Seisoen van sonde: ’n jukstaposisie van lig en donker

  • 0

Titel: Seisoen van sonde
Skrywer Chris Karsten
Uitgewer: Human & Rousseau

Klik hier en koop Seisoen van sonde nou by kalahari.net!

Daar is opeens ’n hele paar eksjoernaliste wat hulle met Afrikaanse fiksie besig hou. Die media se verlies is lesers se wins. Ek het Chris Karsten se Ware Misdaad-reeks (niefiksie) gulsig gelees en gereken dit was uiters leesbaar maar redelik sensasioneel, duidelik ’n poging om die pot aan die kook te hou. Ek was mateloos beïndruk met Frats, sy roman oor ’n slawevrou, wat verlede jaar die ATKV-Woordveertjieprys gewen het, en het besef die man kán skryf.

Met Seisoen van sonde takel hy die misdaadroman-genre. Die afgetrede wetenskaplike Wim is ’n skoenlapperboer naby Wildernis. Die leser word fassinerende happies inligting oor skoenlappers en motte gevoer. Karsten se woordgebruik verruk en begogel: “Oor millennia het die oseaan teruggetrek en ’n wye kusterras tussen berg en see agtergelaat. En het riviere uit die berge diep ravyne gevreet uit die sagte, krytagtige moddersteen en sandsteen tussen die harde Tafelbergkwartsiet.” Ons leer ook allerlei oor sekere streke van Italië, die tuisland van Wim se eksvrou, met wie hy steeds ’n erotiese verhouding het. Hoe onontbeerlik hierdie inligting vir die verloop van die verhaal is, is debatteerbaar: soms kry hierdie leser die gevoel, soos by heelparty van ons groot romansiers, dat die skrywer effens die draad verloor en homself gate uit geniet met die vaardige saamsnoer van woorde.

Besonder geslaagd is die jukstaposisie van lig en donker, goed en kwaad – daardie kontras wat so ’n belangrike bestanddeel van misdaadromans is. Wim is ’n duifie sonder gal; ’n dromer en intellektueel. Aan die anderkantste sitplek van die wipplank klou Jack, die psigopatiese reeksmoordenaar met sy verlede van liefdeloosheid en kindermishandeling, sy sadisme en fassinering met vuur. Die karakters is allesbehalwe eendimensioneel: hulle is kompleks, vol goede en kwade impulse, vol nuanse.

Wim is nie meer jonk nie en leef hoofsaaklik in sy kop, tog broei daar, benewens die gevoelens vir sy eksvrou, ook ’n aangetrokkenheid tot die forensiese patoloog Molly. Sy betrek Wim as skoenlapperkundige by die ondersoek na ’n reeksmoordenaar. Die moordenaar se "handtekening" is rare larwes wat in die monde van slagoffers toegewerk word. Spoedig beland Wim self in die visier van die moordenaar. Soos wat die verhaal boeiend voortstu, verkry ons ook kykies in die vormingsjare van die sentrale karakters.

Die leser blaai ál vinniger om. Natuurlik weet ons van meet af aan wie die moordenaar is en waarom hy moor. Die klimaks waarop die roman afstuur, is die ontmoeting tussen Wim en Jack, slagoffer en jagter, denker en dader. En natuurlik die ontknoping van stokou komplotte en onheilige gekonkel uit die apartheidsjare wat oopgeskop word.

Hierdie roman is bisar, grieselrig, vol tergende raaisels, persoonlikheid-steurings en verterende obsessies. Die moordwapen is ’n skalpel, en ironies genoeg voel dit soms asof die manuskrip plek-plek sou kon gebaat het by die genadelose skalpel van ’n deeglike redakteur. Tog is dit uiters leesbaar, met veel om die lyf. Meester Deon Meyer is nie meer die enigste Orion op die horison nie: die Afrikaanse misdaadroman is besig om spoed op te tel.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top