Uit NALN se Sarkofaag: Geliefdes en so aan

  • 0

PJ Schoeman

PJ Schoeman was een van die oer-pa’s van Afrika, en sommer van Afrikaans ook, as jy wil. Baie van die dinge wat hy kwytgeraak het terwyl hy op ver paaie geloop het, het verbygegaan, en die nuwe Afrika is ’n gans ander plek (Afrikaans ook, as jy wil). Schoeman was dié ghoeroe oor Afrikavriende, of hulle nou vier- of tweevoetig was. En hy’t ook ’n hele klomp dinge oor vroue kwytgeraak, waaroor ek aanstons meer sal sê. (Baie van dié dinge is nog dieselfde.) Die goudstof vir vandag se storie uit die sarkofaag kom in die vorm van koper en blik: ’n koperkersblaker en ’n blikoopmaker van meer as honderd jaar oud, deur Schoeman se moeder gebruik in die Merebank-konsentrasiekamp. Nou sien u dadelik die verleiding soos dit hier lê en wag: die koors oor die Tweede Vryheidsoorlog se eeu-herdenking loop hoog en almal wat maar enigsins kán, klim op die ossewa, treintrok of skip (as u my die woordspeling sal vergun) en lê ’n krans of twee. ’n Mens gee dus maar toe. 

Die Merebank was ’n konsentrasiekamp met sowat agduisend siele en is deur dié wat daar was as ’n strafkamp in herinnering geroep. “Die kerkhof langs die onheilspellende swarte meer was elke dag getuie van baie begrafnisse,” skryf ene mev J Kriegler van Heidelberg.* Soos in die ander konsentrasiekampe, is die vroue daagliks met minagting en vernedering behandel, het hulle hongersnood-rantsoene aan kos ontvang en was hulle tot die dood toe siek. ’n Mens wonder ineens of Schoeman se ma, Helena (’n nooi Smuts), die blikoopmaker gebruik het om blikkiesmelk vir haar kleiner kinders oop te maak en of sy, soos sommige vroue wel gehad het, ook geld had om blikkies kos ten duurste by die kampwinkel te koop. Kinders onder die ouderdom van vyf jaar het vier blikkies melk per week gekry en ’n sekere hoeveelheid meel, sonder enige vleis of ander kos. Die kamp was verdeel in nege blokke, en elk het bestaan uit lang sinkhuise wat in kleiner kamertjies verdeel is. Vir Helena Schoeman was ’n vetkers in die koperkersblaker sekerlik nie iets romanties nie, en sy sou goed kon identifiseer met wat haar skrywerseun later oor ’n vrou se ouderdom sou opmerk: “ ’n Vrou is so oud soos al haar alleenaande.” Of dalk het sy ook ervaar wat ’n ander kampinwoner later onthou: “Wat die moeder nie kan vergeet nie, is dat (haar) kind in die donker gesterf het, want daar was nie ’n stukkie kers nie.”

Sover ons weet, is nie een van Helena Schoeman se kinders in die konsentrasiekamp dood nie, en is haar seun Pieter Johannes sowat ’n jaar na die oorlog gebore — ’n geboorte wat vooruitwysend was na Schoeman se hele aard en persoonlikheid. Só vertel hy aan Chris Barnard: “My moeder was my nog nie mooi te wagte nie. Hulle is een naweek dorp toe vir Nagmaal en op pad terug is ek in die wa gebore, weke te vroeg. Jy kan dus so ongeveer sê dat ek in die verbygaan gebore is — en in die wapad.”** Die verhouding tussen Schoeman en sy ma was klaarblyklik ’n gelukkige een: daarvan getuig onder meer die glaspotjie wat vanaf 1922 tot 1973 gereeld op sy lessenaar gestaan het, altyd met ’n blom in. Soos die meeste kinders wat die moeilike jare net na die oorlog beleef het, het ook Schoeman nie formeel skoolgegaan nie, maar moes hy op die plaas help en skape oppas. (Hy is eers op 14-jarige ouderdom skool toe.) Hy was een van nege seuns en het graag vertel hoedat sy vader eintlik die een was wat by hom ’n verwondering oor die natuur gekweek het.

Dié skaam en eensaam seunskind het later jare een van Afrikaans se mees geromantiseerde natuurfilosowe geword, ’n soort persoonlikheid waarmee die talryke Schoeman-lesers maklik begin dweep het, vroue inkluis. Schoeman se verhouding met die vroue in sy lewe was, om die minste te sê, baie kompleks. Uit sy verhale lei ’n mens ’n besondere mate van begrip vir die vroulike geslag af: van die Okavango-beeldjie wat die vrou se las van “swaar dra” simboliseer, tot die diggeweefde verhaal oor Pampata, die geliefde van koning Tsjaka. Oor vroue se teenwoordigheid in sy persoonlike lewe kan ’n mens egter maar net bespiegel: ’n egskeiding; ’n tweede huwelik (waartydens hy vir lang tye net eenvoudig veld toe verdwyn het); ’n dogter wat haar eie herinneringe oor ’n nogal afwesige pa het; sekerlik baie vroulike lesers wat mettertyd bewonderaars geword het.

Nostalgie en romantiek omsluier helaas ook die nádink oor PJ Schoeman! Hoe gaan die tier se twee kneukelbeentjies uitval as die Swazi-dolosse gegooi word: sal dit snelheid uitwys, of ’n spens wat altyd vol is, of dalk die skerp naels van ’n vrou? Dalk moet ons wag tot 2004, wanneer Schoeman “amptelik” op ’n eeufeesviering kan roem. Nie-amptelik verjaar hy in 2003, soos dit in hul familiebybel neergeskryf is, en soos die skrywer dit later jare aanvaar het.

...........................

* in Mag ons vergeet? E. Neethling. Ons geskiedenis-serie, 1938.
** Onderhoud, Die Huisgenoot 23 Augustus 1968.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top