Resensie: Porseleinskerwe deur Marié Blomerus

  • 1

Titel: Porseleinskerwe
Outeur: Marié Blomerus 
Uitgewer: Protea Boekhuis

Maré Blomerus is bekroonde digter in murg en been. Berese en belese, vol nuuskierigheid en verwondering; 87 jaar oud met ’n kop bol herinneringe. Proe die rooi sand van Namibë, vergaap jou aan die poublou van die Erongoberge en gryp na ’n vuisvol sterre.

................

’n Mens lees Marié Blomerus se Porseleinskerwe stadig. By sommige paragrawe talm ’n mens, blaai dan terug na ’n foto van die skrywer se “Oupa en Ouma Suidwes” voor in die boek vir konteks en nostalgie. By ’n volgende gedeelte gaan staan ’n mens geheel en al stil, kyk miskien ’n slag op na die skadu’s wat ook hier begin verleng oor die berge.

Die vertellings lees soos gedigte – die woorde kleurryk dog versigtig gekies, met die vermoë om beelde glashelder by ’n mens te laat opkom. Toe ek begin lees, het ek amper geen kennis gehad van Blomerus se ander skryfwerk nie, en tog het haar onderwerpe en selfs woordkeuses my toenemend herinner aan die digters Leipoldt en Keats, vir wie sy graag hierin aanhaal. Haar klem op skoonheid en op die verganklikheid maar verrukking van die lewe eggo vir my hierdie vroeëre skrywers s’n, asook ’n ander tyd.

Nadat ek klaar is met haar boek, gaan soek ek verdere inligting oor Blomerus se skryfwerk, sien dat sy eintlik meer bekend is vir haar digkuns, en vind oplaas twee van haar gedigte in Groot verseboek eerste uitgawe (2008). Waaragtig, een van dié gedigte is juis gerig aan Keats:

feit is, my liewe Keats, die soet duifie van jou en my
jeug het gevrek en ek staan maar talmend en dink
hoe “love and fame to nothingness do sink”.

Dié gedig het oorspronklik verskyn in Ithaka (1985) en verskil vir my tog opvallend van Blomerus se skryfstyl in Porseleinskerwe. Laasgenoemde is natuurlik nie ’n digbundel nie, maar eerder ’n versameling herinneringe en sketse, baie van hulle histories en uitstekend nagevors, ander treffend persoonlik. Soos in die aangehaalde gedig gaan draai sy gereeld by die soms pynlike verloop van tyd, en by die wyses waarop die geskiedenis geleidelik vervaag. Sy laat ’n mens met die bittersoet gedagte dat beide landskappe en ou lewensverhale geleidelik vervorm en verdwyn. Tog is my indruk dat die skrywer haar nie hier teen die verloop van tyd verset nie, maar eerder die skoonheid ook daarin wil herken.

Een van die heel laaste stukkies in Porseleinskerwe, “Piazza Di Spagna – Roma”, is dan ook ’n vertelling van hoe die skrywer Keats se laaste woonplek gaan besoek het, waar hy op 25 oorlede is aan tuberkulose. Ook ek kry trane in my oë wanneer Blomerus skryf: “Ek kyk na die venster en die bed en sien die kaggelrak met die klein vasie. Die niksvermoedende, vereerde roos word in die vasie gesit en ek huil sonder geluid. Die eerste maal in my lewe dat ek in ’n besienswaardige plek huil” (223).

Maar my gunstelingdele in hierdie vertelbundel wentel meestal rondom Namibië, Blomerus se geboorteland en ’n plek waarvan sy die bekoring meesterlik opwek. Aanvanklik onderstreep ek soms mooi passasies, of skryf die bladsynommer vir myself neer om daarna terug te keer; mettertyd raak my lys van mooi aanhalings egter te lank en lees ek eerder agter die lekker aan. In “Etosha” vertel sy van haar eerste besoek aan hierdie wildtuin, in 1939 – 81 jaar gelede! Hoe anders om dit tóé te beleef, voor daar ruskampe en geriewe was, in ’n tyd waarin haar pa sy geweer byderhand moes hou vir ingeval die wyfieleeu wat hulle motor agternagesit het, te suksesvol sou raak.

Later, in “Ode aan Plekname”, noem sy ’n string Namibiese plekke op wat ek versigtig herhaal, proe-proe, en waarvan ek telkens die ligging op Google Maps gaan soek. Damaraland, Transgariep,  Usakos, die Omaheke-vlaktes, Grünau ... mooi name, name met stories. Ek self het Namibië ook al liefgekry en die landskap wat Blomerus met soveel sorg oorvertel, laat my verlang daarna om dit weer te sien: “Ja, dit bekoor my, want daar staan die gemsbok heel alleen tussen die silwergrasse met die Omaruru-koppies in die agtergrond en ek weet hy voel nie alleen nie, hy ís net; die koppies is net; die silwergras is net” (134).

Blomerus vertel ook grepe uit ander se lewensverhale, van vergete Portugese ontdekkingsreisigers en Duitse setlaars; in een roerende stuk verskyn selfs briewe uit die 1920’s. Dit is ’n bederf om die eietydse taalgebruik daarin te kan meemaak – ek onthou dat een van my dosente op universiteit vertel het hoeveel doodgewone mense ’n paar dekades gelede nog talle briewe aan vriende geskryf het, briewe baie keer gepeper met aanhalings uit digters en skrywers se werk. Wat sal geskiedskrywers aanhaal wanneer hulle eendag ons verhale vertel?

’n Mens moet Porseleinskerwe rustig lees, ja. Die skrywer deel haar liefde vir die kleine en die alledaagse hier met die leser, en haar vertellings ontvou sonder haas. Dit gaan oor die sin en die vreugde wat lê in die mooi van ’n ou porseleinkoppie, in die bedrywighede van twee lagduifies, in die bonkigheid van ’n kameeldoringboom.

Blomerus se beelde wakker ’n dankbaarheid teenoor die lewe by ’n mens aan. Sy self som dit treffend op: “Nuuskierigheid, besluit ek, terwyl die boorde verbyvlieg, is nes die liefde. Dit dryf jou by die wet van gemiddeldes verby. Jy sal woestyne deurkruis, seë bevaar, selfs die hemelruim trotseer as dit moet; gehawend en voetseer daarvan afkom, maar die ver plekke en die liefde sal jou weer en weer verlei met hulle lokstemme” (187).

  • 1

Kommentaar

  • Wilhelm Schmidt

    Marie is 'n ou kennis van my van die Pretoria Skrywerskrings-dae en ons het kontak verloor oor die jare. Ek wil haar graag gelukwens met die boek se verskyning. Is daar 'n manier om haar kontakbesonderhede of telefoonnommer te bekom ?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top