Te veel én te min in dié roman

  • 0

Wolf, wolf
Eben Venter
Tafelberg, 2013
ISBN: 9780624054993 (sagteband)
ISBN: 9780624055006 (e-boek)
Bladsye: 372

 

 

 

Koop Wolf, wolf by Kalahari.com.

 

 

Sentraal in Eben Venter se oeuvre is die vader-seun-verhouding, en in hierdie jongste roman word die verhouding tussen die sterwende, blinde Benjamin Duiker en sy seun Mattheüs belig. Wat dié verhouding verder kompliseer, is Matthe?s se openlike gay verhouding met die jong onderwyser Jack. Net soos in Ek stamel ek sterwe – Venter se grootste roman tot op hede – word die intieme verhouding tussen die hulpelose vader en die seun ondersoek en is daar heelwat tonele waar dit verken word. Die magsbalans swaai in die rigting van die seun en hy word die versorger wat al die pa se intiemste vrese ken en sy pa se liggaam moet help verlig teen die pyn.

Maar daar is ook ’n ambivalensie aan hierdie verhouding tussen vader en seun. Wanneer die seun optree soos wat die pa van hom verwag en die pa se rol naboots soos om byvoorbeeld ’n eie besigheid te begin, dra dit die ouman se goedkeuring weg. Wanneer die seun egter buite hierdie orde optree, gee die pa eerder sy geld aan ’n Christelike liefdadigheidsorganisasie.

’n Kerninsident in dié verhouding is die tog wat na Laingsburg onderneem word sodat die pa vir oulaas die familieplaas kan besigtig. Die papwieltoneel gee ook ’n ontstellende blik op die werklike verhouding tussen die twee. Ook tydens die besoek aan die plaas tree Matthe?s as sy pa se versorger na vore en lei dit tot konflik met die suster. Dit is ook tydens hierdie besoek dat sy van die testament noem en hom waarsku om dit nie te waag verander nie, veral aangesien hy die rol van versorger vir die pa inneem.

Naas hierdie sentrale verhaallyn word daar ook in die roman die storie van Jack by ’n private seunskool beskryf. Daar is ook die verhaallyn van oom Bennie wat, anders as Mattheüs, geswig het onder die samelewing se druk en nooit agter sy minnaar aan oorsee getrek het nie. Voorts word ook die storie van Sissie en haar man Marko op die plaas vertel. Dit is ook die eerste keer dat Venter openhartiger oor gay verhoudings skryf, want in ’n vroeëre roman soos Ek stamel ek sterwe word die geslag van Jude nooit werklik duidelik gemaak nie, selfs al toon Konstant tekens dat hy besig is om aan vigs te sterf. Venter se hoofkarakter is ook aan gay-pornografie verslaaf en dit lei uiteindelik tot wrywing tussen hom en sy geliefde.

Die verhouding tussen die twee mans dra egter ten dele die pa se goedkeuring weg. Hy noem wel teenoor Mattheüs: “Ek wil nie hê dat jy en Jack in hierdie huis inkom en saamslaap of watter onnoembare dade julle ook al aanvang nie. Dis julle besigheid. Maar nie in mý huis nie. Dit sal ek nie toelaat nie. Dit druis teen my beginsels in” (48). Wanneer Jack wel uit die seunskoshuis geskors word na ’n insident tydens ’n skooluitstappie, trek hy by die Duikers in en wonder die leser voortdurend of die ou blinde man en die jong plakker in sy huis in mekaar gaan vasloop. As antagonis wat moontlik die twee kan ontmasker, is daar die dienswillige buurvrou Sannie van langsaan wat haar oor Benjamin ontferm.

Net soos in Ek stamel ek sterwe het ons hier weer ’n hoofkarakter wat van koskook hou. Hierdie keer wil hy sy eie restaurant in Observatory oopmaak. Hierdie plan van hom verbeter die verhouding met sy vader, maar dit gee ook aan die leser ’n ander blik op Suid-Afrika: dis ’n tipe Horrelpoot­-samelewing waarin hy hom bevind, en Emil, die uitgeweke Kongolese vreemdeling in die land, speel hier ’n sentrale rol.

Benjamin Duiker is bekommerd dat hy geen maklike erfgenaam gaan hê om die familienaam voort te sit nie. Sissie en Marko het slegs dogters en Matthe?s beplan nie om deel te word van die heteroseksistiese samelewing waarin dit die man as enigste seun se plig is om die bloedlyn voort te sit nie. In teenstelling hiermee is daar Emil se jong seun wat spesiaal van Kenya af kom en vir wie Matthe?s op die lughawe moet gaan oplaai.

Wat die titel betref: dit skakel ten nouste met die karakter Jack, wat, nadat hy uit die koshuis geskors is, by Matthe?s kom aanklop: “Hy gaan druk die knop om die skerm van die CCTV-stelsel lewend te maak: twee skerpgepunte hondeore. ’n Wolfhond; net, ’n wolfhond kan nie so hoog staan nie. Hy hou die knoppie in en tuur na die blougrys nagtoneel van die sypaadjie en die pad wat die kameras voor by die hek dek” (158). En met dié bybring van die wolfmotief begin die roman van die vele vrae wat dit by my wek, aktiveer. Is die wolfmotief werklik gemotiveerd in die roman? Word dit behoorlik ontgin en deurgekomponeer? Is dit werklik nodig of wil dit die roman in ’n simboliese rigting dwing? Jack blyk te glo dat die wolfhond-masker die een of ander talisman is (246), maar vir Matthe?s was dit inderdaad ’n onheilsteken en die begin van die pad van groot ontnugtering.

Vra ’n mens dan hierdie vrae, dan kom daar ook vele ander vrae op: Dien dit enigsins enige doel dat die pa slegs ’n paar opnames op band opneem? Hoekom net die enkele, byna niksseggende en voorspelbare, opnames? Is die groot probleem met Wolf, wolf nie juis dat die vlag nie die lading dek nie?

Die sentrale problematiek van pa en seun kon veel deegliker belig gewees het sonder om op al die newekarakters en hulle intriges te konsentreer. Selfs die ooglopende kontras tussen die situasies van oom Bennie en Matthe?s word nie genoegsaam ondersoek nie.

Waar die roman wel verras, is aan die slot. Die absurditeit van die twee mans se bestaan op die ooptes van Rondebosch en die oorgawe van die wit patriarg se huis aan die nuwe swart elite, asook die verwikkelinge wat uit Matthe?s se nagtelike speletjies voortspruit, het my beïndruk. Waar van die gedeeltes in die teks voorspelbaar aandoen, bring die slot ’n welkome verrassing. Fassinerend is ook hoe Venter daarin slaag dat die leser (of altans dié leser) nóg van Matthe?s nóg van Jack hou en dat die hoofkarakter by my geen simpatie ontlok nie.

Venter is ’n fyn stilis en kan baie oorspronklik wees in sy skryfwerk, maar Wolf, wolf is die roman van die verspeelde kanse. Daar is te veel in die roman ingeskryf. Daar is te min oor sekere noodsaaklike aspekte – en dis jammer.

(Ns: Nadat ek die resensie voltooi het, het ek Izak de Vries se resensie-essay gelees. My bespreking is ’n teenvoeter vir sy oorwegend positiewe resensie van dié roman. Selfs sy uitgebreide verduideliking van die wolfmotief oortuig my nog nie dat ek my vraag moet wysig nie.)

 


Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.  

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top