Sit die skrikbewind van boelies stop

  • 5

boelie650

jean_oosthuizen_200x200

Jean Oosthuizen

Die skade aan mense wat op skool geboelie word, is onberekenbaar, veral as hulle dit in stilte en in die geheim dra. Die rede vir stilswye is dikwels die skaamte en vernedering wat hulle ervaar en minderwaardig laat voel. Om dan boonop teenoor ander te bely jy word geboelie, bevestig net hoe ongewild en onaanvaarbaar jy is en versterk die vernedering. Jean Oosthuizen het met ’n sielkundige hieroor gesels en ook by iemand wat as kind op skool geboelie is, gaan kers opsteek.

Elize Morkel, ’n kliniese sielkundige van Somerset-Wes, sê dit kan vergelyk word met vroue wat binne verhoudings mishandel word en vir wie dit baie moeilik is om daaroor te praat. “Mens word natuurlik nie altyd geglo nie en die kanse is goed dat grootmense met wie jy praat, jou verder sal verneder en shame!”

Hancke van Blerk, ’n NG dominee van Piet Retief, is een van talle mense wat as kind onder skoolboelies deurgeloop het. Sy laerskooljare op Steynsrus, waar sy pa onderwys gegee het, was gelukkige jare. Hulle het egter besluit om hom vir sy hoërskooljare na 'n buurdorp te stuur sodat hy saam met sy rugby ook krieket kon speel.

elizemorkel250

Elize Morkel

“Ek was reeds ingeskryf om standerd 6 aan Paul Erasmus Hoërskool op Senekal te begin. Aan die einde van my standerd 5-jaar het daar egter 'n berig in die Volksblad verskyn rakende 'n standerd 6-seun van daardie skool wat erg deur 'n matriekseun geboelie is.”

Sy ouers het besluit om hom liewer na die Afrikaanse hoërskool op Kroonstad te stuur. Dit was 'n baie goeie skool, vertel Hancke, maar die tweede dwaling was groter as die eerste. “Ek het in die koshuis gebly, met Antjie Krog se een broer as een van my drie kamermaats.”

Die ontgroening was hard, maar hy het dit baie goed hanteer. “Al wat sleg was, was die bottelstuk wat een aand in my voet gesteek het.”

Na die ontgroening het die probleme egter begin. “Een van die matrieks, wat ook 'n koshuisprefek was, het sonder enige rede 'n oog op my gehad. Hy het daagliks tydens die stiltetyd voor studietyd in ons kamer ingekom en my "hoenderkos" gegee deur my met sy kneukels baie hard op die bors te slaan. Later het my bors soos 'n reënboog gelyk: vandag se merke was rooi, gister s'n blou, eergister s'n groen en die ander dae s'n geel, en so het dit aangehou.

“Hy het ook ander erge dinge gedoen, soos die keer toe hy my mond met 'n koekie seep oopgeforseer het. Ek het my tande probeer toekners, maar moes later meegee. Die koekie seep het gelukkig aan die bopunt van my keel vasgesteek, anders het ek verstik of versmoor. Hy het niks aan Antjie se broer gedoen nie, want hulle ander broer was ook in matriek en 'n koshuisprefek.”

Maar die emosionele teistering was vir hom die ergste, sê Hancke. Maandae het die boelie al sy eetgoed wat hy van die huis af gebring het, gekonfiskeer en die laaste stukkies in die gang af geadverteer en uitgedeel. “Hy het ook baie van my besittings gebreek. Snags het ek probeer wakker bly omdat ek vreesbevange was vir elke nuwe dag. Uiteindelik het ek nooit krieket gespeel nie, want dit sou beteken ek moes naweke inbly vir wedstryde en ek het nie daarvoor kans gesien nie.”

As sielkundige beaam Elize die erns van emosionele teistering. “Bullebakkery is nie noodwendig fisies nie,” sê sy. Kinders kan ook verbaal geboelie word. Dit is veral meisies wat hulle skuldig maak aan die geweld van die tong! Sulke boelies skep ’n sieklike behae daarin om sweepslae met hul tonge uit te deel en veral teruggetrokke kinders aanhoudend te verneder wat hulself nie verbaal (met hul monde) kan verdedig nie.

Hancke se ouers was salig onbewus daarvan dat hulle seun geboelie word. “Ek wou hulle nie daarvan vertel nie omdat ek macho wou wees en nie soos ’n ‘sissie’ by ‘Mammie’ wou kla nie.”

Dit is belangrik dat kinders wat geboelie word, met ’n grootmens wat hulle kan vertrou, praat oor hul ervaring en hulp vra, sê Elize.

Uiteindelik het Hancke se hulp uit ‘n onverwagse oord gekom. Hulle buurman op die plaas was ’n jong boer en sy vrou by wie hy gereeld gaan kuier het. Hulle was vir hom soos ’n ouer broer en suster.

Die boer het gou agterkom iets hinder Hancke en hom aangemoedig om daaroor te praat. “Ek het dit gedoen, maar eers nadat hy belowe het om dit vir niemand te vertel nie.”

Gelukkig het die boer die erns van die situasie besef en Hancke se ouers daarvan verwittig. Hulle het die koshuisvader gebel. “Dié het die boelie oor die interkom ontbied terwyl ons ander koshuisinwoners in die studiesaal gestudeer het en hom ’n pak slae gegee.

hanckevanblerk250

Hancke van Blerk

“Hoewel hy nooit weer aan my geraak het nie, het sy nieverbale teistering al hoe erger geword. Hy het ook sy agente aangestel om situasies te fabriseer waarin ek kwansuis koshuisreëls oortree het en na die koshuishoofseun geneem is wat my met die rottang verder bygekom het.”

Aan die einde van die tweede kwartaal is hy daar weg en sy tuisdorp se skool het hom met ope arms terugverwelkom. Hancke sê dit was een van die beste besluite van sy lewe.

Daar word wyd bespiegel waarom sekere kinders boelies word en of mense wat op skool geboelie word, geneig is om in hulle later lewe ook boelies te word.

Elize sê sy twyfel of dit ’n aangebore eienskap is. “My vermoede is dat dit veel meer te doen het met ons kultuur wat so individualisties, kompeterend en hiërargies is! As feminis kyk ek na die samelewing deur die kritiese lense van patriargie, waar oorheersing, hiërargie, onderdrukking van dié wat swakker is en die verdeling van mense met etikette van wie in en uit is, ’n baie sterk rol speel.”

Hancke sê al was hy self die slagoffer van boelies, sal sulke gedrag nooit in sy omgewing gedy nie. “Hulle sê iemand wat geboelie is, word dikwels self 'n boelie. In my geval het dit gelukkig nie gebeur nie. Inteendeel, ek het 'n kampvegter geword vir mense wat geboelie word. Baie mense is al deur my toedoen uit haglike omstandighede bevry! Dit is seker maar 'n soort terapie wat ek nog steeds ondergaan.”

Sy raad aan enigiemand wat geboelie word, is:

  • Moenie jouself bejammer nie, maar moet ook nie macho probeer wees nie.
  • Moenie 'n "victim" wees nie; wees 'n "victor".
  • Daardie episode het my op die lang duur onverskrokke gemaak. Vandag skrik ek vir niemand nie. Ek is egter nie 'n aggressiewe mens nie, maar handhaaf die onderskeid tussen "sag" en "slap".
  • Moenie stilbly nie. Jy het 'n mond en tong gekry om jou mee te beskerm. Moenie dadelik na die hoogste persoon toe gaan nie, maar gaan kla hoog genoeg op sodat latere viktimisering gemonitor kan word. As die skoolhoof die naam van sy skool belangriker ag as die veiligheid van 'n individu, moet hy ontbloot word.

As dit enigsins moontlik is, behoort boelies in spanverband aangepak te word, voeg Hancke by. “Die boelie en sy meelopers moet weet dat daar oral oë is wat hulle nuwe (en meer koverte) metodes sal dophou, anders gaan hulle net agter die skerms aan met hulle boelietaktiek.”

Maar hoe lyk ’n tipiese skoolboelie en waar kom sulke gedrag vandaan? Elize sê sy weet nie of daar regtig ’n etiket is wat almal pas wat hulself aan boeliegedrag skuldig maak nie. “Wat ek wel ervaar, is dat sommige kinders sukkel met ontwikkelingstoornisse. Dit maak hulle soms impulsief, hiperaktief, bietjie rof en tas-sensitief. Sulke kinders kan maklik geneig wees om sosiale situasies verkeerd te lees en te oorreageer of ontoepaslik op te tree. Gou-gou kry hulle dan die naam “boelie” en word die teiken van ander se onverdraagsaamheid of alle skuld vir verkeerde gedrag op hulle gepak. Ander kinders het swak rolmodelle tuis wat betref die hantering van frustrasie en woede. Dit maak hulle onverdraagsaam en maklik geneig tot woede-uitbarstings.

Die sogenaamde tropsindroom kan boeliegedrag vererger. Soms opereer boelies in groepies (klieks of gangs) en dit word ’n tipe magspeletjie waar die groepie ander uitsluit en oor hulle skinder of teiken vir opmerkings of selfs fisieke afknouery. Binne die huisgesin en kultuur is die onverdraagsaamheid vir verskille teenoor diegene wat anders is (of op maniere nie inpas en konformeer aan norme nie), dikwels die sneller tot boeliegedrag. Kinders wat emosioneel afgeskeep word, kan soms ook in boelies ontaard om hulself te handhaaf of as magsvertoon uitdrukking te gee aan hulle eie emosionele ontwrigting en pyn.”

Sulke gedrag is nie beperk tot sekere skole of lae van die bevolking nie, sê Elize. Dit kom in alle skole en lae van die samelewing voor. “Ons moet onthou dat boeliegedrag gewelddadige gedrag is. Dit is deel van die probleem wat ons samelewing het met geweld. Ek was verstom toe ek jare gelede met ’n groepie graad 6-seuns gewerk het. Hulle het gewelddadige TV-reekse gekyk, geweldsrekenaarspeletjies gespeel en ure se genot daaruit geput om vir my die stories van geweld te vertel sonder om ’n oog te knip! Daar in ons groepie het hulle mekaar afgeknou – so speel-speel asof dit maar aanvaarbare seunsgedrag is! Ek dink geweld word ook aangemoedig met die manier waarop ons soms met vuurwapens en ‘sport’ soos jag, en selfs met spansport soos rugby omgaan.”

Haar raad aan ouers wat agterkom hulle kind word geboelie, is om so gou moontlik professionele hulp te kry. “Gaan rapporteer dit by die skool. Skole is vandag baie meer bewus daarvan dat boeliegedrag eintlik geweld is en dat iets daaraan gedoen moet word. Die outydse patriargale manier was en is dikwels steeds net om op die slagoffers te fokus en hulle vir korrektiewe opleiding te stuur in plaas daarvan om aandag aan die kern van die probleem, naamlik die boeliegedrag, te gee.” Elize sê dit is byna soos ouers wat veral hulle seuns leer om net harder terug te slaan of om hul man te leer staan.

Sy glo ook aan gemeenskapsingryping. Dit behels ’n etos waar skole regtig ’n nul-toleransie-benadering het teenoor boeliegedrag. Ongelukkig is daar ook sommige onderwysers wat hulle, net soos sommige ouers, skuldig maak aan geweld met die tong. “Dit is waar mens die kultuur moet begin verander. Daar moet gereeld met kinders gepraat word oor respekvolle optrede, oor wat hul regte is, oor hoe ons met mekaar praat wanneer ons kwaad of te na gekom voel. Verdraagsaamheid en insluiting van almal behoort gemoduleer en geleer te word. Rassisme, homofobie, xenofobie, klassisme, akademiese en intellektuele elitisme en klassisme is springlewendig in ons groter samelewing. Die geweld wat kinders teenoor ander kinders doen, is maar net ’n weerspieëling van dit wat in die groter samelewing gebeur.”

Kinders moet van kleins af leer dat hulle besliste regte het. “Toe my seun so ses jaar oud was, het hy ná ’n sokkeroefening vir die afrigter gesê hy is bekommerd oor die manier waarop hy met die een speler gepraat het, want hy weet nie of die afrigter besef daar is wette wat kinders beskerm nie en hy kan in groot moeilikheid kom!”

Die kultuur wat Elize by skole en die groter samelewing wil aanmoedig, is om kinders te leer dat mense vir mekaar instaan, mekaar beskerm en hulle oor mekaar moet ontferm. “Dat randfigure ‘uitkyk-aunties’ vir mekaar sal wees soos Rachel Greeff in die toneelstuk Rondomskrik verwys na grootmense wat vir kinders in die bresse tree. Kinders kan so baie vir mekaar beteken. Dis die soort kultuur wat bevorder moet word in plaas van die een van kompetisie, hiërargie, prestasie en oorlewing van die sterkste!”

Die geweldige klem op sportprestasie moedig volgens haar ook ’n boeliekultuur aan, want sportsterre word verafgod en kan soms met moord wegkom. Hulle is selde die slagoffers van boelie.

Sy sê dit is belangrik dat ouers nie impulsief optree as hulle agterkom hulle kind word geboelie nie. “Kinders se grootste vrees is dikwels dat hul ouers gaan oorreageer en so nog meer aandag op hulle vestig en die probleem net vererger. Ouers moenie te haastig wees met beskuldiging van ander kinders nie. Maak liewer ’n afspraak met die skoolhoof of ander ouers en gaan sit rustig en gesels daaroor.”

Baie ouers weier om te erken hulle kinders is boelies. Moenie die kinders etiketteer nie en probeer liewer die gedrag identifiseer en benoem, is Elize se raad uit ’n sielkundige oogpunt. Sodoende behou kinders wat hulle skuldig maak aan boeliegedrag hul waardigheid en kan hulle verantwoordelikheid neem vir die gedrag sonder dat hulle totale menswees geëtiketteer en geïmpliseer is.

Ouers wat uitvind hulle kinders is boelies, moet ook nie in die strik trap om geweld met verdere geweld te beantwoord deur die kind ’n pak slae te gee nie. Liefdevolle, toegewyde begeleiding is nodig. Praat oor die gedrag, verduidelik waarom dit onaanvaarbaar is en wat die implikasies daarvan vir die ander kind inhou. Probeer om empatie en begrip teenoor die slagoffer by die boelie tuis te bring.

  • 5

Kommentaar

  • My kleinseun in Graad 4 is gister deur twee boelies op die skoolgrond bygedam. Die een kind het hom vasgehou terwyl die ander een hom geskop en geslaan het. Die oortreding: My kleinseun het deur die sproeier op die grasperk gehardloop. Sy boetie in Graad 1 moes hom optel van die grond af. Tot nou toe het geen personeellid of die Hoof dit aangemeld nie. My skoondogter het die een seun se ma geskakel (die seun is nie vandag skool toe nie) terwyl sy gesmeek het dat hulle nie Polisie toe moet gaan nie. Dit was die outjie wat my kleinseun vasgehou het se ma. Ek voel die seun wie vasgehou het kon weghardloop en 'n onderwyser gaan roep het. Ongelukkig is my kleinseun kleinerig gebou maar rateltaai, maar hy is tans siekerig en ek voel net dis nie reg nie. My seun en skoondogter is vas van plan om wel 'n saak te gaan maak want dis nie die eerste keer wat hy en sy boetie in Graad 1 aangeval word nie. Die seun wie geslaan het, se ouers is skatryk en doen gunsies vir die skool. Moet mens nou hierin lees dat dit reg is solank jy ryk is? Nee, hy is 10 jaar oud en behoort te weet wat reg en wat verkeerd is. As hy 'n 'oortreding' gesien het, kon hy dit gaan rapporteer het, maar hy het my kleinseun uitgekies en 'n ander kind geïntimideer om hom vas te hou terwyl hy geslaan en geskop het. Basta met mooipratery - daar is net een ding en dis 'n goeie pak slae en 'n polisiesaak want oor 4 jaar eskaleer die probleem en hy kan dalk 'n mes saambring skool toe. Belhamels wat op hul ouers se 'geldrug' ry, moet summier geskors word!

  • My kind is in Graad 3. Sy is 'n wonderlike skaakspeler, het ook reeds SA kleure. Die afrigter (onderwyseres) by die skool is egter van mening dat sy nie kans sien vir 'Grandmasters" en is daarom nie welkom in haar klas of spanne nie. Toe ek dit met die skool opneem was hulle kommentaar bloot dat hulle nie van haar gaan ontslae raak nie. Die afrigter het voortgegaan deur die hele jaar deur ander kinders op te steek teen die kinders van wie sy nie hou nie. Sy het sekere kinders afgeskuif uit spanne uit. Sy het hulle op 'n meriete-aand op die verhoog uitgesonder as 'n reserwe. 'n Spog-aand word toe 'n tranedal. My kind het soveel stres ervaar van als wat sy gedoen en gesê het dat sy aan die einde van die 3de kwartaal met 'n maagseer gediagnoseer is. Sy het die kind uit die SA Span geboelie sodat sy gevoel het dat sy net nie meer kans sien om te speel vir die span nie. Die probleem hier is dat die skool die onderwyser se kant neem, en as jy as ouer iets durf sê word dit verder op jou kind uitgehaal.

  • My dogter is nou in gr 7 en my seun in gr 1. My dogter word nou al 3 jaar lank by die laerskool geboelie. Ek het al met die onderwyser gaan praat en daarna met die hoof, dit het niks opgelewer nie, die geboelie het net erger geword. Sy word name genoem, haar toebroodjies word uit haar tas gehaal en op die stoepe gegooi en op getrap. Sy het netbal die jaar gespeel maar hulle het haar geteister tot sy die netbal gelos het. My seun se kosblik met sy toebroodjies daarin word stukkend getrap dan moet hy sonder lunch bly. Hy word gestamp dat hy sy arms stukkend val, hy word geskop dat sy bene blou is. Hy het Woensdag gekla dat sy maag seer is nadat die een seun hom in sy maag geskop het. My dogter is permanent siek om nie skool toe te gaan nie. My seun huil die hele tyd, van skool wil hy niks weet nie. Die skool doen niks daaromtrent nie. Waar kan ek hulp kry vir my kinders en om die skool te kry om op te tree?

  • Hi
    Is daar nie Afrikaanse storieboekke vir kinders om te lees oor boelies nie? Ek kry baie Engelse boeke maar niks in Afrikaans nie.

    Dankie
    Chantel

  • Goeiedag,
    Ek sit met dieselfde probleem - enigste probleem is daar word foto's in my dogter se skool rondgestuur, met die vieslikste byskrifte. Die hoof sê ek moet dit ignoreer en delete en sy moet al die kinders blok op WhatsApp ens.
    Wat staan my te doen?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top