Rondom die braaivuur

  • 5

’n Mens hoor en lees gereeld dat daar na (aktuele) gesprekke om die braaivleisvuur verwys word en kry toe die idee om meer aandag te skenk aan dit wat bespreek word sonder om self ’n gespreksonderwerp te inisieer. Ek was vroeër vanaand om ’n verjaarsdagbraaivuur en noudat ek by die huis is, het ek die sleutelbord nadergetrek.

Ek het (min of meer in volgorde) onder andere gehoor dat:

Die rooiwyn waarmee ons afskop R397 ’n bottel is.

HZ en JZ het iets in gemeen soos:  Bedank, ek? se moer!

AB kies waar en wanneer hy sal speel en kaptein sal wees.

Donald Trump se regering “hardloop” soos wat hy ‘The Apprentice’ “gehardloop” het en dat die Demokrate nie gaan rus nie.

Toetie gevindikeer voel deur die ‘fantastiese’ oorwinning oor die Franse derde span (onthou hul 1ste span eindig derde in Sesnasies).

Die “klein outjie” van die WP en Bulle ’n Britse-en Ierse Leeu is en hy het al ’n drie (my fok man!).

Popo die ‘fan strike’ by Prasa en sê dat die Valke die diewe beskerm.

In al die staatsbeheerde maatskappye daar  ’n digte korrupsie-rookbank is en dis een van die redes vir ons resessie is.

Nr Een (volgens ’n koerant) sy buitelandse beleid gebruik het om sy eie persoonlike gewin te stu.

Ook Moody’s in die ‘mood’ is om die Reënboognasie moer toe te stuur.

Dat Afrikaaps as ’n oorspronklike Afrikataal beskou word en in een of ander fliek gebruik word wat vir ’n oorspronklik Afrikataalfliekprys genomineer is.

Dat daar met eerbied en waardering aan PG du Plessis gedink word.

En aan ou Genis.

Die Rooinekke se Ystervrou II nou soos ’n blop jellie dril.

Daar definitief ’n vrou (20jr+ sy senior) agter die Franse se Macron-man is.

Dat ons manne maar almal ’n ‘crush’ op ons slanke onderwyseressies gehad het.

Ons eintlik in ’n “Justisiokrasie” leef.

’n Watse ding, waarin?

Jy weet soos in Demokrasie, maar “regering deur die howe”.

(In ’n pak van 330ml x 8 by Checkers.)

Dat die Maluti Lager eintlik maar ’n Castle Lager is, maar nie een is nie omdat die alkohol inhoud met .2% verskil.

Almal saam stem dat volgens ons standaard die Botswana een nie ’n bier is nie, maar meer in die lyn van ’n ‘beer shandy’ en geskik vir die vrouens is om sommer uit die blikkie te drink.

Die ‘kasteeltjie’ maar die beste is.

Dit ’n slim ‘move’ van SAB is om hul kasteeltjie so te laat bevorder/bemark.

Daardie laaitjie van die Junior Springbokke (wat die rieldans uitvoer na sy skoppe) hulself teen die Engelse “ge- Morne Steyn” het deur hierdie slag nie die skop ses tot sewe minute voor die einde, binne te hou nie en hulle toe op hul eie kwartlyn moes lynstaan vanwaar twee minute later die Engelse die wendrie gedruk het.

Hulle bekend staan as die “bababokkies”, waar kom jy aan ‘Junior Springbokke’?

Die All Blacks is nog steeds ‘babyblacks’.

Die B &  I Leeus daar net kan wen met noordelike halfrond ‘refs’.

My skoonseun uiteindelik na 23 jr sy circa 1890’s Martini-Henry kon gebruik om ’n blesbok op 110m mee plat te trek.

Die biltong binnekort reg sal wees.

‘B’ ( ’n prokureur ) nadat hy ’n halwe bottel rooiwyn (syne) op die tafel laat omval vanwaar dit afrol en breek, laat blyk dat hy nog steeds die moer in is vir my swaer (hulle was groot tjomme) wat 10 jaar terug Baai toe verdwyn het sonder om enigiemand in hul kring in te lig en summier alle kontak verbreek het en of ek dalk weet hoekom.

Daar in Oos-Londen, by die Nahoonrivier, jy nog die visarend kan hoor, so amper binne-in die stad.

Toe is alles gebraai – steak, pork bangers, hoenderboude, skaaptjops, braaibroodjies (kaas, uie, tamaties en botter) en daarmee saam  ‘three bean salad’, ’n lekker tuisgemaakte aartappelslaai, en honger kinners.

(Ek wonder hoekom iemand wat ouer as 50jr is gelukgewens wil word, so ’n persoon moet eerder mee gesimpatiseer word, want elke jaar is daar ’n ander bleddie kwaal by.)

Lekker braai,  

Raed-na-Gael

NS voordat ek die ‘send’ hierbo druk lees ek weer deur en dit val my op watter meer aktuele onderwerpe geen aandag gekry het nie bv die Kaapse watertekort, die Suid-Kaapse brande, die adj min van Finansies, sy baas en vele ander. (Hoe verloop julle braai gewoonlik?)

 

  • 5

Kommentaar

  • Dit is soos ek dink meeste braaie afloop. Dit hang natuurlik af by watter pelle of familie jy kuier. Ek het skilpadbraaie (baie dop en min vleis) of normale braaie waar almal mooi by die tafel sit, daar gebid word en liggies gevat word. As jy my rooi wil laat sien, en mammie weet dit, moenie vir my sê, moet nou nie weer te veel drink nie. Pappie, dan vat ek mos. Drink dan enige iets, behalwe "battery acid". Ek sal self polonie braai, net om langs die vuur te staan en ietsie te verbruik en die land se probleme op te los.

  • hans Richardt

    Raed-na-gael, wat vir media "aktueel" is, is nie vir luisteraars of lesers nie.
    Al wat ek nie verstaan nie, is pork bangers op braai, was dit brekfis of aandete?
    Die skaaptjops, vlindersnit (butterfly) is tog die lekkerste ...
    Baie gesprekke sou gaan oor bedank vir pakket van pensioenfonds of gewoonweg aftree.
    Marcon vs Macro vs Macau? Wie neuk nog met Moslem EU?
    Duidelik het jul nie plaaslike brouers met iets soos Jan, Koos, Piet ens. nie.
    Duidelik het jul binnebraai ... Afrikaanse jappies. Wie wil nog eetlus verongeluk met SA politiek?

  • Dit wil voorkom of dit oral maar in dieselfde 'lyn' geskied. Ek sal 'n tafelgebed doen waar dit by my huis plaasvind, maar ook net wanneer dit 'n familie-geleentheid is. Waar Hans se "jappies" by is, vat ek nie die Here in die gesig nie (dis soos ek voel, ander dink en doen anders).
    Reusedwerg se "mammie" laat my gewoonlik by 'hegte geleenthede' my gang gaan, maar vat my sonder uitsondering die volgende dag wanneer dit met my soos hieronder gaan, aan:
    "Wie is dit wat sug en steun,
    rusie maak en kla,
    onnodig seerkry en bloedbelope oë het?
    Dit is dié wat tot laat sit,
    en aanhou proe en drink.
    Moenie dat die wyn jou verlei
    as dit so rooi is nie,
    so vonkel in die beker,
    en so lekker smaak nie.
    Agterna pik hy soos ‘n slang,
    spoeg hy gif soos ‘n kobra.
    Dan sien jy vreemde dinge
    en praat jy vreemde dinge.
    Dit voel of jy op die oop see lê,
    Of jy bo-op ’n seilskip se touwerk lê,
    En jy dink:
    Ek het dan nie seergekry
    toe hulle my geslaan het nie;
    ek het nie gevoel toe hulle
    my aangeval het nie !
    Dis dan, wanneer jy weer iets
    gaan soek om te drink."
    (Spr. 23 : 29 – 35)
    Dan vermoed ek sy las by, gaan haal sommer ver aan. Ek ken myself mos, ek weet mos wat ek sal sê, of hoe? Die pork bangers? Wanneer hy so lekker "crispy" is, bruin gebraai, ag man, breakfast of te not!
    Mooi loop.

  • Dit is soos jy sê. Die volgende oggend is jy vir jouself so de moer in jy kan sommer weer iets vat. As ek die manne so sien vat, dink ek aan Spreuke 31 vers 6 en 7. Daardie verskoning werk ook nie meer vir my nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top