Remona Voges praat met Carina Stander oor haar boek Die Wonderwese.
Titel: Die Wonderwese
Skrywer: Carina Stander
Uitgewer: Protea
ISBN: 9781485310136
Ek het onlangs foto’s van die bekendstellings van Die Wonderwese gesien en ek moet sê, dit het skouspelagtig gelyk! Ek was sommer jaloers dat ek dit nie self kon bywoon nie. Kan jy ’n bietjie oor die geleenthede vertel? En hoe die tema van die aand by jou boek aansluit?
“Ek glo omtrent soveel in wonderwerke as wat ek in vuurwerke glo: Mens hoef nie te verstaan hoe plofstof werk om die lig en krag daarvan te herken nie.” So word daar gepraat in Die Bergengel. Natuurlik het dit vir my soos ’n vuurwerk-wonderwerk gevoel toe die bestuurderes van die eeu oue Kleinkaap-boektiekhotel in Pretoria my uit die bloute nader gewink het vir ’n Wonderwese-boekpartytjie. Want sien, wat sy nie geweet het nie, wat niemand behalwe my man geweet het nie, is dat Kleinkaap die enigste venue in die wye Gauteng is wat ek ses maande tevore gegoogle het met die oog op ’n boekbekendstelling! Ek het die webwerf nog vir Gerrit gewys met ’n: “Kyk dié plek! ’n Geskiedkundige ou huis, bome vol liggies. Dit lyk soos ’n toneel uit my boek." Ek het Kleinkaap egter nie gekontak nie, omdat ek eers doodseker wou maak van my publikasiedatum. Toe hulle my vanjaar uit hulle eie nooi, het ek eers versigtig-verbaas probeer uitvis of hulle perdalks kon sien dat ek die webwerf ses maande tevore besoek het. Nie ’n manier nie, het die vasvattter-bestuurderes gelag. Ek het nie ’n televisie nie, maar Kleinkaap is glo waar die program Hotel verfilm word en daar is gereeld musiekoptredes. Sy het die verskillende dele van die venue met my bespreek, maar voordat ek kon vertel van die boomreuse met liggies op hulle webwerf waarvan ek so baie hou, vonkpos sy vir my ’n foto: “Ek het nog nie jou boeke gelees nie, maar ek dink dit sal by die bome pas.” Sy het uitgevra oor die boekkarakters en toe sy hoor die groot skurk is ’n steltstapper en vuurblaser, het sy summier ’n steltstapper en ’n vuurblaser vir die bekendstellingsaand gereël.
Die eienares van Kleinkaap het glo voor die tyd Die Wonderwese vir haar personeel gegee om te lees, sodat hulle die atmosfeer van die storie kon vasvang vir die aand – van die bebaarde handyman wat die koperpotte en feetjieligte gehang het tot die event manager (haar werkbeskrywing is “miracle worker”). Die sjef het wragtiewaar gewone bestanddele gebruik om die vreemde disse uit my boek vir die gaste op te tower: gekookte skilpadeiers, pou toegedraai in spek, takboktong-geweek-in-wyn. Dit alles is met aanhalings uit die boek voorgesit, sodat die gaste kon weet waar in die storie hulle hulle bevind. Kleinkaap het uitgevind na watter musiek ek geluister het terwyl ek aan Die Bergengel en Die Wonderwese geskryf het en dit oor die luidsprekers gespeel. Die kelners en kelnerinne se gesigte is geverf om by die Steampunk-era te pas. Van die honderdtal gaste (wat te midde van November se swetterjoel funksies en eksamens hulle weg kon oopsien om saam te fees) het aangetrek soos karakter uit my boeke en daar was vlerke, skermbrille, hoede, korsette, beblomde rokke, tjalies, mantels, staalarms en veremaskers. Een boekklub van Pretoria het dit sommer hulle afskeidsfunksie van die jaar gemaak en ’n ander boekklub het 300 km van die Bosveld af gery om te kom saamspeel. Iemand het vir my ’n botteltjie walvistraan present gegee, iemand anders ’n ring wat soos ’n blaar lyk. Die onderhoud met vriend en filmman Matthys Boshoff was meer soos ’n rustige rusbankkuier. Dit was lag-lag een van die spesiaalste aande van my lewe saam met die feestelike lesers.
In Desember het ek nog drie boekbekendstellings gehou: by ’n boekklub in die Bosveld, in ’n wonderlike kunsgalery op die Tuinroete en in ’n ou kerkie in die Kaap. Wat ’n voorreg om in Gordonsbaai se historiese kerkie op te tree saam met die begaafde Joshua na die Reën. Al het ons mekaar nog net een keer tevore vinnig ontmoet, jare tevore, was dit ’n ou droom om saam ’n projek aan te pak, aangesien ons werk op soveel vlakke oorvleuel. Sy broer het my inksketse van tonele uit Die Bergengel en Die Wonderwese enorm groot geprojekteer teen die muur van die kerkie terwyl ek twaalf gedeeltes uit my boeke voorlees en hy twaalf liede sing. Van die mense het ook aangetrek soos karakters uit die boeke. Die vrou wat die konsert georganiseer het, het my verras met ’n takkroon vol vogeltjies wat sy vir die aand gemaak het en vere vir my skouers. Vir Jacques het sy ’n mantel met geborduurde swaeltjies gemaak soos wat die digter Anav Elanov in Die Wonderwese dra. Toe die kragonderbreking ons tref (en voordat die kragopwekker aangeskakel is) het Jacques in die donker voor die klavier ingeskuif en gesing dat sy stem deur die donker kerkie weergalm. Dit was een van daardie oomblikke wanneer die alledaagse toweragtig voel. ’n Aand musiek en woord, berg en see, siel en gees, volmaan en wind. Magic!
Die Wonderwese is al deur resensente beskryf as van die beste fantasieliteratuur in Afrikaans. Dit is ’n groot pluimpie! Baie geluk daarmee. Was jy nog altyd geïnteresseerd in hierdie genre? En uit watter skrywers se werk put jy die meeste inspirasie?
Baie dankie – ek het groot waardering vir die pluimpie. Toe lesers Die Bergengel vir die eerste keer fantasie genoem het, het ek my egter disnis geskrik: Ek het nooit kon raai dat my werklikheidsbelewenis vir ander mense soos fantasie klink nie! 🙂 Ek moet bieg dat ek geen kenner van die fantastiegenre is nie. My leeservaring wat fantasie betref, is beperk tot Narnia, The inheritance cycle en The Lord of the Rings – en dit alles het ek gelees eers nadat ek reeds ’n paar jaar besig was met die skryf van die trilogie. Dat daar in resensies ’n verband getrek word tussen my trilogie en dié van Tolkien, is ’n enorme kompliment wat ek hoop om eendag werd te wees. Tolkien skryf met ’n liriese stembuiging; hy ontgin sekere oerbeginsels. Maar anders as met sy suiwer fantasie, is daar geen elwe, trolle of drake in Die Bergengel nie, en eers in Die Wonderwese maak ’n ewigheidswese haar verskyning. ’n Fantasie-avontuur soos Life of Pi van Yann Martel waarin die jong held ’n epiese reis onderneem, The alchemist van Paulo Coelho wat neig na magiese realisme of ’n reismistiek en verhalende gedig soos Dante se Heilige Komedie het die begeerte in my wakker geroep om ’n hoofkarakter op ’n lang reis te stuur. My grootste inspirasie vir die trilogie kom egter nie uit die letterkunde nie, maar uit my dagboekinskrywings tydens reise op die bergreekse van twee dosyn lande. Op ’n tegniese vlak streef ek na die digterlike prosa van Anne Micheals (Fugitive pieces) of Sigrid Undset se verstommende Kristin Lavransdatter, wat ook in drie dele vertel is en van ’n geskiedkundige tydsgleuf gebruik maak. Fantasie, allegorie, spekulatiewe fiksie, magiese realisme, faerie bildungsroman, liriese prosa? Ek is gewillig om dit alles met ope arms te aanvaar indien dit lesers help om ’n vashouplek in my vreemde werklikheid te vind.
Jy is ook ’n digter. As jy móét kies: Verkies jy om poësie of prosa te skryf? En hoekom? En beïnvloed die feit dat jy gedigte skryf ook jou prosaskryfstyl?
Van my heel vroegste indrukke as kind was ingekleur deur metafore. Die digterlike sintuig bepaal alles wat ek skep; alles vloei daaruit. Dat Die Bergengel-trilogie ’n allegorie is, is waar. Dat ’n allegorie ’n uitgebreide metafoor is, is ook waar. So gesien, is die trilogie een baie lang verhalende gedig.
Kan jy ons ’n bietjie oor die Wonderwese vertel? Wie of wat is dit presies?
Sal jy my vergewe as ek die boek se voorwoord aanhaal?
“Vanaf die vroegste tye verlang die mens na ’n tydlose staat waar verlede, hede en toekoms versmelt. In die soeke na dié bo-tyd-ruimtelikheid is daar dikwels ’n bewuswording van die ewigheid, en ewigheidswesens soos engele, meerminne, drake en duiwels maak hul verskyning in petrogliewe en volksverhale regoor die wêreld. Sekerlik een van die mees ontwykende ewigheidswesens is die Wonderwese van die Gabriëlliese mitologie. Volgens mondelinge oorlewering en opskrywings in Die Boek van Bergengele is die Wonderwese slegs sigbaar vir dié met ’n sogenaamde gawe van ‘helder sienkrag’, daarom staan dié wese in algemene spreektaal ook bekend as die deursigtige Teenwoordigheid of die Fladdering. In Bagterstam se Leksikon word ‘Wonderwese’ as volg toegelig: oervlerceia [urflærsia] snw (1) in Gabriëlliese opskrywings die geskenk van die Helder Een aan die eerste Bergengel, die Heilige Jared (2) ’n vrylewende voëltjie wat deur die eeue oorgedra is van Bergengel na Bergengel, maar slegs twee of drie keer in ’n Bergengelbewind van twintig jaar verskyn (3) die mistieke verteenwoordiger van die Helder Een wie se nabyheid tot oerheimlike vermoëns en verstommende wonders lei.
“Gedurende die ampstermyn van elke Bergengel wat ooit die land Gabriëllië gedien het, was daar lewensgevaarlike situasies waarin geen lewenslesse van die Geseëndes en geen natuurlike gawes of talente ’n Bergengel van die dood kon red nie. In sulke tye het die Wonderwese verskyn, waterskeidingsoomblikke wat later in die geskiedenis bekend sou staan as mîkal’lî, oftewel suiwer mirakels.”
Die boek vorm deel van ’n trilogie waarvan Die Bergengel die eerste boek is. Vir diegene wat ’n eksemplaar van Die Wonderwese in hul Kerskous gehad het, maar nog nie die eerste boek gelees het nie: Het ’n mens nodig om die boeke in volgorde te lees of funksioneer Die Wonderwese ook selfstandig?
Die Wonderwese staan op eie voet, maar die leesplesier sal beslis groter wees as jy verstaan waar die hoofkarakter Eron Verberger vanaand kom. Hy ondergaan so ’n geweldige karakterontwikkeling, dis byna ’n karakteromwenteling tussen boek een en boek twee.
Hoe gaan ’n mens met die skryf van ’n trilogie te werk en hoe besluit mens om ’n verhaal uiteindelik in dele te vertel? Weet jy al vooraf hoe die verhaal gaan verloop of ontvou dit soos wat jy daaraan skryf? Voor watter uitdagings en beperkings kom mens te staan? Of sou jy sê dat ’n mens met die skryf van ’n trilogie eintlik meer vryheid tydens die skryfproses het?
Toe ek so halfpad met Die Bergengel was, het ek besef die verhaal is te wydreikend om in een boek te vertel en dat ek dit oor drie boeke sal moet uitsprei. Ek het toe die verhaallyn tot in die fynste besonderhede uitgewerk en aan my redakteur gestuur, waarna ek die addendum tot my kontrak met die uitgewer onderteken het waarin ek beloof om drie boeke te lewer. Jy vra oor die uitdagings? Om stamina te behou, want die boeke in die reeks volg vinnig op mekaar, hoogstens 2,5 jaar, dus is daar nie rustyd nie. Die groter uitdaging is om finansieel te oorleef terwyl ek heeltyds boekskryf. In die verlede het ek vir minstens ’n jaar lank joernalistieke werk gedoen of kuns gemaak om sodoende vir myself tyd vir boekskryf te kon loskoop, maar met die trilogie is daar eenvoudig nie tyd vir ander werk nie. Oor jou vraag oor of mens meer vryheid tydens die skryfproses van ’n trilogie het? Nee. Ek het my tyd geneem om die verhaallyn sedert 2002 te deurdink en sedert 2016 met my boekeredakteur te bespreek. As ek eers weet in watter rigting ek ’n storie wil laat vloei, vat dit omtrent ’n aardbewing om my anders te oortuig – maar ek ís oop vir oortuiging. Karakters kan lekker eiewillig wees.
Jou vertelstyl is baie beeldend en beskrywend. Jy is inderdaad ook ’n visuele kunstenaar – ’n eienskap wat moontlik tot jou treffende visuele waarnemings bydra. Die kunswerk op die voorblad van Die Wondewese is ook een van jou eie. Kan jy ’n bietjie meer oor jou kunsagtergrond vertel? Wat het eerste gekom: om te skryf of te skilder? En van watter medium maak jy die graagste gebruik in jou kunswerke?
Ek het van kindsbeen af geweet dat ek albei wil doen – kuns en skryf. Ek het eers my honneursgraad in visuele kuns by Tuks voltooi voordat ek die meestersgraad in kreatiewe skryfwerk by Ikeys aangedurf het. Al was my nagraads in beeldhou, het ek die afgelope jare aan tekenkuns gewy. Dis minder tydrowend as beeldhou (siende dat ek ’n ma van twee seuns is) en konseptueel pas ink op papier goed by skryf. Ek is ontsaglik dankbaar vir uitgewers wat my die vryheid gun om self my voorblaaie te teken. Die voorblaaie van albei my digbundels en die trilogie is my eie kuns.
Wie is van jou gunsteling- visuele kunstenaars? En wat is van die interessantste kuns wat jy al in lewende lywe gesien het?
Toe ek 19 jaar oud was, het ek in die skrootwerwe van Pretoria gaan rondkrap vir afvalmetaal waaruit ek bronsbeelde kon giet. Met die geld wat ek uit die bronsbeelde verdien het, het ek vir drie weke deur Duitsland gereis – my eerste oorsese reis. In München het ek vir die eerste keer die werk van die surrealis Rene Magritte in lewende lywe aanskou, en veral sy beeldhouwerk was vir my pragtig.
Die kunstenaars wie se werk my die meeste ontroer, werk almal met die verhalende. Hulle werk is grepe uit langvergete verhale, of soms skep hulle ’n eie mitologie of simboletaal, ’n droomsfeer. My gunsteling- Suid-Afrikaanse kunstenaar het toevallig saam met my by Tuks studeer – die skilder Angela Banks. Ek is aangetrokke tot die magiese realisme van skilders soos Andrea Kowch wat die skoonheid en waansin van plattelandse Amerika uitbeeld, of Brad Kunkle, wie se werk ’n spirituele ondertoon het. Ook die Vlaamse skilder Eddy Stevens. Al vier hierdie kunstenaars se werk het tematies sterk ooreenkomste met my skryfwerk: die spel tussen natuur en bonatuur, onheil en onskuld, wakker en slaap, mens en dier, werklikheid en bowerklikheid.
Wat baie lesers miskien nie weet nie, is dat jy vir Die Bergengel en Die Wonderwese gelyknamige kunsuitstallings gehou het. Kan jy ons van jou onlangse uitstalling by die Knyna Fine Arts Gallery vertel?
Deur die jare het ek elk van my digbundels en romans met ’n kunsuitstalling bekendgestel – ’n visueelmaking van karakters en tonele uit die boeke. Vir my digdebuut, die vloedbos sal weer vlieg, het ek ’n private uitstalling gehou. Die tweede digbundel, woud van nege en negentig vlerke, se meegaande kuns is uitgestal by die Breytenbachsentrum. My eerstelingroman, Wildvreemd, is bekendgestel by Signature Gallery in Pretoria en by Lanzerac in Stellenbosch. Die Bergengel by Tina Skukan-galery in Pretoria en die Breytenbachsentrum. Ek voel baie bevoorreg om my Wonderwese-kunsuitstalling by Knysna Fine Arts Gallery te kon hou. Dis ’n praggalery wat behoort aan ’n doyen in die kunsbedryf, Trent Read. Die bekwame kurator Corlie de Kock is aan die stuur. Ek het 27 splinternuwe inksketse op Fabriano-papier uitgestal en die titels was aanhalings uit die boek. Vroeg in 2020 gaan ek, soos met my vorige uitstalling, ’n baie beperkte uitgawe van twaalf afdrukke per inkskets maak en via Facebook verkwansel. Sodoende kan ek hopelik my gebotterde broodjie koop terwyl ek aan die laaste boek in die trilogie, Die Waterplek, skryf.