Tieners, tegnologie en die thomas@-reeks

  • 2

Tegnologie is ’n onlosmaaklike deel van ons bestaan en ons verstaan van die wêreld om ons, sê die jeugromanskrywer Carina Diedericks-Hugo. Dit is nie beperk tot ’n ouderdomsgroep of demografiese gebied nie. Sy is een van die deelnemers aan ʼn LitNet Akademies-webseminaar waarin die invloed van elektroniese media en die totstandkoming van ’n nuwe sosiale paradigma na aanleiding van een van haar boeke bespreek word. (Kyk ook na hierdie artikel.)

carinaenosbloed

Bertus van Niekerk en Carina Diedericks (foto: Naomi Bruwer)

Die jaar was 2001 en ons het die middag by vriende gebraai. Hulle twee jong tienerseuns en hulle makkers het in en uit die huis, swembad en die bure se avokadoboom gehardloop, gespring en geklouter. Ek het op daardie stadium begin speel met die idee om ’n tienerboek te skryf en het orals waar ek gaan, tieners skaamteloos dopgehou en afgeluister. Ja, ek besef dit het verdag gelyk en ’n ma in Mugg & Bean het my eenkeer smerig aangekyk toe ek baie openlik die ma-dogter-bekgeveg gesit en geniet het.

Terug by die braai. Die seuns het al hoe meer rumoerig geraak. Op ’n stadium staan die seuns elk met ’n rugsak oor die skouer. Hulle gaan kuier. Waar? By daai ander ouens. Watter ouens? Pa weet mos. Daai ander ouens. Ken ek hulle? Moenie so wees nie, dis embarrassing. Almal gaan daar wees. Almal. En dis net hier om die draai – stapafstand. Pa sit sy voet dwars. Almal gaan huis toe en sy telge moet nou kom sit en tot bedaring kom. Nee, daar sal nie om die draai gekuier word nie en gaan bêre die twee biere in julle sakke weer in die yskas. Die oudste, Hannes, gooi ergerlik sy sak in die gang neer. Ag flippit, man! mor hy, trek sy vingers deur sy deurmekaar hare, gaan sak dramaties in ’n stoel neer en begin verwoed op sy selfoon te tik.

Daardie aand het ek gaan sit en die eerste woorde geskryf wat die begin sou word van die thomas@-reeks:

“Flippit, man!”

Thomas gooi die boks in die gang neer. Vies storm hy by die voordeur uit en gaan   sit op die stoep.

thomas@650

Vandag is daar nege boeke in die reeks. Dit is in Engels vertaal en kykNET het ’n TV-reeks daarvan gemaak. Verkope trek hier by 200 000. Die vraag wat ek die meeste kry, is: Hoekom vind die tieners so aanklank daarby? Die antwoord is eenvoudig: ek hou van tieners en ek is verslaaf aan tegnologie en sosiale media.

Vir my is dit van die uiterste belang dat skrywers moet wéét wie hulle lesers is. En belangriker: die lesers respekteer. Vir baie lank was die klem van Afrikaanse jeugboeke op wat akademici en uitgewers in ivoortorings geglo het jongmense behóórt te lees. Die temas moes ernstig wees. Gewigtig en stof tot nadenke bied. Egskeiding. Dood. Weeskinders. Dooie troeteldiere. Ek kan nie dink daar is ooit gevra (of seker omgegee) wat jongmense wóú lees nie. Kyk, niemand het gesê hou die verhale op ’n eenvoudige vlak nie, maar waar was die avontuur? Humor? Gewone tienerkwessies? Nie op die voorskryflyste of bekroningsertifikate nie. En daar sit ons toe met 30 jaar se wroegboeke. Die boeke was uitstekend geskryf, ja. Maar nie iets wat tot jou spreek of wat jou opgewonde gaan maak oor Afrikaans of letterkunde nie. Wat gebeur? Ons verloor twee, drie geslagte potensiële Afrikaanse lesers. Soos ’n skoolvriendin van my in graad 10 vir ons Afrikaansonderwyseres gevra het nadat ons pas nóg ’n deprimerende storie gelees het: “Ma’am, are all Afrikaans people poor and depressed?” I rest my case.

My oogmerk was nog altyd om boeke te skryf wat kinders en jongmense graag sal wil lees en dit hopelik geniet. Omdat hulle wíl en nie omdat iemand hulle dwing om dit te lees nie. Die ernstige pryskomitees vind dit te lig in die broek, maar ek skryf nie vir akademici nie. Ek skryf vir daardie outjie in graad 7 in Beaufort-Wes. Of die meisie in graad 9 in Johannesburg. Of die skool in Worcester wat ’n uittreksel by hulle skoolkonsert opvoer.

Om tegnologie as die leitmotief in my werk te gebruik was nie ’n doelbewuste besluit nie. Dit was ’n natuurlike, onvermydelike element wat ek sou moes inwerk as ek regtig so sterk daaroor gevoel het om verhale te skryf wat die ware werklikheidsverstaan van ’n tiener vasvang en tot ’n moderne, jong leser sou kon spreek. Meer nog, ek wou ’n realistiese, moderne milieu skep waarin ’n verhaal hom kan afspeel. Punt. Tegnologie is ’n onlosmaaklike deel van ons bestaan en verstaan van die wêreld om ons. Dit is nie beperk tot ’n ouderdomsgroep of demografiese gebied nie.

Die grootste uitdaging deur die jare was om tegnologie aan te wend sodat dit realisties is, maar sonder om die tegnologie so sterk en spesifiek ’n rol te laat speel dat die verhaal sneuwel as gevolg van onvermydelike tegnologiese veroudering. Die uitweg wat ek gekies het, is om nooit te spesifiek te verwys na ’n rekenaar- of selfoonmodel nie; die rekenaarspeletjies is fiktief; en handelsmerke word vermy. Die gevolg was baie interessant. Soos die tegnologie teen ’n duiselingwekkende tempo verander en verbeter, so vang die thomas@-reeks ’n tegnologiese tydsgees vas. Die eerste boek het in 2002 verskyn. Nie elke tiener het ’n slimfoon gehad of geWhatsApp nie, want toe het dit nog nie bestaan nie. Wat hulle wel doen, is om verwoed rekenaarspeletjies te speel, en e-posse en Ims te stuur (thomas@moord.net). Toe kom rekenaarvirusse en soekenjins (thomas@skerpioen.net). Later kry elkeen sy eie foon en die sms’e begin vlieg (thomas@sms.net). Tien jaar later en hulle Facebook, WhatsApp, boer op Mxit-kanale en speel aanlyn RPG’s (Die verdrinking van Josua van Eden; thomas@vrees.net).  

In 2011 verskyn thomas@rock-ster.net. Lapa Uitgewers besluit om die boek as ’n proeflopie te gebruik om te kyk of ’n mens jou tradisionele boek met ’n nuwe tegnologiese sosiale paradigma kan versoen; of beter nog: om te bepaal of daar dalk selfs ’n simbiotiese verhouding kan wees. Maar die boek moes steeds in die eerste instansie op sy eie bene kon staan sonder die tegnologiese byvoegings. ’n Buitemaatskappy wat in e-bemarkingsveldtogte spesialiseer is genader om te help. Die storie handel oor Thomas se vriende wat besluit om ’n musiekgroep te begin. Daar is ’n kompetisie, die Radikale Rock-fees, by die skool en hulle wil inskryf, want meisies hou van ouens in rockgroepe. Aldus sy vriende. Die storielyn was ideaal vir die eksperiment. QR-kodes is geskep met foto’s, klankgrepe en video’s. ’n Spesiale Mxit-kanaal is op die been gebring en die Radikale Rock-fees het sy eie webblad gekry, kompleet met profiele van al die “deelnemers”. Die fiktiewe rekenaarspeletjie Fangs wat Thomas en sy vriende deur die loop van die reeks so verwoed speel, is geskryf. Ek moes kopie lewer vir al die byvoegings, wat my natuurlik met ’n ander, meer kritiese oog na die bronteks laat kyk het.

Dit was ’n duur oefening, maar dit het gewerk. Ons het ’n Pendoring gewen vir ’n geïntegreerde e-veldtog en die eerste oplaag van 3 000 is binne ’n maand amper uitverkoop. Wat wel baie interessant is, is dat thomas@rock-ster.net nie noodwendig die uitskieter in die reeks is nie. Die boeke in die reeks verkoop proporsioneel dieselfde.

Daar is ’n onderskeid te tref tussen tegnologie ín boeke en tegnologie vír boeke. Soos genoem, sou enige tienerverhaal minder legitiem wees as dit ’n moderne wêreld uitbeeld sonder tegnologie. Daar is egter diés wat die logiese denkfout maak deur te glo dat die uitbeelding van tegnologie in boeke ’n bedreiging vir die tradisionele boek inhou. Dít is nie die bedreiging nie. Tradisionele boeke is steeds meer toeganklik en bekostigbaar. Dat al hoe meer jongmense verkies om leesmateriaal op skerms te lees, is ook nie rede tot kommer nie. In hierdie geval bied tegnologie vir boeke ’n nuwe platform. Die sleutelwoord moet lees wees. Solank ons jongmense aan die lees kan kry en hou – of dit nou deur aantreklike temas of interessante benaderings of slimfoon-e-boeke of Kindles is – het ’n samelewing ’n kans om vooruit te beweeg en voor te bly.  

Lees ook die LitNet Akademies (Geesteswetenskappe)-artikel deur Johan Anker wat hierdie gesprek laat ontstaan het: Die invloed van elektroniese media en die totstandkoming van ’n nuwe sosiale paradigma in ’n onlangse Afrikaanse jeugroman.

Lees nog webseminaarbydraes hier.

  • 2

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top