of hoe?). Skandalig en 'n eersterangse verleentheid.

Terloops, jy sê " ... alhoewel daar ook bietjie Ierse bloed deur my are vloei ...." Jy moet eintlik sê "omdat" in plaas van "alhoewel" want daar is nou vir jou 'n klomp ouens wat nie tyd vir die Engelse het nie. 'n Ou wat vir my broer gewerk het kom eendag op kantoor aan in groen geklee, van kop tot tone, alles is groen. Op my broer se vraag wat aangaan sê hy "It's St Patrick's day; my day for hating the f@#%&ng English!"

Groetnis

Jan Rap

  • 1

Kommentaar

  • Beste Jan,

    Dankie vir jou "taalwetenskaplike" verklaring van jou grappie. Ek he dit ook maar as ’n grappie beskou toe ek jou gevra het om dit te vertaal.  Eintlik was dit ’n ernstige grap. Nogal ’n yslike probleem wat  (Bybel)-vertalers het.

    O! die Ierse bloed? Hulle is mos die mense wat moeilik ’n grap kan snap.

    Groete 

    Angus

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top